Quantcast
Channel: gesondheid | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 116

Slim ma’s kies breinkos vir hul kinders

$
0
0
breinkos

Foto: Dreamstime.com

Goeiedag Susan

Ná baie jare van loopbaan-najaag is ek nou ’n tuisbly-ma met drie skoolgaande kinders, onderskeidelik 14, 10 en 6 jaar oud. Hoewel ek nog altyd probeer sorg het dat my gesin gesond eet, moet ek erken dat dit baie dae maar afskeep gegaan het. Ek was soms so moeg dat ek maar net te dankbaar was vir kitskos; enigiets om net al die magies vol te kry sodat ons kan gaan bad en gaan slaap. Maar dinge is nou anders en ek wil graag my kinders reg voed, veral omdat dit wat ’n mens eet ook ’n invloed op die brein het. Ek voel egter oorweldig deur al die inligting en weet nie waar om te begin nie.

Carolina Meyer

Hallo Carolina

Ja, ek kan nogal simpatiseer: al die inligting oor moets en moenies aangaande voeding kan nogal oorweldigend wees, veral vir mense wat graag die regte ding wil doen.

Dis waar, ja: voeding is beslis belangrik vir die werking van die brein, want sekere voedingstowwe is nodig om oordragstowwe te vervaardig. Die brein bestaan uit biljoene senuweeselle wat boodskappe heen en weer deur ons hele senuweestelsel stuur en gebruik oordragstowwe om daardie sprong tussen senuweeselle moontlik te maak. Ons algemeen bekende oordragstowwe, naamlik serotonien, dopamien en asetielkolien, speel ’n beduidende rol in ons gemoed, ons slaappatrone, ons verstandelike helderheid en ons denke.

Die deurlopende aktiwiteit van die brein vereis ’n hoë vlak van energie. Ons liggame het ’n opdrag om ons beheersentrum, ons brein, voortdurend van voldoende glukose te voorsien. Die regte voedingstowwe gee ons verstand ’n hupstootjie en help ons liggame om senuspanning en die eise van die alledaagse lewe beter te hanteer. Maar, soos jy tereg vra, wat is daardie “regte” voedingstowwe?

Omega-3-vetsure

Omega-3 is noodsaaklike vetsure en lewensbelangrik vir die ontwikkeling van die brein. Dit is “goeie” vette en gemoeid met die regulering van ons serotonienvlakke. Depressie, buierigheid en traagheid kan moontlik verbind word met ’n lae vlak van serotonien in die brein. Omega-3 verhoog ons skerpsinnigheid en ons konsentrasievermoë.

DHA is ’n vorm van omega-3 wat in olierige vis, soos salm, haring, forel, sardientjies en tuna voorkom. Vlassaad, okkerneute, olyfolie, groen blaargroente, aarbeie en avokadopere verskaf ook hoë vlakke van omega-3 aan ons dieet.

Die B-groep vitamiene

Vitamiene in die B-groep help om breinkrag te verhoog en geheue te verbeter, en om die gevolge van verstandelike uitputting en depressie te verlig.

Voedselsoorte ryk aan vitamiene B is onder meer kool, blomkool en broccoli. Vleis, eiergele en grondboontjies voorsien ook in ons behoeftes aan vitamiene B. Volgraanvoedsel is ryk aan vitamien B6, en dit speel ’n belangrike rol in die opbou van sekere senuwee-oordragstowwe. Piesangs staan ook bekend as “breinkos“ omdat dit ’n hoë vlak van vitamien B6 bevat, ’n bron van kalium is, en energie in die vorm van glukose aan die brein verskaf. Bruinrys en hawermout is goeie bronne van vitamien B6, en sommige soorte brood en graankos word aangevul met vitamien B12. Oesters is nie net ’n bron van vitamien B12 nie, maar ook ryk aan sink en yster, wat belangrike breinkos is.

Foliensuur (vitamien B9) is noodsaaklik vir die ontwikkeling van ’n baba se brein en senuweestelsel tydens swangerskap. Groen blaargroente en lewer is ryk aan foliensuur.

Proteïen en koolhidrate

Proteïen verhoog die gesonde werking van ons brein en dra by tot ons skerpsinnigheid en leervermoë. Eiers, amandels, okkerneute, vleis, sojabone, melk en ander suiwelprodukte is goeie bronne van proteïen vir die brein.

Anti-oksidante

Anti-oksidante beskerm ons brein en senuweestelsel teen die aanslag van sogenaamde “vrye radikale”. Vrye radikale is molekules wat selle beskadig en veroudering versnel. Anti-oksidante dra ook by tot verbeterde geheue en verhoogde kognitiewe vermoë.

Voedselsoorte ryk aan anti-oksidante sluit spinasie, tamaties, broccoli, aarbeie, rosyntjies, pruime, pekanneute, sonneblomsade, dadels, rooi stambone en kakaobone in.

Carolina, ongeag watter voedselsoorte ’n mens nuttig om energie aan jou liggaam en jou brein te verskaf, is ’n gebalanseerde dieet, bestaande uit ’n verskeidenheid voedselsoorte uit die verskillende voedselgroepe, noodsaaklik. Onthou ook daardie belangrike glas water; water is noodsaaklik vir die brein. Net soos dehidrasie van die liggaam ’n negatiewe uitwerking op liggaamsfunksies het, veroorsaak ’n gebrek aan water ook verstandelike uitputting.

Geniet dit om by jou kinders te wees, en lekker kos maak!

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan skoolkwessies@edublox.com. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en erkende skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Daar is nou reeds 25 Edublox-klinieke in Suider-Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 470 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 116