Quantcast
Channel: gesondheid | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 116

Laekoste-leefstylprogram om diabetes hok te slaan

$
0
0
Foto: Pixabay, stevepb

Foto: Pixabay, stevepb

deur Alec Basson

Volgens die Internasionale Diabetes-federasie was daar in 2015 ongeveer twee miljoen Suid-Afrikaners met diabetes, en bykans 57 318 mense het gesterf weens komplikasies wat met die siekte verband hou. Dié getalle dwing wetenskaplikes wêreldwyd om ʼn oplossing te vind en die siekte te beveg.

Een van die maniere om die siekte in veral arm of benadeelde gemeenskappe te bekamp, is deur professionele en gemeenskapsgebaseerde leefstylingryping, sê dr. Bradley Fryer, ʼn biokinetikus van Stellenbosch.

Fryer het in sy onlangse doktorsgraad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) gekyk na hoe ʼn laekoste-leefstylprogram kan help om diabetes in die Cloetesville-gemeenskap in Stellenbosch hok te slaan.

Hy sê hulle het op Cloetesville besluit omdat vorige navorsing getoon het voorvalle van diabetes is hoog in bruin gemeenskappe. Fryer wys ook daarop dat vorige studies die verband tussen ʼn laer sosio-ekonomiese status en ʼn hoër voorkoms van diabetes uitgelig het.

Fryer sê sy studie – die eerste omvattende program vir leefstylingryping in Stellenbosch en Suid-Afrika om op fisieke aktiwiteit, dieetbeplanning en psigososiale ondersteuning te fokus – het gewys dat ʼn 10 weke lange omvattende leefstylprogram die fisiologiese, sielkundige en gesondheidsverwante uitkomste in volwassenes met tipe 2-diabetes in arm of voorheen benadeelde gemeenskappe kan verbeter.

Foto: Pixabay, Tesa Photography

Foto: Pixabay, Tesa Photography

“Die studie het getoon dat ʼn holistiese en laekoste-program wat elke faset van die siekte teiken ʼn beter kans op sukses het. Dit wys ook hoe gemeenskapsgebaseerde ingryping die primêre gesondheidsorgsektor kan steun in die bestuur en voorkoming van diabetes.”

Altesaam 43 mans en vroue tussen 33 en 80 jaar het die program voltooi. Die program het bestaan uit 30 oefensessies met ʼn geregistreerde biokinetikus, 10 motiveringsonderhoud-sessies (een keer per week) met ʼn opgeleide gemeenskapsielkundige en 10 dieetberadingsessies met ʼn geregistreerde dieetkundige.

Deelnemers het drie keer per week vir ʼn uur geoefen en een keer per week ʼn dieetkundige geraadpleeg om hulle te help om gesond te eet. In bykans al die oefeninge (trapklim, muur-opstote, touspring) het hulle hul eie liggaamsgewig gebruik en ook op funksionele bewegings gefokus om hul aërobiese fiksheid, krag en soepelheid te verbeter. Die motiveringsonderhoude wou deelnemers help om diabetes die hoof te bied en strategieë in werking te stel om dit doeltreffend te bestuur.

“Deur middel van ons ingreep het deelnemers se eetgewoontes en leefstyl verander en is dit selfs gedurende die opvolgperiode gehandhaaf. Waar hulle voorheen baie suiker en verfynde koolhidrate ingeneem het, het hulle nou begin om volgraanbrood in plaas van witbrood te eet,” sê Fryer.

“Hul kardiovaskulêre vermoë het verbeter en hul liggaamsvet, bloedsuikervlakke en bloeddruk het afgeneem.

“Ons het dit alles aan die begin en einde van die 10 weke lange program gemeet, asook by nog ʼn sessie 10 weke ná die program.

“Deelnemers kon ook hul algehele loopafstand tydens ʼn ses-minute-staptoets verbeter. Hierdie toets word allerweë beskou as ʼn akkurate maatstaf om diabete se funksionele kapasiteit en algehele oefenvermoë te bepaal.”

Fryer sê die toets is voor en ná die program, en vir ʼn derde keer by die sessie wat 10 weke ná die program gehou is, gedoen.

Foto: Pixabay, Tesa Photography

Foto: Pixabay, Tesa Photography

“Een van die mees inspirerende verhale was dié van ‘n bejaarde vrou wat vroeër ʼn beroerte gehad het, en probleme met een arm ondervind het, maar deur middel van die oefeninge in staat was om dit weer te kon gebruik. ʼn Ander vrou was weer gelukkig met haar gewigsverlies.”

Fryer voeg by dat data van vraelyste en motiveringsonderhoude getoon het dat deelnemers se persepsies oor gesondheid en lewensgehalte, asook hul eiewaarde en selfdoeltreffendheid aansienlik verbeter het.

Hy sê die program het so ʼn positiewe impak gehad dat mense wat nie diabete was nie dit begin volg het.

“Die kerkgemeenskap het inligting oor die program versprei en familielede en vriende wat deelgeneem het, het ook daaroor begin praat.

“Gegewe die sukses van die program, wil ons graag die gemeenskap in beheer plaas en net help toesig hou en dit fasiliteer. Ons wil ook graag maatskappye betrokke kry.

“Maatskappye kan gerus nie net die program finansier nie, maar ook leerders uit die gemeenskap wat dalk sportwetenskap wil studeer en later by die program betrokke wil raak. Só sal hulle in staat wees om in die gemeenskap terug te ploeg en ook waardevolle werksondervinding op te doen.”

Fryer sê hulle sal graag in ʼn later stadium die leefstylprogram in samewerking met ander universiteite en maatskappye na ander Stellenbosse gebiede, soos Kayamandi, die Boland en selfs die res van die land wil uitbrei.

Hy voeg by dat sy betrokkenheid by die program vir eers beperk is as gevolg van sy verpligtinge in ʼn privaat praktyk, maar dat Kasha Dickie van die US se Departement Sportwetenskap die hooffasiliteerder is. Sy was ook betrokke by die program en ken die gemeenskap goed.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 116

Latest Images