Quantcast
Channel: gesondheid | Maroela Media
Viewing all 116 articles
Browse latest View live

Luister: Skenk bloed en red meer as een lewe hierdie Paasnaweek

$
0
0
Ivor Hobbs is die streeksbemarkingsbestuurder van die Suid-Afrikaanse nasionale bloeddiens. Foto: Skermskoot tydens 'n onderhoud op Dagbreek.

Ivor Hobbs is die streeksbemarkingsbestuurder van die Suid-Afrikaanse nasionale bloeddiens. Foto: Skermskoot van ‘n onderhoud met Dagbreek.

Daar is geen plaasvervanger vir bloed nie en met die Paasnaweek om die draai kan een eenheid bloed tot drie mense lewens red. Die Paasnaweek in Suid-Afrika is berug vir die jaarlikse hoë padongeluksyfer en ’n mens dink maklik dis slagoffers van motorongelukke wat die bloed in dié tyd sal benodig. Daar is egter ʼn groot hoeveelheid kankerpasiënte wat ook op ʼn gereelde basis bloed en plaatjies benodig.

Ivor Hobbs, streeksbemarkingsbestuurder vir die Suid-Afrikaanse nasionale bloeddiens, en Zania Claassen, ʼn mamma van ʼn jong leukemie-lyer, het met Esté Meyer Jansen gepraat oor die noodsaaklikheid van bloedskenk.


Luister: Kookboek inspireer jou om lekker kos, wat ook gesond is, voor te berei

$
0
0
Jou-beste-lewe-gesond-01

Dr. Michael Mol en John Berry het pas ‘n kookboek vol gesonde gesinsetes vrygestel. Foto’s: Esté Meyer Jansen.

Gesond eet mag nooit vervelig wees nie. Dit is die filosofie van dr. Michael Mol en John Berry wat vroeër dié maand saam ʼn inspirerende kookboek bekendgestel het. Dié kookboek bevat 93 gesonde, vinnige resepte wat ideaal is vir die hele gesin.

Die kookboek, Jou beste lewe: Vinnige en gesonde gesinsetes, is op 16 Maart in die swierige Anna’s Kitchen-restaurant in Vereeniging bekendgestel waar gaste die geleentheid gehad het om 15 van die geregte te proe. Daar is gesmul aan soet-en-sout gemengde neute, satay-hoender en rysnoedelslaai asook salmslaai, maar die gaste was dit eens dat die riboog-biefstuk met “café de Kaapstad”-botter die lekkerste gereg was en die Hulk-smoothie die smaaklikste drankie.

Mol, ʼn mediese dokter en die uitvoerende vervaardiger en aanbieder van die gesondheidsprogram op TV, Hello Doctor, en John Berry, ʼn sjef en stigterslid van Kauai Health Foods, se kosfilosofie kompleteer mekaar perfek. Albei die manne glo maaltye moet uit heel kosse bestaan en die voorbereiding en eet daarvan is ʼn geleentheid vir samesyn.

Buiten dat die resepteboek voorsiening maak vir verskeie dieetkundige behoeftes soos ’n laekoolhidrate-hoëvet-, vegetariese, vegan, asook suiwel-, gluten- en graanvrye eetplan (wat met ikons onderskei word by elke resep), is daar ook pittige opmerkings uit die pen van Mol.

Hy het tydens die bekendstelling ʼn paar van sy idees oor ʼn gesonde leefstyl met die gaste gedeel:

  • Genoeg slaap, gesonde maaltye wat net uit heel kosse bestaan en oefening is die drie belangrikste elemente van ʼn gesonde leefstyl.
  • Doen hoofsaaklik inkopies aan die buitekant van die winkel, vermy die gange in die middel van die winkel.
  • Jy kan tot drie koppies koffie per dag geniet. Die gesondheidsvoordele van die hoeveelheid koffie is reeds wetenskaplik bewys.
  • Wees maar versigtig met wyn onder die ouderdom van 40, want dan is daar meer nadele aan die verbruik van alkohol. Ná 40 kan ʼn mens gerus ʼn glas rooiwyn daagliks geniet omdat die gesondheidsvoordele dan groter is as die nadele.
  • Mol is ook ʼn voorstander van Tim Noakes se laekoolhidrate-hoëvet-dieet. “Tim het ons anders oor ons dieet laat dink en ek vermoed die wêreldleiers in dieetkunde gaan binnekort die eetplan aanvaar,” het Mol afgesluit.

Jou beste lewe: Vinnige en gesonde gesinsetes word deur CUM-uitgewers uitgegee en kan direk van die uitgewer bestel word. Besoek www.cumuitgewers.co.za.

Maroela Media het ook ʼn resep van een van die gesonde nageregte, Sjokoladetertjies met ʼn neutkors, gepubliseer.

Luister ook na die podsending bo-aan die artikel om meer wenke van Berry en Mol oor gesonde gesinsetes en ʼn gesonder leefstyl te kry.

Die kookboek, Jou beste lewe, is in beide Afrikaans en Engels beskikbaar. Kekerertjieslaai met halloumi en geroosterde soetrissie. Soet-en-sut gemengde neute. Dr. Michael Mol, Sua du Plessis die publikasiebestuurder van CUM-uitgewers en John Berry. Beethoemoes met groentestokkies.

Deon Labuschagne goed op dreef met volgende fiksheidsuitdaging

$
0
0
Dr-Jerrie-Bezuidenhout-Deon-Labuschagne-en-Anne-Rajcoomar

Dr. Jerrie Bezuidenhout saam met Deon Labuschagne (middel) en Anne Rajcoomaar van die Suid-Afrikaanse Steungroep vir Depressie en Angs (SADAG). Foto: Esté Meyer Jansen.

Deon Labuschagne wat verlede jaar sy eerste 94.7-fietswedren voltooi het, het ook verlede week sy eerste 10km-wedloop klaar gemaak en sal op 19 April aan sy eerste tweekamp deelneem.

Wat maak dit alles so besonders? Labuschagne is serebraal gestremd, ʼn toestand wat sy spiere en balans affekteer en ly ook aan ʼn bipolêre versteuring, wat hom dikwels depressief en angstig maak. Sy gesondheidsprobleme het hom egter nie verhoed om hierdie jaar ʼn tweede fiksheidsuitdaging aanvaar nie – hy het besluit om teen die einde 2015 ʼn driekamp te voltooi, selfs al kan hy nog nie behoorlik swem nie.

Maroela Media het in Januarie berig oor Labuschagne se suksesvolle voltooiing van die 94.7-fietswedren. Sy psigiater, dr. Jerrie Bezuidenhout van die Vista-kliniek in Centurion, het die 27-jarige inwoner van Vanderbijlpark uitgedaag vir dié wedren nadat hy aanbeveel het dat Labuschagne met oefening begin om te help om sy depressie en angstigheid teë te werk. Bezuidenhout het saam met hom die 94.7-fietswedren voltooi.

Labuschagne het Vrydag, byna presies ʼn jaar nadat Bezuidenhout hom uitgedaag het, ʼn motiveringspraatjie by die kliniek gelewer. Hy het sy lesse uit sy voorbereiding en deelname aan die fietswedren met die gehoor gedeel. “Toe Bezuidenhout aanvanklik voorstel dat ek begin fietsry, het ek gedink: ‘Agge nee man, gee my maar eerder net nog ʼn pil vir my depressie’, maar fietsry het gehelp om my angs-vlakke af te bring en dit het my ook moed en selfvertroue gegee. Dit het my verder gehelp om helderder te dink en gesonder besluite vir myself te neem,” het Labuschagne gesê.

Volgens Labuschagne het dit hom aan die begin byna twee ure geneem om net op die fiets te kom. “Ek het gedink dis te vroeg, ek is te moeg hiervoor, maar ek het besef ek moet my oefening dag-vir-dag benader. Dae het weke geword en weke het maande geword en so het ek fikser en sterker geword. Ek het toe besef hoe belangrik selfmotivering is.”

Labuschagne is tans besig om te leer swem vir die driekamp. Voor dit was dit ook vir hom moeilik om te hardloop omdat hy sukkel met balans. “Deon het in my kantoor ingestap en gesê, ‘Ek het twee voete, ek kan maar net sowel probeer hardloop’. Dit is net weereens ʼn bewys van die jong man se deursettingsvermoë. Vista-kliniek se personeel is trots op hom en sal hom beslis bly ondersteun,” het Bezuidenhout gesê.

Die nuwe atleet het reeds sy oog op nog ʼn uitdaging – hy beplan om in 2016 sy eerste Midmarmyl te voltooi. Op ʼn vraag oor hoekom hy hierdie fiksheidsuitdagings aanpak, het Labuschagne gesê: “Ek wil my gestremdhede gebruik om mense te dien en te motiveer. Ek wil mense inspireer om gesond te wees”. Hy weet ook dat sy suksesse nie sonder sy geloof in God moontlik sou wees nie: “Geloof in God verander alles, jy kan alles doen as God by jou is.”

Lees ook meer oor Labuschagne se inspirerende storie en voorbereiding vir die driekamp op Mindful Moment.

Hier is ‘n video waar Labuschagne self meer vertel oor sy ervaring:

’n BSc, Tuberkulose en gróót drome

$
0
0

Sandy van Niekerk FOTO: Universiteit van Stellenbosch

Sandy van Niekerk. Foto: Verskaf.

Om met tuberkulose te worstel terwyl jy vir ’n BSc-graad aan die Universiteit van Stellenbosch studeer is nie vir enige iemand beskore nie. Sandy van Niekerk het dit egter reggekry.

Sandy is tydens haar tweede jaar by Maties met Mbt (Mycobacterium tuberculosis), ’n tipe tuberkulose wat weerstandigheid is teen sogenaamde ‘eerste linie’ antibiotika, gediagnoseer. Vandag is sy gesond, het haar MSc verwerf én sy het ’n internskap by die Universiteit van Kaapstad voltooi. Sy wil nou haar storie met die wêreld deel.

Dit is vir haar belangrik dat ander uit haar foute kan leer. Sy beklemtoon telkens die belangrikheid daarvan om jouself te laat toets en jou liggaam te ken.

“Vandag besef ek dat ek beter na my liggaam moes geluister het,” het sy gesê.

Sandy het nooit enige tipiese simptome van die siekte getoon nie. Sy was egter altyd moeg.

“Ek het gedink om die heeltyd so moeg te voel het te doen gehad met die stres van my studies en klasse,” het sy gesê.

Die eerste gevaartekens het tydens ’n vakansie in Swellendam opgeduik toe sy begin bloed hoes het. Sy was saam haar ma en tannie.

“Hulle het my onmiddellik laat sit. My tannie het my toe met die waarheid gekonfronteer, dat ek moontlik TB onder lede het en dat ek onmiddellik vir toetse moes gaan,” het sy gesê.

Haar tannie is die matrone by die Swellendam hospitaal. Sy het die volgende dag vir tuberkulosetoetse by Swellendam hospitaal gegaan en ’n dokter in privaatpraktyk gaan spreek, want sy wou dubbel seker wees.

Die eerste toets het negatief teruggekom, maar die tweede het bevestig dat sy positief getoets het vir veelvuldige middelweerstandige TB.

Sandy het niemand van haar toestand vertel nie omdat sy nie spesiale behandeling wou ontvang nie. Sy was ook bang vir die stigma wat aan mense met tuberkulose kleef.

Sy weet tot vandag toe nie waar sy met die bakterie in aanrakinge gekom het nie, omdat almal ná aan haar, insluitend haar koshuiskamermaat, negatief getoets het vir die bakterie.

Ná die diagnose moes sy vir sewe maande lank ses verskillende pille daagliks drink en vier daagliks daarna. Sy het ook verskeie ander pille gedrink om newe-effekte soos naarheid teen te werk.

Sy het nie egter nie toegelaat dat die siekte haar van stryk bring nie, ’n taak wat nie altyd maklik was nie.

“Dit was ’n spanpoging. My lewensmaat was elke dag by my om my te ondersteun. Ek het soos altyd aan die familie se aktiwiteite, soos om in die berge te gaan stap, deelgeneem. My broer en susters het soms gedink ek is lui of dat ek net nie lekker voel nie. Hulle het eers gehoor ek het TB die dag toe ek my medisyne vir die heel laaste keer moes neem,” het sy gesê.

Sandy het net die hoogste lof vir die ondersteuning wat sy ontvang het van die personeel by die Swellendamkliniek en ander instansies.

Sandy het net die hoogste lof vir haar ondersteuningstruktuur soos familie, die kliniek en DOTS (Directly Observed Therapy Strategy), ’n groep vrywilligers wat TB pasiënte bystaan om te verseker dat hulle daagliks hul medikasie inneem.

Hoewel sy vir die res van haar lewe jaarliks vir ’n roetine ondersoek moet gaan, wil Sandy haar tweede kans op die lewe aangryp en nou nét haar liefde vir wetenskap en skryf uitleef.

Video: Skud-skud (die soutpot) jou pad na ʼn hartaanval

$
0
0
eet-minder-sout

Foto: ‘n Skermskoot uit die video.

Suid-Afrikaners neem daagliks tot agt maal meer sout in as die voorgestelde daaglikse inname van 5 gram. Navorsing toon dat te veel sout in jou dieet tot hartaanvalle en beroertes kan lei.

Kyk hierdie video om meer vas te stel oor verskuilde soutinname en wenke:

Luister: Nuwe soort joga-oefeninge in Gauteng bekendgestel

$
0
0
Hotpod-Joga

‘n Hotpod jogasessie in aksie. Foto: Ed Reeve

Die nuutste oefengier het pas in Suid-Afrika uit Londen, in die Verenigde Koninkryk geland – ʼn nuwe soort joga-oefening is in Maartmaand in Gauteng bekendgestel, wat nie net beloof om jou spiere te rek nie, maar jou ook te laat sweet teen ‘n warm 37 °C.

Mischa Els en Talitha Grobler, eienaars en instrukteurs van Hotpod Yoga in Pretoria, het by Esté Meyer Jansen in Maroela Media se ateljee kom kuier. Els en Grobler verduidelik wat hierdie soort oefeningsessies nou juis anders maak as gewone joga.

eNuus het onlangs ‘n beginnersklas van hierdie soort joga bygewoon en hierdie insetsel daaroor saamgestel:

Resep: French Toast met wildesampioene

$
0
0
French-Toast-met-wildesampioene

French Toast met wildesampioene. Foto: Jou beste lewe/CUM-uitgewers.

Hierdie vegetariese, graanvrye resep is genoeg vir twee mense.

Jy kan dit ook saam met ʼn geposjeerde eier voorsit as jy lus voel.

Bestanddele:

  • 150 g wildesampioene-mengsel
  • 2 groot plaaseiers
  • 100 ml melk
  • varsgemaalde sout en peper na smaak
  • 2 snye suurdeegrogbrood van goeie gehalte
  • 2 E plaasbotter
  • 1 E varsgekapte tiemie
  • 1 E varsgekapte basielkruid
  • 1 E Bovril of Marmite (opsioneel)
  • 20 g parmesaankaas
  • 2 knypies fyngerasperde suurlemoenskil

Metode:

  1. Sny die sampioene in stukke, maar moenie dit te fyn sny nie.
  2. Verhit ʼn pan oor medium hitte.
  3. Klits die eiers en die melk goed saam. Geur met sout en peper.
  4. Laat die brood vir ʼn paar sekondes in die eiermengsel rus en draai om sodat albei kante bedek is.
  5. Voeg een eetlepel botter in die pan en braai die broodjies tot goudbruin aan weerskante.
  6. Braai die sampioene met nog een eetlepel botter tot goudbruin en voeg die kruie by (moenie te veel roer nie). Geur na smaak met sout en peper.
  7. Smeer die broodjies met Bovril of Marmite, verdeel die sampioene tussen die broodjies en sit voor met parmesaankaas en suurlemoenskil.

Bron:

Jou beste lewe: Vinnige en gesonde gesinsetes deur dr. Michael Mol en John Berry. Die resepteboek is deur CUM-uitgewers uitgegee en kan hier bestel word.

Stuur vir ons jou French Toast-resep:

Het jy ʼn French Toast-gunstelingresep wat jy graag met ons wil deel? Jy het nie net ’n kans om wonderlike pryse te wen nie, maar ook om jou resep op die spyskaart by die French Toast Koffie Kafee in Hartebeespoort te sien. Skryf hier in. Die film French Toast is van 24 April af in teaters te sien. Lees meer oor die kompetisie hier.

 

Skoksyfers oor kleuters se eetgewoontes onthul

$
0
0
Kleuters-se-voeding-02

Helpende Hand het reeds met die hulp van ʼn dieetkundige verskeie spyskaarte opgestel wat vir kleuterskole en ouers beskikbaar gestel word om optimale voedingspatrone by kleuters te vestig. Foto: Esté Meyer Jansen.

Sowat een uit elke tien kleuters kry hulle enigste maaltyd van die dag by ʼn kleuterskool. ʼn Verdere 22,2% van kleuters kry net nog een maaltyd tuis.

Dit was van die skokkende sleutelbevindings van ʼn studie wat Markdata by 550 kleuters tussen die ouderdom van twee en ses jaar gedoen het in opdrag van Solidariteit Helpende Hand. Die studie toon verskeie skokkende feite rakende die wanvoeding van behoeftige kleuters en is vandag, met die afskop van Helpende Hand se jaarlikse nasionale Kosblikkieprojek, bekendgestel. Die Kosblikkieprojek word jaarliks by behoeftige Afrikaanse kleuterskole aangebied en bied vanjaar weer daaglikse voeding aan nagenoeg 4 400 kleuters.

Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, is die studie onderneem om te bepaal wat die eetgewoontes van kleuters is en om sodoende te help verseker dat Helpende Hand se voeding aan kleuters optimaal aangebied word. “Die studie toon dat wanvoeding tans ʼn groter probleem as ondervoeding is. Hoewel kleuters meestal genoeg eet, is hulle eetgewoontes uiters ongesond en ongebalanseerd.” Die studie beklemtoon dat swak voeding ʼn negatiewe uitwerking op kinders se geestelike, emosionele en fisiese ontwikkeling kan hê.

“Kleuters ontvang dikwels net die noodsaaklike, maar nie optimale voeding nie,” het dr. Elsa Thirion-Venter, ʼn navorser van Markdata gesê. “Die eetpatrone van kinders sluit groot hoeveelhede stysel en koolhidrate in en die gevaar bestaan natuurlik dat dit ook dikwels leë koolhidrate kan wees. Min van die kleuters kry genoegsame vrugte en groete, asook kalsium en proteïene in.”

Volgens Erna Jörgensen, nog ʼn navorser van Markdata, is dit juis in hierdie ontwikkelingstadium van ʼn kind se lewe waar gesonde eetgewoontes kan help om toekomstige gesonde eetpatrone te vestig. Volgens haar is elke maaltyd boonop ook ʼn geleentheid om vaardighede te leer. “Ons navorsing toon dat baie kleuters blootgestel is aan voedselonsekerheid en nie noodwendig toegang het tot genoegsame voedsel nie. Dit kan lei tot swak sosiale vaardighede en leerprobleme, ʼn verkorte aandagspan en ʼn afname in nuuskierigheid by kleuters,” het Jörgensen gesê.

Sy het bygevoeg dat hulle navorsing getoon het hóé belangrik kleuterskole en voedingskemas by die skole is. “Kleuterskole verskaf ʼn positiewe, liefdevolle en ondersteunde omgewing. Dit is die een plek waar kleuters die geleentheid het om ʼn goeie gebalanseerde maaltyd te ontvang en die standvastigheid van roetine te kry.”

Volgens Michellé Burger, projekorganiseerder van Helpende Hand se Kosblikkieprojek, sal die organisasie voortaan sterk fokus op optimale voeding van kleuters. “Die Kosblikkieprojek sal ook vitamien-aanvullings verskaf aan behoeftige kleuterskole. Verder het ons ʼn hulpgids met wenke en ʼn spyskaart vir ʼn gesonde dieet vir kleuters saamgestel wat aan kleuterskole versprei sal word. In die toekoms sal ons graag groentetuine by die kleuterskole wil begin wat nie net voedselonsekerheid sal verminder nie, maar ook ʼn volhoubare en goedkoper manier is om te verseker dat kinders en hulle gesinne genoeg groente en vrugte eet,” het sy gesê. Helpende Hand sal ook opleiding aan kleuterskole en kokke verskaf en hulle meer leer van voedselvoorbereiding en bewaring met die hulp van dieetkundiges.

Helpende Hand het reeds met die hulp van ʼn dieetkundige verskeie spyskaarte opgestel wat vir kleuterskole en ouers beskikbaar gestel word om optimale voedingspatrone by kleuters te vestig. Vir meer inligting oor dié spyskaart besoek www.kosblikkie.co.za.

Lesers kan Helpende Hand se Kosblikkieprojek ondersteun deur die woord ‘bord’ te SMS na 36930 en so R5-00 by te dra tot ʼn gesonde bord kos vir ʼn behoeftige kleuter.

Die ideale kosblikkie saam gestel vir optimale voeding. Foto: Esté Meyer Jansen. Michellé Burger, projekorganiseerder van Helpende Hand se Kosblikkieprojek, wat vandag afgeskop het. Foto: Reint Dykema. Erna Jörgensen, ʼn navorser van Markdata, het gesê hulle navorsing het getoon hóé belangrik kleuterskole en voedingskemas by die skole is. Foto: Reint Dykema. Verskeie hoofde en onderwysers van kleuterskole het die bekendstelling van Helpende Hand se voedingsverslag bygewoon. Foto: Reint Dykema.

Luister: Só kan jy beter na jou oë kyk in die werkplek

$
0
0
Oogsorg

Foto: thehealthsite.com

Talle faktore in die werkplek kan ʼn negatiewe invloed op jou oë hê. 28 April is Wêrelddag vir Veiligheid- en Gesondheid in die Werkplek en Maroela Media gesels met Rudine Diedericks, ‘n senior oogkundige by Mellins i-Style , oor wat om in die geval van ʼn oognoodgeval te doen.

Word deel van die #3000unitsaday-veldtog

$
0
0
bloedskenk

Moeders is van die mees algemene gebruikers van bloed weens komplikasies tydens geboorte. Foto: Argief.

Met Moedersdag wat hierdie naweek gevier word wil die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) potensiële bloedskenkers herinner dat moeders van die mees algemene gebruikers van bloed is weens komplikasies wat dikwels tydens geboorte voorkom.

Die SANBS moet daagliks 3 000 eenhede bloed insamel om te verseker dat daar genoeg bloedvoorraad vir die land is. Die eenheid bloed wat ʼn bloedskenker op ’n keer skenk is ongeveer 480 ml en met só ʼn eenheid kan tot drie mense se lewe gered word.

“Dit klink eenvoudig, maar dit is gewoonlik ʼn moeilike taak om die nodige hoeveelheid eenhede daagliks in te samel en dit het ʼn reuse-impak op die lewe van pasiënte,” het Vanessa Raju, SANBS se kommunikasiebestuurder, gesê. “Maak seker dat daar genoeg bloed vir ons moeders is en raak betrokke by ons #3000unitsaday-veldtog.”

Volgens Raju kan iemand bloed skenk indien hy of sy tussen die ouderdom van 16 en 65 is, meer as 50 kg weeg en ʼn veilige seksuele leefstyl lei. Om uit te vind waar die naaste skenkersentrum is besoek www.sanbs.org.za, skakel 0800 11 90 31 of SMS jou naam en poskode na 31454 en die SANBS sal die besonderhede van die naaste skenkersentrum stuur.

Voorkom vergeetagtigheid met slim dieetaanpassings

$
0
0
MIND-dieet

Die MIND dieet kan help om vergeetagtigheid en selfs Alzheimer se siekte te voorkom. Foto: Springchicken.com

Johanrie Swart

Is jy net verstrooid en vergeetagtig, of is Alzheimer se siekte dalk jou voorland? Is daar iets wat jy kan doen om ʼn swak geheue te voorkom of verbeter? Alzheimer se siekte, die mees algemene oorsaak van demensie (vergeetagtigheid) wat breinselle beskadig en doodmaak, kom dikwels by mense ouer as 65 jaar voor. Hierdie komplekse toestand kom meer algemeen onder vroue as mans voor en word gekenmerk deur:

  • geleidelike verergering van geheueverlies;
  • onvermoë om nuwe inligting te leer en op te roep;
  • onvermoë om die regte woord te vind;
  • afname in logiese denke;
  • agteruitgang van spraak en waarnemingsvermoë;
  • afname in spierkrag met inkorting van handbeweging en probleme om te stap;
  • inkorting van die vermoë om alledaagse handelinge uit te voer;
  • buierigheid;
  • wisselende, ontoepaslike en onvoorspelbare optrede.

Die voedselkeuses wat jy daagliks maak, kan jou kans verminder om Alzheimer se siekte te ontwikkel. Onlangse navorsing het drie verskillende diëte, naamlik die DASH- (Dietary Approaches to Stop Hypertension) dieet vir verlaging van bloeddruk, die Mediterreense dieet vir hartgesondheid en die MIND- (Mediterranean-DASH Intervention for Neurodegenerative Delay) dieet vergelyk om die invloed van elkeen op Alzheimer se siekte te bepaal.

Navorsing wys dat mense wat voedsel soos groen blaargroente, bessies en vis by hul dieet insluit, hul risiko vir geheueverlies verlaag. Hierdie dieetpatroon staan as die MIND-dieet bekend wat ’n kombinasie van die DASH-dieet en die Mediterreense dieet is. Diegene wat die MIND-dieet gevolg het, se risiko vir Alzheimer se siekte het met 54% verlaag. Die MIND-dieet sluit natuurlike plantvoedsel in en beperk die inname van dierlike en hoëversadigdevet-voedsel, terwyl die inname van groen blaargroente benewens ander groente, asook bessies, beklemtoon word.

Voedsel wat by die MIND-dieet aanbeveel word:

  • Groen blaargroente (soos spinasie en blaarslaai): ten minste ses porsies per week;
  • Ander groente: ten minste een porsie per dag;
  • Bessies: ten minste twee porsies per week;
  • Neute: ten minste vyf porsies per week;
  • Peulgroente: ten minste vier porsies per week;
  • Onverfynde grane: ten minste drie porsies per dag;
  • Vis: ten minste een porsie per week;
  • Pluimvee (soos hoender of kalkoen): ten minste twee porsies per week;
  • Olyfolie: gebruik by voorkeur tydens voedselbereiding; en
  • Wyn: een glas (125 ml) per dag.

Voedsel waarvan minder geëet moet word:

  • Rooivleis: minder as vier keer per week;
  • Botter en margarien: minder as een eetlepel (15 ml) per dag;
  • Kaas: minder as een keer per week;
  • Diepvetgebraaide voedsel of wegneemetes: minder as een keer per week; en
  • Gebak en lekkergoed: minder as vyf keer per week.

Alhoewel dieet ’n baie belangrike rol speel, kan jou risiko vir Alzheimer se siekte verder verlaag word deur 6 – 8 glase water per dag te drink, gereeld te oefen, asook om stresvlakke te beheer. Die MIND-dieet is nie net goed vir die brein nie, maar ook vir jou hart en algehele gesondheid. Belê dus in hierdie breinvriendelike eetpatroon, selfs al het jy geen familiegeskiedenis van Alzheimer se siekte nie!

 

Maak min slaap en stres ons vet?

$
0
0
genoeg-slaap

Meer en meer navorsing bevestig dat te min slaap gewigsverlies kan belemer. Foto: Bodymeasure.com.au

Riëtte van Rooyen and Desiré Brand

Dit word dalk tyd om ʼn bietjie vroeër in te kruip. Nuwe navorsing wys dat ʼn gejaagde leefstyl, stres en min slaap op verskeie maniere tot gewigstoename kan bydra. ʼn Onlangse studie toon dat slegs 30 minute té min slaap per nag die syfers op die skaal kan laat klim omdat min slaap die metabolisme te ontwrig. Tydens stresvolle toestande beleef die liggaam ʼn veg-of-vlug reaksie wat ongesonde vlakke van die streshormoon, kortisol, veroorsaak.  Hoë kortisolvlakke dra by tot gewigstoename deur mense se:

  • Metabolisme te verlaag;
  • Vermoë om vet te verbrand te verminder;
  • Selle se sensitiwiteit vir insulien te verminder, wat bloedsuikervlakke laat styg;
  • Die stoor van oormatige liggaamsvet, veral om die middellyf te vermeerder; en
  • Sirkulerende vetvlakke in die bloed te vermeerder.

Hierdie liggaamsveranderinge dra by tot ʼn groter kans om metaboliese sindroom, ʼn toestand wat die risiko om hartsiektes, beroertes en suikersiekte te ontwikkel.

Maar hoe dan gemaak wanneer stres en min slaap nie ʼn vrywillige keuse is nie? Die volgende wenke kan help om gesonde gewoontes te vergemaklik, selfs wanneer die lewe ʼn gejaag is:

  • Moet nooit ʼn maaltyd oorslaan nie, veral nie ontbyt nie. Ná jy gevas het (soos ná ʼn nag se slaap) is die liggaam se koolhidraatvoorraad uitgeput en moet dit herstel word. Koolhidrate is die brein se belangrikste bron van energie en gereelde maaltye help om bloedsuikervlakke stabiel te hou.
  • Indien daar nie tyd vir drie groot gesonde maaltye is nie, eet eerder ses kleiner en makliker maaltye deur die dag. Vars vrugte, neute, gewone jogurt en ryskoekies met grondboontjiebotter of Bovril is ʼn paar gesonde idees wat min moeite verg.
  • Slaap genoeg. Probeer ten minste sewe tot agt ure per nag slaap. ʼn Navorsingstudie het gevind dat mense wat slaap gedurende die week verloor, meer dikwels oorgewig is. Te min slaap veroorsaak verhoogde kortisolvlakke wat tot ʼn valse gevoel van honger lei en ooreet tot gevolg het.
  • Maak volgraanprodukte deel van jou dieet. Indien die stresverwante hongerpyne nie  geïgnoreer kan word nie, eet eerder onverfynde voedsel wat baie vesel bevat, soos hawermout, vars vrugte, groente en volgraanbrood.
  • Maak alle voedselgroepe deel van jou daaglikse dieet. Chroniese stres kan die liggaam van belangrike voedingstowwe beroof, veral vitamien C en B-kompleks, kalsium en magnesium. Neem daagliks ʼn vitamien- en mineraalaanvulling indien jy nie ʼn groot verskeidenheid kos eet nie.
  • Ontdek weer die mikrogolfoond. Mikrogolfetes is vinnig en maklik om te berei terwyl dit steeds voedsaam is. Probeer maklike resepte soos ʼn een-minuut-quiché of kaneelhawermoutpap vir ontbyt.
  • Twee vlieë met een klap. Berei dubbele porsies voor in die aand. Die een porsie kan as aandete geniet word terwyl die ander as middagete vir die volgende dag kan dien.
  • Beplan vooruit. Maak meer kos as wat nodig is oor naweke, verpak dit in kleiner porsies en vries die etes. Op hierdie manier sal voedsame etes maklik tydens ʼn besige week tot jou beskikking wees.
  • Maak eenskottelgeregte. Sop en bredies is goeie voorbeelde hiervan. Deur gebruik te maak van ʼn prut-pot (slow cooker) kan baie tyd bespaar word. Hierdie geregte maak dit maklik vir die gesin om genoeg groente te eet.
  • Kry genoeg yster in deur jou dieet. ʼn Ystertekort kan moegheid en selfs depressie veroorsaak. Kos wat baie yster bevat is maer- en orgaanvleis, lensies, groen blaargroentes, eiers, gedroogte vrugte en neute. Deur vitamien C (lemoensap, koejawels of verrykte vitamien C koeldrank) saam met ʼn maaltyd te drink, verhoog ysterabsorpsie.
  • Tuisgemaakte vrugteskommels is ʼn vinnige ete en maklike manier om vitamien- en mineraalinname te verhoog. Eksperimenteer met verskillende bestanddele soos vars vrugte, jogurt en ontbytgrane.
  • Wees teenwoordig in die hede en geniet jou kos. Wanneer jy sonder aandag eet, soos voor die rekenaar of televisie, is ʼn mens geneig om te veel te eet. Deur met aandag te eet word ʼn mens bewus van jou voedselinname en is jy meer gesteld op jou gesondheid.

Gesondheid is kosbaar en bly elkeen se verantwoordelikheid. Vroegtydige veranderinge in leefstyl en eetgewoontes is een van die beste beleggings wat enigiemand kan maak.

As dit oor voeding gaan, vra ʼn dieetkundige!

Die regte dosis oefening vir ‘n langer lewe

$
0
0
oefeninge

Oefening is beslis goed vir jou en kan selfs jou lewe verleng. Foto: Pixabay.com

Carlien van der Merwe

Ons weet lankal dat oefening verskeie gesondheidsvoordele inhou. Anders as medikasie, kom oefening nie saam met ‘n voubiljet wat die presiese dosis aandui nie. Die algemene aanbeveling vir oefening is tans 150 minute matige oefening of 75 minute intensiewe oefening per week. Alhoewel enige oefening beter is as geen oefening nie, wonder mens tog hoeveel oefening ʼn mens nodig het vir ‘n langer en gesonder lewe.

Twee grootskaalse studies wat onlangs in die JAMA Internal Medicine Journal gepubliseer is, werp meer lig op die onderwerp. In die een studie is die data van ses opnames wat meer as 660, 000 mense van die Nasionale Kanker Instituut in Amerika ingesluit het, ontleed. Die studie het mense wat geen oefening doen nie vergelyk met mense wat minder as die aanbevole 150 minute per week oefen asook diegene wat meer as die aanbevole hoeveelheid oefening doen. Die studie het gevind dat mense wat minder as die aanbevole hoeveelheid oefening doen, ‘n 20% laer  risiko gehad het om vroeër te sterf as onaktiewe mense en dié wat een tot twee keer die aanbevole hoeveelheid oefening doen se risiko 31% laer was. Mense wat twee tot drie keer die aanbevole hoeveelheid oefening gedoen het, het ‘n 37% laer risiko vir vroeë sterfte gehad en dié wat drie tot vyf keer die aanbevole oefening gedoen het, se risiko was 39%  laer. Hoe meer die mense dus geoefen het, hoe laer was hul kans om vroeg te sterf.

Die tweede studie wat in Australië gedoen is het meer as 200, 000 volwassenes ingesluit. Mense wat slegs matige oefening (rustige swem, huishoudelike takies en stap) gedoen het, is vergelyk met dié wat soms meer intensiewe oefening (draf, kompeterende tennis en aërobiese oefeninge) doen. Die studie het getoon dat mense wat ten minste 30% intensiewe oefening gedoen het, se risiko om vroeër te sterf het met 9 % verminder teenoor dié wat aan geen intensiewe oefeninge deelneem nie. Die risiko om te sterf was ook 13% laer vir diegene wat meer as 30% intensief geoefen het. Dr Klause Gebel, ‘n senior navorser aan die James Cook Universiteit, wat betrokke was by die studie, het gerapporteer dat die studie bevind het dat selfs ‘n klein hoeveelheid intensiewe oefening die risiko vir ‘n vroeë dood kan verlaag. Hy beveel verder aan dat enigiemand wat liggaamlik in staat is om oefening te doen, moet probeer om vir 150 minute per week te oefen, waarvan 20-30 minute intensiewe oefeninge moet wees.

Beide studies wys dus duidelik selfs ‘n klein hoeveelheid oefening kan die risiko van ‘n vroeë sterfte verlaag. Deur intensiewe oefening daarby in te sluit, verlaag die risiko nog meer.

Die goue reël bly dus steeds dat enige oefening beter is as geen oefening. Haal daardie vergete tekkies uit die kas, raak aktief en leef ‘n gesonde lewe vir langer!

 

Oom Herrie se kerrie: Daar waar engele hou

$
0
0
Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Die afgelope week beland oom Herrie toe op daardie plek waar mense gewoonlik wyd hou as hulle kan – die hospitaal.

Maar dit is ook die plek waar engele hou. ’n Mens noem hulle verpleegsters. Hulle het nie vlerke nie, maar op platsoolskoene loop en loop en loop hulle om by al die einas uit te kom.

Dan, soos klokslag saans, verdwyn hulle vir ’n rukkie. Nie lank nie of die engelestemme klink op waar wondersoete note sonder instrumentbegeleiding die wonderlike groot Geneesheer loof. Soggens maak hulle weer so.

Hulle sien immers gereeld wonderwerke gebeur. Ander kere word in eerbied aanskou hoe die Vader ’n sterfling vir hoër diens oproep – na daar waar pyn en smart nie meer bestaan nie.

Oom Herrie was nog altoos ’n groot kampvegter daarvoor dat mense wat mag, bloed skenk. Oom Herrie moet hier maar vir ander preek, want weens maltakoors moet die oom wyd van daai naald hou. En oom Herrie het juis nie so ’n groot voorliefde vir naalde nie.

Maar hierdie week moes oom Herrie in iemand anders se oë kyk, by wyse van spreke. Twee eenhede wat ander goedgunstiglik afgestaan het.

Dus vra oom Herrie weer – laat almal wat kan en mag in hulle getalle opruk en mildelik bloed skenk. Die nood daarvoor is groot.

Oom Herrie sou juis ’n ideale skenker wees. Volgens die weermag se “dog tag” waar die medic die bloed uit die regterarm getrek het, is oom Herrie O+. Maar die ander bloed wat uit die linkerarm getrek is sê: “Aikona”. Daai kant is dit A+.

Mevrou Herrie sê Wolf en Nala, ons honde, verlang erg. Boonop het almal die indruk gekry dat hulle al geweet het iets is verkeerd voordat hul mens pa en mensma nog geweet het iets is nie pluis nie. Natuurlik verlang oom Herrie self erg. En dankie vir al die gebede en goeie wense. En die gebede en ondersteuning vir Mevrou Herrie, vir Groot Herrie en Klein Herrie.

Luister: Hulp en raad vir mammas van premature babas

$
0
0
premature-babas

Dr. Welma Lubbe gee raad vir die ontwikkeling en voeding van premature babas. Foto: Myhealthybee.com

Die jongste internasionale data toon dat soveel as 14% van alle babas in Suid-Afrika prematuur gebore word, terwyl soveel as 23% van babas in staatshospitale prematuur is. Tog sê dr. Welma Lubbe, ʼn kenner op die gebied van neonatale verpleegkunde, dat dié babas net so sterk en gesond soos enige ander baba kan wees met die regte soort versorging.

Esté Meyer Jansen het met dr. Welma in Potchefstroom gesels oor die versorging van premature babas. Sy het ook ʼn paar wenke rondom ontwikkeling en voeding van dié babatjies gedeel.

  • Indien lesers meer oor premature babas wil weet, kan hulle dr. Welma se webwerf Little Steps besoek. Sy is ook ʼn spreker by vanjaar se Johnson’s Baby Sense seminare wat in Augustus en September landswyd aangebied word.

Gluten-vry of nie?

$
0
0
gluten-vry-brood

Brood en ‘n gluten-vrye dieët word dikwels gedabatteer. Foto: Zoozo.org

Althea Nel

Ek dink aan brood sedert Prof Tim Noakes The Real Meal Revolution bekend gestel is en ek ure spandeer het om oor die “meriete” van brood te debatteer. In ’n stadium het ek besef dat ek my eie navorsing moes doen, aangesien ek myself dikwels in ’n hoek vasgeredeneer het. Nie die ideale posisie vir ’n voedselwetenskaplike nie. My siening was gebasseer op die feit dat brood deel is van die “heilige drie-eenheid” van Bybelse kos, dus moet dit “Bybels-korrek” wees om brood te eet. Daar was egter een faktor waarmee ek nie rekening gehou het nie – die mens en hoe hierdie “wese” my mooi storie opgemors het. Ek kan nóg ’n boek skryf met al die inligting waardeur ek oor die afgelope maande gewerk het, maar dit sal julle net verveel. Ek het dus ’n verkorte weergawe saamgestel. Hopelik het jy tyd om hierdie artikel te lees en miskien is jy bereid om iets daaraan te doen as dit jou raak. Deel dit asseblief met familie en vriende – enige terugvoer is welkom.

“Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Dis in die Bybel. In Deuteronomium beskryf Moses die Beloofde Land as “’n land van graan en gars en wingerde”. Brood is sentraal tot godsdienstige seremonies en word 89 keer in die Bybel genoem. Jode vier Paasfees met ongesuurde paasbrood om die Israeliete se vlug uit Egipte te herdenk. Christene eet brood wat die liggaam van Christus voorstel. Moslems beskou ongesuurde naanbrood as heilig en dring daarop aan dat dit regop geberg en nooit in die openbaar weggegooi word nie. In die Bybel is brood ’n metafoor vir ’n mildelike oes, ’n tyd van oorvloed, vryheid van hongersnood, selfs ’n bron van verlossing.

Breek ons nie brood met vriende en familie nie? Is iets nuuts nie “die beste ding sedert gesnyde brood nie?” Om “die brood uit iemand se mond te neem” is om daardie persoon van ’n noodsaaklikheid te ontneem. Brood is ’n byna universiële stapelvoedsel: chapati in Indië, tsoureki in Griekeland, pitta in die Midde-Ooste, aebleskiver in Denemarke, naan bya vir ontbyt in Burma, baguette in Frankryk, ciabatta in Italië en glazed doughnuts in die VSA.

Die idee dat ’n voedselsoort wat so fundamenteel en diep ingewortel in menswees is, sleg vir ons kan wees, is ontstellend en gaan teen die grein in van ou kulturele beskouings oor graan en brood. Maar vandag se brood het bittermin in gemeen met die brood uit ons voorvaders se oonde. Uit die oorspronklike vertakkings van wilde gras wat deur die eerste mense geoes is, het graan in meer as 25 000 variëteite ontwikkel, waarvan omtrent almal die gevolg van menslike inmenging is – meestal in die laaste deel van die twintigste eeu, toe ’n ontwrigting in kruisingsmetodes die graan verander het.

Genetiese verskille, geskep deur duisende mensgemaakte verbasterings, lei tot aansienlike variasies in samestelling, voorkoms en eienskappe, wat nie net belangrik vir sjefs en voedselaanlegte is nie, maar ook ons gesondheid kan raak. Dit is die stand van sake met hierdie mensgemaakte gras wat ons steeds “koring” noem.

In gesondheidsliteratuur—of dit nou mediese joernale, bloginskrywings of tydskrifartikels is—sal jy waarskynlik op sommige van hierdie terme afkom: coeliakie, gluten-intoleransie, gluten- sensitiwiteit, gluten-sindroom, en gluten-/graan-allergie. Die terme wat mense rondgooi kan verskeie dinge beteken, maar het iets in gemeen: dit beskryf die imuunreaksie wanneer gluten, ’n proteïen wat voorkom in graan, gars en rog, geëet word.

Die biologiese meganismes agter coeliakie is ingewikkeld en word steeds nie ten volle begryp nie, maar die basiese idee is dat gluten – ’n groep proteïene in graan, rog en gars – ’n auto-immuun reaksie veroorsaak wat die epiteellaag van die dunderm kwaai beskadig. Gliadien en glutenien is die twee hoofkomponente van gluten, met gliadien die primêre oorsaak van coeliakie.

Moet ek ’n gluten-vrye dieët oorweeg?

Moet jy oorweeg of jou liggaam ’n probleem met graan kan hê? In my opinie moet enigiemand wat in hierdie era leef, dié vraag ten minste oorweeg. Indien jy aan enige van die meer as 200 toestande ly wat met gluten-sensitiwiteit geassosieer word, sou ek ernstig aanbeveel dat jy graan uit jou dieët sny. Dié toestande is die “kortlys”:

  • Gastroïntestinale probleme: opgeblasenheid, krampe, diarree, hardlywigheid, prikkelbare derm-sindroom, swak spysvertering, sooibrand, ens;
  • Hoofpyne, veral skeelhoofpyne;
  • PMS;
  • Onvrugbaarheid;
  • Inflammasie—sistemies of die hele liggaam;
  • Stywe gewrigte;
  • Buierigheid: angstigheid of depressie;
  • Skisofrenie;
  • Probleme soos leergebreke, outisme, hiperaktiwiteit in die kinderjare;
  • “Hoendervel” op die agterkante van jou arms (klein knoppies wat ’n skurwe vel veroorsaak);
  • Asma en aamborstigheid;
  • Kroniese gesnuif;
  • Hoes;
  • Chrohn se siekte;
  • Velprobleme (ekseem, psoriase, aknee, jeukerige vel, uitslag);
  • Moegheid en min energie;
  • Slapeloosheid;
  • Vogretensie;
  • Auto-immuun siektes (artritis, alopesie, auto-immune hipotireose, tipe 1-diabetes, veelvoudige sklerose, ens.);
  • Miskraam;
  • Gewigsverlies-/toename;
  • Voedingstekorte (a.g.v. wanabsorpsie);
  • Oormatige braking;
  • Spontane neusbloeding en vele meer…

Gevolgtrekking: gluten-sensitiwiteit veroorsaak verskillende simptome by verskillende mense. Luister na jou liggaam.

  • Althea Nel is ‘n voedselwetenskaplike en verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Probeer ook Althea se resep vir ‘n gluten-vrye polentakoek.

Bykomede bronne:

Davis, W. 2014. Wheat Belly. London: HarperThorsons.

http://chriskresser.com

http://draxw.com

Demensie soms voorkombaar

$
0
0
demensie

Volgens die jongste navorsing is ‘n derde van demensie gevalle voorkombaar. Foto: Verskaf.

Navorsing deur die Erasmus-universiteit se Mediese Sentrum (Erasmus MC) toon dat demensie voorkom is in ongeveer ’n derde van gevalle. ’n Gesonde lewenstyl is die groot geheim en sluit faktore in soos rook en diabetes in, terwyl hoë bloeddruk uitstaan. Mettertyd verander die statistiese aandeel van die faktore omdat mense se lewenstyl verander.

Twee studies is in Nederland oor lang tydperke gedoen. Die aantal deelnemers wat 25 jaar gelede gerook het, het van 30% tot net 10% afgeneem en word nie meer as beduidende bydraer tot demensie beskou nie.

Hoë bloeddruklyers wat nie medikasie daarvoor gebruik nie, verhoog hul eie kanse om demensie te ontwikkel. ’n Lae vlak van opvoeding verhoog ook die kanse op demensie.

Hoewel demensie dikwels voorkombaar is, neem dit tog nie af nie omdat verbeterde mediese dienste en lewenstyl daartoe lei dat mense ouer word.

  • Die studie het nie die voorkoms of voorkombaarheid van alkohol- geïndusseerde demensie bespreek nie.

Twee berigte van Trouw kan hier en hier gelees word.

Meer besonderhede: NOS

Oom Herrie se kerrie: Die vyfde gaatjie

$
0
0
Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Desember 2014, op my sestigste verjaardag, het ek by vriend Matie ’n bruin gordel gekry. ’n Hoogs tydige geskenk want my ou bruin gordel was nie meer geskik vir  openbare gebruik nie.

Teen daardie tyd het die meeste broeke al soos sakke aan my gehang – met geen manier waarop ’n mens hulle sonder gordel bo sou kon hou nie.

Met die aanpasslag wonder ek of die gordel ’n gaatjie so ver terug sal hê dat dit stewig om my middel vastrek, maar ek was verniet bekommerd – die vierde gaatjie doen die “triek”.

So mettertyd let ek hoe die gordel egter nog stywer trek – die derde laaste gaatjie, die tweede laaste gaatjie, die laaste gaatjie.  Daar haak dit darem vas.  Ek kry selfs ’n kilogram of wat bygesit – van die laagste, 70 kg op die veearts se skaal toe ons honde, Wolf en Nala geweeg is, tot 72,2 kg op die apteekklinieksuster se skaal tot 73 kg op die dokter se skaal. Op geen manier te lig vir iemand van my lengte nie.

Maar intussen raak daardie laaste gaatjie ook al losser.  Kort voor ek weer dokter toe is, maak ek die vyfde gaatjie met ’n dun skroewedraaier. Nie lus vir ’n openbare verleentheid nie.

Maar dit is om die een of ander rede daardie vyf gaatjies wat in pa se kop kom steek het, en veral die vyfde gaatjie.

Daar is ’n keuse om die vyf gaatjies positief of negatief te ervaar.  Gaan ’n mens ’n kankerlyer, of ’n kankervegter wees?

En moet my geensins verkeerd verstaan nie – ’n mens kan niemand verkwalik wat die lyer-opsie “kies” nie. Die prosedures om by die regte diagnose te kom is nie altyd aangenaam nie, en sommiges is gewoon bitterlik seer. Die pyn wat sekere soorte kanker veroorsaak is onbeskryflik. Gaan trap op een van daardie klein skerpioentjies sodat hy jou voet klits. Bysteek en perdebysteek, bloublasie … nie een kom eens amper naby nie. Nou, gaan versprei daardie pyn oor ’n groter area, en laat dit onverpoosd voortduur…

Nee, ek het nie kanker met sulke pyne nie. Ek het wel ’n gewas in die kop gehad wat periodiek so kloppend pynlik dae lank van hom laat hoor het. Dit wat ek nou het veroorsaak jig – pynlik maar nietig en daar is middele. Sommige soorte kanker se prognose is goed, ander s’n minder goed.

Die speelveld is nie gelyk om ’n keuse te maak om ’n kankervegter of ’n kankerlyer te wil wees nie.

Maar kom ons kyk na die keuses as dit met die Heer se genade moontlik sal wees:

  • Gaatjie een:  Slaggat of die gat waarin die anker haakplek kry. Die ander gat laat struikel en kan skade aanrig.  Die anker hou die skip veilig.
  • Gaatjie twee: Die donker gat waar vrese skuilhou, of die gat in ’n stewige rots teen ’n krans waarin die rotsklimmer se voet ’n veilige vastrapplek vind. Juis uit die era toe die gewas in my kop was, sit ek weer by geleentheid in ’n lang tou en wag vir X-straalplate. Dis ’n swaarmoedige tou. Nie een daar is daar omdat hy of sy daar wil wees nie. Maar een ou Engelse tannie is blymoedig op en af in die tou. Sy vra belangstellend uit, bemoedig. Toe is sy self weg vir haar plate, en vertel iemand haar verhaal. Sy lê in Port Elisabeth in ’n suurstoftent. Een keer elke paar weke word sy die meer as 700 km Bloemfontein toe per ambulans gebring. Sy is die vorige week ook gebring net om te verneem daar was ’n administratiewe blaps gemaak en moet onverrigter sake teruggestuur word.
  • Gaatjie drie: Die tronksel of die skuiling vir huis en haard. Nie alle tronkselle is selle waarin iemand anders jou teen jou sin in toesluit nie. Die grens tussen ’n veilige skuiling waar jy jou kosbaarstes, jou gesin, teen gevare skut, en die tronksel waar ’n mens se inwaartse keer oorboord gaan, is soms ragfyn. Moenie in die proses wat jy ’n kankervegter is, jou geliefdes kankerslagoffers maak nie. Gebruik die grasietyd om elkeen “af te rig” vir sou veggees alleen nie genoeg gewees het nie.
  • Gaatjie vier: Die laaste van die gaatjies waarmee die gordel gekoop is. Die rioolput, of die gat waarin ’n nuwe boom of struik geplant word. (By die uwe is daar ’n uitdaging – dis een ding om te plant, maar ’n ander ding om dit geplant te hou – Wolf en Nala wil ondersoek instel na die gewoel en graaf meer as dikwels die geplante plante uit. Boonop, as dit rabarber is, lol dit want Nala is ’n rabarber-junkie.)  Gaan verwyt ek die Here vir die situasie waarin ek beland het, of gebruik ek die grasietyd vir daardie ding? “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.” Elkeen volgens sy eie talente en gawes.
  • Die vyfde gaatjie: Ons heelal is vol gravitasiekolke, sommige enorm, wat trosse hemelliggame insluk en tot nietige korrels saampers. Vir sommiges is dit soos die sogenaamde swart gat. Ander neem kennis van die enorme hoeveelheid energie wat ontsnap te midde van ruimtemusiek. Soms gee dit soveel lig af dat dit ’n groot deel van die heelal verlig. Gaan die grasietyd jou lig in ’n donker gat wegsluk of gaan jou grasietyd vir ander ’n bron van lig wees?

MIV/vigs: Die een wat deur die nag ons pret beloer

$
0
0
Foto: rondeboschunited.org.za

Foto: rondeboschunited.org.za

Uittreksel:

Ek wonder oor die sterftes. Oor die grafte. Oor die treurendes. Ebola het in 2014 in die omgewing van 8 000 slagoffers oor ’n wye gebied geëis en geweldige mediadekking ontvang. Maar net in 2013 is daar na raming meer as 250 000 Suid-Afrikaners aan vigs dood. Suid-Afrikaners. Dit beteken 250 000 grafte. Miljoene geliefdes in rou smart en armoede gedompel. Die begrafnisbedryf is nie verniet so ’n winsgewende onderneming nie …

Ek gooi diesel in. Bid dat die prys vinnig weer sal afkom om my sak beter te pas. Bekyk die wêreld om die tyd langs die petrolpomp te verwyl – dankbaar dat die joggie die laaste week se goggas van die ruit afseep.

My oog vang ’n man. Hy pomp die werksbakkie se bande terwyl die werkgewer toekyk. Hy is brandmaer. Selfs onder die oorgrote overall kan ek sien dat hy niks meer as 50 kg weeg nie. Sy gelaatskleur is dof, sy gesig is vol knoppe en sy wangbene en spierwit tande staan prominent uit.

Hy is duidelik niks meer as ’n skadu van die man wat hy eens was nie. Die Engel van die Verderf het hom skelm kom besoek. Soos Eugene Marais met wysheid gedig het: “Die een wat deur die nag ons pret beloer en laaste lag is Skoppensboer.”

Ek het ’n klompie jare gelede besluit om in te skryf vir ’n LLD-graad. Drie jaar later sou ek tevergeefs op moedverloor se vlakte sit en huil terwyl ek wonder wat my besiel het. Maar dít is ’n storie vir ’n ander dag …

Die titel van my proefskrif was “Die Impak van die MIV/vigs-Pandemie op Sekere Aspekte van die Suid-Afrikaanse Kinderreg”. As deel van die navorsing moes ek álles rondom MIV/vigs nalees – die oorsake, simptome, impak en verloop van die siekte sowel as statistieke rondom die verspreiding, sterftesyfers, sosiale impak, ensovoorts.

Toe die proefskrif in 2008 verskyn het, was die MIV/vigs-statistieke reeds duiselingwekkend hoog.

Ek lees hierdie week op News24 dat een uit tien Suid-Afrikaners volgens Stats SA met MIV/vigs saamlewe. Dit is 6,19 miljoen geïnfekteerdes – 2,17 miljoen meer as in 2002.

(Dit is nie ’n lesing in MIV/vigs hierdie nie. Die man by die petrolstasie het my bloot laat wonder.)

Ek wonder wat die MIV-syfers werklik is. Ek vermoed dat dit baie hoër as die amptelike statistieke is. Stats SA en die departement van gesondheid se statistieke is veel laer as dié van UNAIDS en ander beskikbare statistiekbronne. Verder is MIV/vigs, sover ek kan vasstel, stééds nie ’n aanmeldbare siekte nie. Dit beteken dat dit bykans onmoontlik is om agter te kom of iemand wel aan vigs oorlede is. Indien ’n MIV-positiewe persoon aan ’n sekondêre infeksie, byvoorbeeld TB, sterf, word die oorsaak van dood op die doodsertifikaat as “TB” aangedui en nie as “MIV/vigs” nie.

Ek wonder oor die regering se inisiatief om MIV-positiewe persone gratis met teen-retrovirale middels te behandel. Altesaam 2,4 miljoen Suid-Afrikaners het reeds hierdie terapie ontvang. My probleem lê nie by die behandeling nie. Ek dink dit is ’n edele inisiatief. My probleem lê by die feit dat die RGN in 2012, in ’n verslag getiteld “National HIV Prevalence, Incidence and Behaviour Survey”, bevind het dat kennis van hoe MIV oorgedra en voorkom word, afgeneem het van 30,3% in 2008 tot 26,8% in 2012. Kan jy jou indink dat daar in 2015 steeds Suid-Afrikaners bo die ouderdom van tien jaar is wat nie weet hoe MIV oorgedra en voorkom word nie?

Ek wonder hoe op aarde die miljoene kinders van MIV-positiewe, sterwende en reeds oorlede ouers cope. Die gedagte laat my maag omkeer en ’n benoude gevoel in my keel opstoot. Volgens UNAIDS was 2,4 miljoen Suid-Afrikaanse kinders reeds in 2013 wees gelaat as gevolg van MIV/vigs. Dit sluit nie kinders in wat saam met ’n MIV-positiewe persoon in ’n huis woon nie. Die simptome waaraan die kinders blootgestel word voordat die ouer sterf, is dikwels traumaties. Hoe kan enige kind, wat nog te sê ’n skoolgaande kind, opgewasse wees hiervoor? Dan is daar nog die sosio-ekonomiese impak op die huishouding: armoede, voedseltekorte, ’n tekort aan geld vir gesondheidsorg, die verlies aan verblyf, voortydige skoolverlating en dies meer.

Ek wonder ook oor die gedesensitiseerde samelewing waarin ons lewe. Verby hoeveel mense ry ek elke dag wat MIV-positief is? Sien ek nog die grys ou gogo met die baba op die rug? Haar dogter is verlede week aan vigs dood en sy moet nou na die vier weeskinders onder tien jaar omsien. Wonder ek ooit oor die slagoffers? Die onskuldige slagoffers?

Ek wonder oor die sterftes. Oor die massas grafte. Oor die treurendes. Ebola het in 2014 in die omgewing van 8 000 slagoffers oor ’n wye gebied geëis en geweldige mediadekking ontvang. Maar net in 2013 is daar na raming meer as 250 000 Suid-Afrikaners aan vigs dood. Suid-Afrikaners. Dit is 250 000 grafte. Miljoene geliefdes in rou smart en armoede gedompel. Die begrafnisbedryf is nie verniet so ’n winsgewende onderneming nie …

Ek wonder. Ek wonder. Ek wonder. Ek bid.

Waar is die basiese bestanddeel – voeding?

$
0
0
Chris-de-Beer-voeding-in-sport

Chris de Beer beskou voeding as een van die belangrikste elemente in ‘n sportpersoon se roetine. Foto: Verskaf.

Chris de Beer

Die internasionale rugbykonferensie op 23 Julie in Pretoria was ʼn skitterende idee van Tuks Rugby en TROK (Tuks Rugby Ondersteunersklub).

Henry Windell was soos altyd ʼn goeie en interessante voorsitter. Naas Botha se bekendstelling van sy nuwe boek, Kreatiewe Rugby, wat hy as openingstema gebruik het, was vir my ʼn eye opener – dit lyk of die rugbymense in Suid-Afrika eindelik ook begin belangstel in sportmanne se breinfunksie! John Mitchell – voormalige All Black-speler en -afrigter (ook van die Leeus in ʼn stadium) – se praatjie oor spandinamika het stof tot nadenke verskaf. Neil Powell, self ʼn Springbok en afrigter van die sewesrugbyspan, se bydrae het my laat besef dat die kultuur anders is as dié van 15-man-spanne.  Johan Ackerman (Akkies) se aanbieding was baie prakties en basies.

Maar hier is my probleem: Niemand noem eens in hul ontledings dat voeding enige rol speel nie. Ek het gehoop dat die belangrike rol van voeding wel later in die program aandag sal geniet. Maar Ivan van Rooyen, die kondisioneringsman van die Leeus, het ook niks gesê oor hoe, wat en wanneer die Leeus eet en drink nie. Net voor hom het dr. Costa Kapnias gepraat oor die “Ready Room” – maar weereens, geen verwysing na voeding nie.

Dit waarvoor ek as spesialis in genetiese voedingkundige gekom het, sou Niki de Villiers van die HPC Tuks darem seker aanspreek! Maar soos baie ander “sport-dieetkundiges” van Suid-Afrika mis sy toe ook die bus. Vraag: Hoe kan elke speler in ʼn span dieselfde genetiese metaboliese samestelling hê? Rugbyspelers is nie robotte nie. ʼn Speler wat isotoniese hiperintoleransie (allergieë) het, kan onmoontlik eet soos wat sy “gebalanseerd” noem.

Die verskil tussen wen en verloor is in baie gevalle net dit: Spelers hardloop letterlik uit energie uit. Hoe, dink enige van daardie sprekers, funksioneer enigiemand maksimaal?

Ek het al talle sportseminare in Suid-Afrika bygewoon; en elke keer is dit net weer dieselfde storie.  Die heel belangrikste aspek word nie eens aangeraak nie: Altesaam 20% van spelers se beserings kan volgens my navorsing vir my doktorale tesis toegeskryf word aan voedingstekorte, asook 30% van swak resultate. Die ontwikkeling van enige sportman of -vrou kan in geen omstandighede optimaal geskied sonder korrekte individuele diëte nie. Net soos wat daar ʼn spelplan opgestel en ʼn tegniese ontleding van die spel gedoen word, moet daar ʼn plan wees vir elke individuele speler se eetpatroon. Wat vir die een werk, werk nie noodwendig vir ʼn ander nie.

Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat nog veralgemeen as dit kom by sportdiëte. Geen twee mense of spelers is geneties dieselfde nie. Die vleuel wat 80 kg weeg met die geweldig vinnig-trekkende wit spiervesel-samestelling kan logies nie dieselfde eet as die stut van 110 kg wat dalk 10% minder wit spiervesel het en daarby nog allerhande kosallergieë nie. ʼn Speler van die A-bloedgroep se bloed bevat baie swakker verteringsensieme as dié van een in die bloedgroep O-negatief, wat baie sterk verteringsensieme bevat. Die speler uit die A-bloedgroep sal 60/40 sy energie uit koolhidrate verkry, en stoor energie 8-12 uur vooraf. Die speler uit die bloedgroep O-negatief moet aminosure of proteïen inneem net 2-4 uur voor ʼn wedstryd om optimale energie te verkry.

My stellings is nie slegs gegrond op my eie navorsing oor die afgelope 20 jaar nie, maar word reeds vir dekades in ander lande toegepas.

Waarom stel ons dit nie onverwyld in werking nie – en wen in die proses (saam met al die wonderlike dinge wat op die konferensie bespreek is) die Wêreldbeker nie?

  • Chris het ‘n MSc (Voeding) en is ‘n voormalige Springbokatleet en Noord-Transvaal-rugbyspeler. Vir meer inligting besoek sy webwerf by www.quantumlogic.co.za
  • Lees al ons rugbynuus op Pale Toe!
Viewing all 116 articles
Browse latest View live