Hilda Lategan, ʼn dieetkundige van Pretoria, het by Maroela Media kom kuier om oor haar nuwe kookboek, Suid-Afrikaanse Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit, te gesels.
Hoewel mens nie noodwendig allergies is vir ʼn spesifieke kossoort nie, kan jou liggaam steeds sensitief wees vir sekere voedselgroepe, wat baie ooreenstem met ʼn allergiese reaksie. Hilda verduidelik dit as volg in haar boek:
ʼn Voedselonverdraagsaamheid is ʼn reaksie op die inname van voedsel of voedselbymiddels wat nie ʼn uitwerking op die immuunstelsel het nie. Die simptome kan wel ooreenstem met dié van ʼn allergiese reaksie. Die bloedresultate wat normaalweg vir allergiese toestande uitgevoer word, sal in so ʼn geval nie ʼn positiewe uitslag toon nie, maar die persoon ervaar nogtans siektesimptome.
Wat Hilda se resepte so suksesvol maak, is die feit dat sy almal self toets en enigiemand met ʼn stoof en yskas kan haar resepte gebruik. “Ek analiseer elke resep eers voordat ek kombuis toe gaan en dit toets. As dit nie uitwerk nie, skaaf ons weer aan die resep en gaan toets dit weer.”
Hilda sê die bestanddele wat sy gebruik is ook maklik bekombaar en die boek is juis geskryf vir Suid-Afrikaners en die produkte wat hier beskikbaar is. “Toe my eerste allergieë-boek in 1998 uitgegee is, was dit nogal moeilik om soja-melk in die hande te kry. Iets soos klappermelk was regtig ook skaars. Vandag is daar ʼn groot verskeidenheid melk op die rak beskikbaar. Mens kan regtig vandag baie meer van die bestanddele op die rakke kry.”
Vir Hilda is haar boek nie ʼn mediese handleiding nie, maar sy meen ʼn verskeidenheid simptome word veroorsaak word deur voedselsensitiwiteit en haar boek sal help om te kyk of die kos wat jy eet, nie dalk die oorsaak is nie.
Hierdie boek, sê Hilda, is nie vir “siek mense” nie, maar vir enigiemand wat gebalanseerd en lekker wil eet. Daar is ʼn verskeidenheid resepte – van voorgeregte tot nageregte, elk ook met verskillende variasies.
Besoek gerus Tafeberg se webtuiste vir meer besonderhede oor Hilda se resepteboek.