Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.
As ek my lewe kon oorhê, sou ek:
- meer gereis het en interessante plekke besoek het,
- meer met kinders gespeel het,
- vroeër in my lewe tot rus gekom het,
- tyd ingeruim het om aan rose te ruik, en
- meer liefde teenoor my medemens en veral aan my gade en gesin betoon het.
Ek sou ook nie die lewe so ernstig geneem het nie. Maar die probleem is, ʼn mens kan nie jou lewe oorhê nie. Daarom moet ʼn mens voorkomend lewe. Dis veral jonger mense wie se lewe nog voorlê, wat meer kan meer doen om dit reg te bestuur.
Hoewel dit belangrik is dat alle mense uit hul foute sal leer en só verhoed dat hulle dit herhaal, hou selfverwyt groot sielkundige gevare in.
Die volgende leuse is hier toepaslik:
Aan water wat onder deur die brug is of die melk gestort is, kan jy niks meer doen nie.
Aanvaar eerder jou foute as deel van ʼn leerproses. Maak vrede met jou verlede en fokus op die tyd wat nog in die toekoms op jou wag. Selfverwyt veroorsaak swaarmoedigheid en depressie. Dit is die siekte van ons tyd.
Om dit te voorkom moet ʼn mens jou onderbewussyn gesond hou. Jou onderbewussyn is daardie misterieuse deel van jou menswees wat vergelyk kan word met ʼn oseaan waarvan ons maar net die oppervlakte ken. Dit kan ʼn wonderlike bron van intuïtiewe wysheid vir jou wees. Maar weerhou jou van negatiewe gedagtes en selfverwyt oor die verlede, en/of ook van wraakgedagtes teenoor ander. Dis gif vir die gees. En dit verander niks aan die situasie nie.
Voorkom eensaamheid
Wanneer jy ouer word kom jy gou agter dat eensaamheid en depressie “boesemvriende” is. Dit dui ook op redes vir die hoë voorkoms van selfdood onder bejaarde eensames.
Die Griekse filosoof Epictetus het reeds voor Christus se geboorte al tot die slotsom gekom dat mense se ontsteltenis oor gebeurtenisse nie soseer gaan oor wat met hulle gebeur het nie, maar eerder hoe hulle dit ervaar, vertolk en verwerk.
Ons geluk word grotendeels bepaal deur ons waardestelsel: dit is hoe ons na dinge om ons kyk en hoe ons ons ervarings vertolk.
Kommer en kwelling is deel van die lewe. Namate jy ouer word, kom daar noodwendig veranderinge in jou fisieke gesondheid en dikwels ook op geestelike vlak. Jy vra jouself dikwels vrae soos die volgende:
- Is my aftreegeld voldoende om vir my oudag te sorg?
- En wat sal gebeur as ek ernstig siek word? Het ek ʼn mediese fonds en sal dit aan my voldoende finansiële beskerming verleen?
- En is my voorsiening vir ʼn aftreetuiste voldoende?
Dit lei dikwels tot ʼn soort bestaans-angs. En angs bederf geluk. Om nie te praat van die angs wat tot ʼn angsneurose kan lei nie. Hoe hanteer ʼn mens dit? Onder meer deur jou denke te kondisioneer en te bestuur. Dis nie altyd maklik nie, maar jy kan jou denke op die positiewe toespits en dankbaarheid toon vir wat jy het eerder as om te kla oor wat jy nie het nie. Dit is ʼn wilsbesluit. Aanvaar dat jy angs kan oorwin.
Raad oor hoe jy dit kan doen, word in my boek gegee.
Fisieke en geestesgesondheid loop hand aan hand. Dis ook gerusstellend om te weet dat die meeste voortydige gesondheidsprobleme éf voorkom kan word éf behandel kan word.
Die feit dat tot 50% van alle mense die een of ander tyd antidepressante gebruik selfs vir ligte depressie, is rede tot kommer.
Veral ouer mense word merendeel hieraan blootgestel.
Gemoedsversteurings
Van die belangrikste oorsake van gemoedsversteurings is:
1. dat mense nie voldoende vir hul aftrede beplan het nie, en dat dit hulle onverhoeds vang,
2. dat hulle nie die vermoë het om by ʼn nuwe lewensfase aan te pas nie, en/of
3. dat eensaamheid en ʼn gebrek aan vriendskappe, asook verveeldheid met die lewe, skade aan hul selfbeeld kan veroorsaak.
Gelukkig kan die meeste van hierdie oorsake, voorkom word. Die belangrikste geheim is om voorkomend op te tree.
Voorkomende optrede geld beslis ook angs en depressie wat so dikwels intree wanneer mense die aftreefase binnegaan. Die korrekte bestuur van mens se denkpatrone en die regte raad en kondisionering kan beslis help om negatiewe gemoedsversteurings te voorkom en waar dit wel voorkom, uit die weg te ruim en ook om vrede te maak met die dood wat uiteindelik vir almal uiteindelik gaan kom.
As jy reeds in die “dryfsand” van negatiwiteit, selfverwyt, woede, magteloosheid en depressie beland het, onthou: Daar is hoop. Jy kan weer daar uitkom. Hoe jy dit kan doen, word vervolgens bespreek.
Voorkoming en behandeling van depressie
Die volgende wenke is deel van ʼn selfhelp-benadering. In sommige gevalle is dit egter wenslik om ook vir hulp by ʼn goeie psigiater of kliniese sielkundige aan te klop. Dikwels is daar neuro-versteurings in jou breinfunksies, soos byvoorbeeld ʼn serotinien-tekort en is medikasie nodig, minstens tydelik. Maar soms benodig jy net maniere om jou denkprosesse kognitief te bestuur en te kondisioneer.
Soms is albei benaderings ter aanvulling van mekaar nodig. Wees net versigtig dat jy nie van chemiese medikasie afhanklik word wat jou net beter laat voel en nie werklik beter laat word nie. Dit behoort in die meeste gevalle net ʼn tydelike oorbruggingsmaatreёl te wees. Soos by alle ongesteldhede, is permanente genesing net moontlik indien dit by die oorsaak daarvan behandel word. Kognitiewe behandeling is en bly die beste oplossing omdat dit normaalweg die oorsaak van die versteuring aanspreek.
Die prosedure by kognitiewe kondisionering is soos volg:
- Maak ʼn lys van jou negatiewe gedagtes, soos byvoorbeeld:
- ‘Ek is ’n mislukking’… – ‘Aftrede is die einde van my lewe’…
- ‘Niks bly meer oor om voor te lewe nie.
- ‘Die sin en betekenis het uit my lewe verdwyn’…
- ‘My familie en vriende aanvaar my nie (meer) nie’…
Onthou, hierdie negatiewe en disfunksionele gedagtes is nie die waarheid nie en spruit voort uit ʼn siek onderbewussyn! Vervang dit dus deur ʼn lys van positiewe gedagtes daarnaas neer te skryf bv.:
- ‘Ek is nie ’n mislukking nie… Van my belangrikste suksesse is…
- ‘Die voordele van my aftrede is… – ‘Ek is belangrik vir my familie en vriende… Ek kan nog baie vir hulle beteken, byvoorbeeld…’
- Doen dieselfde met al jou negatiewe gedagtes en persepsies.
Só neem jy beheer van jou denke en oor die lewe. Maar moenie kits-resultate verwag nie. Die leerproses vat baie tyd. As jy pas uit ʼn toestand van depressie (of angs) gekom het, sal daar nog weer (tydelike) insinkings (relapses) wees. Dit kan maande, en selfs jare vat om volkome te herstel – jy sal tegnieke moet aanleer om jou denke te bestuur om te verhoed dat depressie of angs ooit weer ʼn vat op jou kry.
Depressie en donker gedagtes kan jou altyd weer oorval, veral as jy ʼn geneigdheid daartoe het (of ʼn swakplek in hou psigiese mondering). Maar dit behoort minder en minder te gebeur en langer tydperke sal tussen die insinkings kom en hulle sal ook van korter van duur word.
Mettertyd sal jy meer bedag word op die simptome en hulle hopelik vroeër herken sodat jy dit in die kiem kan smoor, (eerder as om te skrik en vir jouself wys te maak “Ai, hier kom alweer ʼn nuwe vlaag van depressie (of angs) en ek is magteloos om iets daaraan te doen”).
Daar is ongelukkig nie kortpaaie nie. Probeer om jou onderbewussyn as’t ware in te ent met positiewe denke. Dit kan jou meer weerbaar maak om toekomstige aanslae te trotseer!
- Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Tans spits hy hom toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na johannes@myprimetime.co.za vir besonderhede stuur.