Quantcast
Channel: gesondheid | Maroela Media
Viewing all 116 articles
Browse latest View live

[Video] Moderne hospitaal neem leiding in die gesondheidsektor

$
0
0
Mediclinic-Midstream-eNuus

‘n Skermskoot uit die video.

Die Mediclinic-groep het in Julie ʼn nuwe hospitaal in Midstream, suid van Pretoria, geopen. Gevorderde tegnologie is by die splinternuwe hospitaal ingespan om pasiënte se ervaring so aangenaam moontlik te maak.

Die bestuur van Mediclinic Midstream sê hulle is ook gretig om staatshospitale by te staan.

  • Die insetsel is deur eNuus Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

 


Resep: Chiasaadkoekies

$
0
0
Chaisaad-koekies

Chaisaadkoekies. Foto: Whatscookingamerica.net

Bestanddele:

  • 180 ml chiasade
  • 60 ml botter, saggemaak
  • 1 eierwit
  • 125 ml kokosneutsuiker
  • 125 ml agave nektar
  • 2,5 ml  vanielje ekstrak
  • 125 ml steengemaalde meel
  • 1 ml sout
  • 1 ml bakpoeier

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 180°C.
  2. Plaas die chiasade op ʼn bakplaat en rooster vir 10-15 minute (maak seker dit brand nie).
  3. In ʼn groot mengbak, meng al die bestanddele saam tot goed gemeng.
  4. Plaas bakpapier op ʼn gesmeerde bakplaat en skep lepelsvol van die mengsel op die bakplaat ongeveer 3 cm uitmekaar.
  5. Bak vir 6-8 minute tot goudbruin.
  6. Laat die koekies afkoel vir 2 minute voordat dit van die bakpapier verwyder word en op ʼn afkoelrooster geplaas word.
  7. Berg in ʼn lugdigte houer.

Bron:

Die resep is verskaf deur Althea Nel, ‘n voedselwetenskaplike verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Lees ook haar rubriek oor chiasaad.

Chia die supersaad

$
0
0
Chia-saad

Chiasade is tans een van die gewildste superkosse in die gesondheidsgemeenskap. Foto: Insights.ingredientsnetwork.com

Althea Nel

Chiasade het een van die gewildste superkosse in die gesondheidsgemeenskap geword. Nie net is die voedingswaarde baie hoog nie, maar dit hou ook ander voordele in. Chiasade is oorspronklik in Mexiko verbou, nie net weens die medisinale eienskappe nie, maar ook omdat dit as geldeenheid gebruik is.

Die voordele van chiasade sluit in die ryk vesel-, omega-3 vetsure- en proteïninhoud. Die voedingswaarde van 30 gram chiasaad is:

  • Dieetvesel (11 g – 42% van aanbevole daaglikse inname);
  • Proteïn (4,4 g – 9% ADT);
  • Omega-3 vetsure (4915 mg);
  • Omega-6 vetsure (1620 mg);
  • Kalsium (77 mg – 18% ADT);
  • Koper (0,1 mg – 3% ADT);
  • Fosfor (265 mg – 27% ADT);
  • Kalium (44,8 mg – 1% ADT); en
  • Sink (1,0 mg – 7% ADT).

Belangrikste voordele:

  1. Vel en veroudering:

Navorsers het onlangs bevind dat chiasade een van die rykste bronne van antioksidante in die natuur is en vrye-radikaalaktiwiteit met 70% beperk. Anti-oksidante verhoog die vel se herstelvermoë en voorkom verdere skade. Chiasade voorkom dus vroeë velveroudering weens inflammasie wat deur vrye-radikale veroorsaak is.

  1. Spysverteringskanaal:

Chiasade is uiters hoog in vesel en bevorder gesonde spysverteringskanaalbeweging en ʼn sagte stoelgang. Dit help ook om jou langer vol te laat voel omdat dit baie water absorbeer en uitswel in die maag. Dit onderdruk aptyt, wat weer lei tot gewigsverlies. Die gelatienagtige materiaal wat in die maag vorm, dien ook as ʼn probiotika en ondersteun die groei van gesonde bakterieë in die spysverteringskanaal.

  1. Hartgesondheid:

Chiasade het die vermoë om inflammasie om te keer, reguleer cholesterol en verlaag bloeddruk. anneer oksidatiewe spanning verlaag word, verminder die kanse om atherosklerose te ontwikkel. Dit bevat selfs meer gesonde omega-3 vetsure as salm!

  1. Diabetes:

Die hoë alfa-linoliensuur en vesel in chiasade kan metaboliese toestande soos insulienweerstandigheid voorkom. Vesel is uiters belangrik vir die liggaam se vermoë om die insulienvlakke te balanseer.

  1. Energie en metabolisme:

Chiasade verhoog uithouvermoë gedurende oefensessies wat 90 minute duur op dieselfde vlak as wat sportdrankies doen, maar sonder al die suiker. Deur ʼn porsie chiasade elke dag by jou dieet te voeg, word jou metabolisme verhoog en dit verbrand maagvet. Studies het bevind dat die byvoeging van chiasade in die dieet viserale (buik) vetweefsel verminder, wat metabolisme beïnvloed.

  1. Bene en tande:

Net 30 g chia dra tot 18% van die aanbevole daaglikse hoeveelheid kalsium by en bevat ook boron wat help om kalsium, magnesium en fosfor te metaboliseer vir gesonde groei van bene en spiere.

  1. Spiere en gewigsverlies:

Chia is een van die beste plantaardige bronne van proteïen. Indien jy dus maer spiermassa wil verhoog, vet verbrand en bloedsuikervlakke balanseer, sal die byvoeging van chiasade tot jou dieet baie help. Een van die unieke eienskappe van chiasade is dat dit water tot 10 keer van sy eie gewig kan absorbeer en ou dus kan help om gehidreer te bly terwyl dit die absorpsie van voedingstowwe en elektroliete bevorder.

Daar word ook gereken dat chiasade bors-en servikale kanker beveg. Buiten vir ongemak in die maag indien baie chiasade ingeneem word, is daar weinig newe-effekte. Soos met enige voedselsoort, hou matigheid voor oë en drink altyd baie water.

Hoe om chia in te neem:

Chiasade het ʼn ligte neutagtige smaak en kan maklik by enige gereg gevoeg word as garnering, alhoewel omega-3 vetsure nie maklik beskikbaar is vir vertering indien die sade rou geëet word nie. Die beste manier om van die ryk bron van vitamiene en minerale gebruik te maak, is om die sade te week of fyn te maal.

Anneer dit geweek word, “ontkiem” die sade en die ensiem-inhibeerders word vrygestel. Dit is nou makliker vir die liggaam om die sade te verteer en die beskikbaarheid van die voedingstowwe is ook hoër. In my opinie, wil jy altyd die beste voedingswaarde kry uit die kos wat jy eet daarom week ek altyd my chiasade.

Hoe om te week:

Meng sade met ʼn vloeistof 1:10. Dit is omtrent 1,5 eetlepels sade in 1 koppie vloeistof. Dit hoef nie presies te wees nie, maar jy wil ʼn gel kry wat nie té waterig is nie. Laat dit staan vir 30 minute tot 2 ure. Indien jy die sade nie week nie, kan dit water absorbeer tydens vertering in die maag. Daarom moet jy seker maak dat jy genoeg water inneem om jou liggaam gehidreer te hou.

Hoe om te maal:

ʼn Ander opsie is om die sade te maal in ʼn koffiemeule om die buitenste harde doppie fyn te maak. Dit kan in die meeste gluten-vrye resepte gebruik word om lekkernye soos pannekoek, kolwyntjies, brode en selfs pasta te maak. Wanneer jy die omega 3-ryke sade gemaal het, is dit belangrik om dit in geseëlde glashouer in jou yskas of vrieskas te berg sodat die vetsure nie galsterig word nie.

Daar is so baie redes om chia te eet en daar is nie ʼn beter tyd as nou nie.

  • Althea Nel is ‘n voedselwetenskaplike en verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Probeer ook Althea se resep vir chiasaadkoekies.

[Video] Só opereer Da Vinci-robotte

$
0
0
Foto: Skermskoot uit die video

Foto: Skermskoot uit die video

Vier Da Vinci-robotte word deesdae in Suid-Afrika gebruik om op pasiënte met prostaatkanker te opereer.
Tydens dié operasie word die prostaat verwyder met minimale bloeding.

  • Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

Resep: Perspassie-smoothie

$
0
0
Foto: Jou beste lewe

Foto: Jou beste lewe

Jy sal nie ’n teelepel suiker nodig hê om hierdie medisyne te help sluk nie! Meer bloubessies op die spyskaart is ’n smaaklike manier om jou hart te beskerm. Bloubessies is bekend as dié superkos oor hul kragtige uitwerking om die risiko van hartsiektes te verlaag.

Hulle verdien al die lof wat hulle toegeswaai word! Onlangse studies toon dat mense wat weekliks drie porsies bloubessies eet se kans om ’n hartaanval te kry bykans 35% kleiner is. Dit is waar! Dinamiet kom in klein pakkies en hierdie klein pers bessies ontplof met voedsaamheid.

Lewer 3 smoothies

Hierdie smoothie is ’n betakaroteen-skop! Die druiwe is baie soet. Jy hoef dus nie sap by die smoothie te voeg nie – net water.

Bestanddele:

  • 200 g rooi druiwe
  • 100 g bloubessies, vars of bevrore
  • 100 g swartbessies
  • 4 pruime, pitte verwyder
  • 100 ml koue water

 Metode:

  1. Verwerk alles saam in ’n smoothie-masjien tot glad. Skink in glase en bedien.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

Lynsaad: Hoog in vesel en laag in koolhidrate

$
0
0
lynsaad

Lynsaad. Foto: Curlyafro.com

Althea Nel

Lynsaad (flax seed of linseed) word al die afgelope 6 000 jaar geëet. Dit is klein, bruin- of goudkleurige saadjies wat die rykste plantaardige bron is van omega-3 vetsture in die wêreld! Die voedingswaarde van 30 g lynsaad is as volg:

  • Omega-3 (6,33 mg);
  • Vesel (8 g);
  • Proteïene (6 g);
  • Vitamin B1 (31% ADT);
  • Mangaan (35% ADT);
  • Magnesium (39% ADT);
  • Fosfor (19% ADT); en
  • Selenium (10% ADT).

Belangrikste voordele:

  1. Hoog in vesel, laag in koolhidrate

Een van die merkwaardige voordele van lynsaad is die hoë vlakke slymerige gom. Hierdie gom is ʼn wateroplosbare gel-vormende vesel wat ongelooflike voordele vir die spysverteringskanaal inhou. Dit help dat kos nie die maag te vinnig verlaat nie sodat daar genoeg tyd is vir die absorpsie van voedingstowwe. Lynsade bevat baie oplosbare- en onoplosbare vesel wat die detoksifisering van die kolon asook gewigsverlies ondersteun en dit verminder die lus vir suiker.

  1. Gewigsverlies

Omdat lynsaad vol gesonde olie en vesel is, help dit om jou langer versadig te laat voel en daarom eet jy minder. Die gesonde vetsure help ook om inflammasie te verminder.

  1. Verlaging van cholesterol

Die oplosbare vesel bind met die vet en cholesterol in die spysverteringskanaal sodat dit nie deur die liggaam geabsorbeer word nie. Oplosbare vesel bind ook met gal wat gemaak word van cholesterol in die galblaas. Die gal word dan deur die spysverteringskanaal uitgeskei wat die liggaam weer dwing om meer gal te produseer en sodoende al die cholesterol in die bloed opgebruik en dus verlaag.

  1. Lynsaad is gluten-vry

Dit is ʼn uitstekende plan om grane wat gluten bevat, wat inflammasie veroorsaak, te vervang met lynsaad wat anti-inflammatories is. Gebruik dit gerus saam met klappermeel in gebak.

  1. Lynsade bevat baie anti-oksidante

Lynsaad bevat baie anti-oksidante wat help met die vertraging van veroudering, hormoon-wanbalans en sellulêre gesondheid. Dit ondersteun ook die groei van probiotika in die spysverteringskanaal en help die liggaam om gis en candida uit te skei.

  1. Gesonde spysverteringskanaal

Lynsade help om die wand van die spysverteringskanaal te beskerm en kan voordelig wees vir mense met Krohn se siekte asook ander siektetoestande van die spysverteringskanaal omdat dit inflammasie verminder. Jy kan 15 – 45 ml lynsaadolie met ʼn glas wortelsap meng en dit drink om hardlywigheid te verminder.

  1. Menopousale simptome

Bewyse bestaan dat lynsaad estrogeniese eienskappe het en daarom verligting kan bring tydens die oorgangsjare. Om hierdie voordeel te ervaar, voeg 15-30 ml lynsaad asook 15 ml lynsaadolie by jou ontbytpap.

  1. Gesonde vel en hare

Indien jy ʼn gesonde vel , hare en naels wil hê, voeg 30 ml lynsaad by jou smoothie of 15 ml lynsaadolie by jou daaglikse roetiene te voeg. Die vetsure in lynsaad verskaf essensiële vetsure asook b-vitamiene wat droogheid en skilferigheid voorkom. Dit help ook om aknee en ekseem te verminder, asook die sensitiwiteit van droë oë.

  1. Kanker

Die voordele van lynsaad is al oor en oor bewys en help beveg selfs bors-, prostaat- en eierstok-, asook kolonkanker. Volgens ʼn studie wat onlangs in die Journal of Clinical Cancer Research gepubliseer is, kan lynsaad die voorkoms van borskanker verminder, vermoedelik weens die rol wat lynsaad speel in die balansering van hormone.

Hoe om lynsaad te gebruik

Daar is verskeie wonderlike maniere om lynsaad in jou dieet in te sluit, soos om dit by jou muffinbeslag, brode, beskuit of kleinkoekies te voeg. Een van die algemeenste vrae van verbruikers is of die hoë temperatuur tydens die bakproses die omega-3 vetsure vernietig. Volgens verskeie studies bly die omega-3’s stabiel indien die lynsaad vir 3 ure by 150°C gebak word.

Wenke hoe om lynsaad in die dieet in te sluit:

  • Voeg 15 – 45 ml gemaalde lynsaad by jou ontbytgraan of smoothie;
  • Meng 15 ml met jogurt en suiwer rou heuning;
  • Voeg gemaalde lynsaad by muffins, brood, beskuit of kleinkoekies;
  • Voeg by tuisgemaakte granola; en
  • Meng dit met water en gebruik in plaas van eier.

Dit is die beste om lynsaad te maal, anders kan ons liggame nie die voedingswaarde binne-in die saad gebruik nie en word dit onverteer weer uitgeskei. Jy kan die lynsaad in ʼn koffiemeule maal en net voordat jy dit eet. Die omega-3 vetsure kan galsterig word wanneer dit aan suurstof blootgestel word. Die beste manier om die voordele van die sade te benut, is egter om dit te laat spruit. Weking en die daaropvolgende ontkieming verminder fitiensuur en verhoog die absorpsie van minerale aansienlik.

Net soos genoem vir Chiasaad, drink genoeg water wanneer lynsaad ingeneem word.

Resep: Piesang Smoothie

$
0
0
piesang-smoothie

Piesang smoothie. Foto: Verskaf.

Maak 2 groot glase

ʼn Piesang smoothie is ʼn intelligente keuse vir ontbyt omdat die piesangs, hawermout, lynsaad, jogurt en heuning die voedingswaarde hoog hou. Piesangs kan met die vrug van jou keuse vervang word.

Bestanddele:

  • 1 koppie piesang, rof gekap
  • ½ koppie hawermout
  • 1 koppie ongegeurde johurt
  • 30 ml rou heuning
  • 30 ml lynsaad
  • ½ koppie ysblokkies

Metode:

  1. Plaas al die bestanddele in ʼn voedselverwerker en meng tot glad en skuimerig.
  2. Skink eweveel van die mengsel in 2 glase.

Bedien onmiddelik.

Bron:

Die resep is verskaf deur Althea Nel, ‘n voedselwetenskaplike verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Lees ook haar rubriek oor lynsaad.

Boek: Eet gesond, voel goed

$
0
0

9780624071549.jpgJeske Wellmann / Adele van der Merwe

Navorsing bewys dat baie meer mense elke jaar met kanker gediagnoseer word. Dit is die gevolg wat rook, alkoholmisbruik, ongesonde eetgewoontes, gebrek aan fisiese aktiwiteit en stres op die liggaam het. Die hoofdoel van die boek is om die kankerlyer, versorgers en families op te lei en te bemagtig om die kanker optimal te beveg met voeding. Dié praktiese boek word in twee afdelings verdeel:

1. Teoreties, waar ons fokus op die verskillende tipe kankers, die behandelingmetodes, newe-effekte, gespesialiseerde dieet en eetplanne is.
2. Resepte wat jou sal help om jou energievlakke ‘n hupstoot te gee en om beter te voel terwyl jy kankerbehandeling ondergaan.

In verstaanbare taal probeer die skrywers jou aanmoedig om jou leefstyl, eetgewoontes en dieet te verbeter, terwyl die kanker ook optimaal bestuur word.

Oor die outeurs

Jeske Wellman is die medeskrywer van twee boeke oor voeding, en skryf gereeld artikels oor gesond eet vir tydskrifte. Sy bied ook openbare praatjies aan, veral oor lewenstylverwante siektes. Sy is ‘n geregistreerde dieetkundinge in ‘n privaat praktyk in Johannesburg.

Adele van der Merwe is ‘n geregistreerde dieetkundige met ‘n nagraadse diploma. Sy was sewe jaar werksaam by Chris Hani Baragwanath-hospitaal, en werk tans by Wits Donald Gordon Mediese Sentrum in Pretoria. Sy spesialiseer in voeding vir kanker en siektes van die spysverteringskanaal.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R216.00*
*Prys onderhewig aan verandering


[Luister] Borskanker kry Madelein Rust nie onder nie

$
0
0
Madelein-Rust

Madelein Rust het besluit kanker kan haar nie onderkry nie. Foto: Facebook.

Die skrywer Madelein Rust het verlede jaar haar boek Monstersaad aan kankerstryders opgedra, min wetend dat sy vanjaar self ʼn paadjie met borskanker sou begin stap. Madelein het egter besluit dat die groot K haar eenvoudig nie sal onderkry nie – sy pak haar stryd met kanker aan met ’n soort positiwiteit wat ʼn mens sal verstom.

Esté Meyer Jansen van Maroela Media het gaan vasstel wat Madelein so positief hou.

Janine wil wen met ‘Jenna verloor ʼn mens’

$
0
0
Foto: Facebook

Foto: Facebook

Wanneer jy vir jouself in die spieël kyk en nie meer hou van wat jy sien nie, is daar slegs twee roetes wat jy kan volg: Jy vermy die spieël en gaan voort asof niks fout is nie, of jy besluit om te verander.

Janine Kotze (31) het só ʼn punt in haar lewe bereik toe sy soveel gewig aangesit het dat sy haarself nie meer herken het nie. “Ek is ʼn haarkapper, so ek kyk elke dag vir myself in ʼn spieël terwyl ek met mense se hare werk. Jy sien jouself raak, maar jy wil jouself miskyk.”

Janine sê sy het lank met dié probleem gesit, maar dit altyd met ʼn grappie probeer wegpraat. “Ek het ʼn grap gemaak van alles en selfs grappies gemaak oor my lyf.” Die draaipunt het gekom toe haar man eendag by haar kom sit het en sy hart met haar gedeel het. “Hy het vir my gesê hy het nie ʼn probleem met wie en wat ek is nie, maar die feit dat ek ʼn grap van myself maak laat hom anders na my kyk.” Volgens Janine was dit al wat sy nodig gehad het om haar in die regte rigting te stuur.

Sy het vir ʼn week lank reg geëet, maar daarna weer in dieselfde roetine geval. “Ek het besef al probeer almal my daar kry, moet ek sélf daar kom. Ek het een oggend opgestaan en vir my man gesê: ‘Dit is vandag. Vandag maak ek ʼn verskil in my lewe’.”

Haar Facebook-blad ‘Jenna verloor ’n mens’ is aanduiding dat sy vasberade is.

Dis nou al ʼn maand dat sy reg eet en hard oefen. “Elke dag is vir my moeilik en elke dag moet ek vir myself sê: ‘Gaan net gym toe.’ Elke dag moet ek met myself praat en sê doen dit net!”

Janine hoef darem nie dié moeilike pad alleen te stap nie en sy meen dat sy omring is deur wonderlike mense. Haar instrukteur, Elaine, is vreeslik gemotiveerd om vir Janine by haar teikengewig te kry. “Waarmee ek gemaklik sal wees, is 80 kg, maar, soos wat ek vir Elaine ken, sal sy my druk tot ek by 72 kg is.”

Maar dis veral haar man, Driaan, wat haar grootste motivering is. “My man is ʼn ongelooflike steunpilaar. Hy loop hierdie pad saam met my. As ek voel ek is swak en kan nie meer nie, dan inspireer hy my.”

Luister gerus na die podsending om te hoor waarom Janine dié moeilike pad in die openbare oog aanpak.

Besoek ook Janine se Facebook-blad.

Talle operasies gekanselleer weens tekort aan linne

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Tekort aan skoon teaterlinne het glo daartoe gelei dat 154 operasies by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg vanjaar gekanselleer moes word.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het Maandag gesê Mei was die ergste maand waartydens meer as ʼn kwart van die 154 operasies gekanselleer moes word.

Volgens Bloom het Qedani Mahlangu, Gautengse LUR vir gesondheid, die tekort aan linne toegeskryf aan “ketelmasjinerie wat gebreek het en die foutiewe installering van toerusting om die linne te steriliseer”.

“Sy beweer dat die probleme nou deur die departement van infrastruktuurontwikkeling reggestel is,” het Bloom gesê.

“Mahlangu het gesê dat skoon linne verseker sal word deur meer daarvan op die perseel te was en te steriliseer en om afgetrede verpleegsters aan te stel om die bestuur van die linne tussen die waskamer en teaters te koördineer.”

 

Resep: Minipizzas

$
0
0
Foto: Lekker en Gesond: Glutenvry

Foto: Lekker en Gesond: Glutenvry

Wenk: Sit voor saam met ’n mengelslaai of bevries die afgekoelde pizzas vir kospakkies later die week.

Aantal porsies: 16 x 150 g

Aanbevole porsiegrootte: 150 ga

Bestanddele:

Pizzabasis

  • 350 g glutenvrye koekmeelmengsel
  • 150 g kekerertjiemeel
  • 3,75 ml sout
  • 2 ml droë gis
  • 75 ml kanolaolie
  • 280 ml louwarm water

Pizzasous

  • 2,5 ml kanolaolie
  • 1 ui, gekap
  • 10 ml gekapte knoffel
  • 820 g (2 blikke) gekapte tamaties
  • 125 ml rooilensies
  • 250 ml kookwater
  • 10 ml hoenderaftrekselpoeier
  • 10 ml droë origanum
  • 5 ml sout
  • varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 o Spuit ’n bakplaat met kleefwerende kossproei.

Pizzabasis

  1. Meng die pizzabasis se droë bestanddele saam en voeg die olie en louwarm water by. Meng goed sonder om te knie en vorm ’n bal. Bedek en laat rys op ’n warm plek.

Pizzasous

  1. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui en knoffel tot sag en geurig.
  2. Voeg die res van die bestanddele behalwe die swartpeper by. Laat prut 30 minute bedek totdat die lensies sag is.
  3. Geur met varsgemaalde swartpeper. Laat afkoel.
  4. Strooi glutenvrye meel op ’n werkoppervlak en rol die pizzadeeg daarop uit. Druk sirkels met ’n deursnee van 16,5 cm daarop uit en plaas op die bakplaat.
  5. Verdeel die pizzasous tussen elke pizzabasis en plaas jou gunstelingbolae, soos fyngekapte groen soetrissie, sampioenskyfies, ham en mozzarellakaas bo-op. Sprinkel met droë origanum en bak 20 minute tot gaar.

Bron: Lekker en gesond: Glutenvry
Uitgewer: Lapa

 

Bipolêr: Die swart hond met die bont kolle

$
0
0

bipoler-infografika-2“Die swart gat van depressie trek my die dieptes in en ek spiraal na onder teen ʼn verbysterende spoed. Die pad afwaarts bring ʼn angstige verlies aan positiwiteit; ek het energie vir niks – iewers het die lus om te lewe in die gespin verdwyn. In my eie oë is ek waardeloos en gee niemand om nie. My kop is vol wol en my gedagtes onsamehangend. Op die bodem van die diep gat is hoeke en draaie waar gedaantes dans en die skadu’s maak nie sin nie,” beskryf Liza,* wat aan bipolêre gemoedsversteuring ly, ’n depressiewe episode.

Wat is bipolêre gemoedsversteuring?

Bipolêre gemoedsteuring (kortweg bekend as bipolêr) is, volgens Sadag (Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep), ’n biologiese siekte wat gekenmerk word deur ekstreme skommelings in gemoedstoestand, energievlakke en optrede. ’n Lyer se gemoed wissel tussen episodes van maniese en diepe depressie met tye van normale gemoedservaring tussenin. Daar is twee hooftipes bipolêre gemoedsversteuring wat as bipolêr 1 en bipolêr 2 bekend staan. Lyers met bipolêre gemoedsversteuring, tipe 1, het reeds ten minste een maniese en verskeie fases van ernstige depressie belewe. Tipe 2 verskil van tipe 1 deurdat lyers nog nooit volle manie beleef het nie, maar wel hipomanie (’n minder ernstige vorm van manie), afgewissel met ernstige depressiewe fases.

Simptome en diagnose

Volgens Sadag is die diagnose van bipolêre gemoedsversteuring klinies van aard. Dit beteken dat dit gegrond is op die pasiënt se beskrywing van sy of haar gemoedskommelinge. ’n Diagnose is ingewikkeld en moet verkieslik deur ’n mediese spesialis gedoen word nadat die pasiënt behoorlik geëvalueer is.

Dr. Gert Venter, ’n psigiater van Pretoria, verduidelik dat lyers met bipolêre gemoedsversteuring, tipe 2, dikwels verkeerd gediagnoseer word omdat hulle slegs hulp soek in die depressiewe fases. “Die hipomaniese fase word selde aangemeld omdat lyers goed voel,” voeg hy by. “Dit is daarom altyd belangrik om uit te vra na hipomaniese of maniese simptome. Indien ’n pasiënt swak reageer op behandeling moet die diagnose áltyd herevalueer word. Dit is dus nuttig as geliefdes by die diagnoseproses betrokke is.”

Indien ’n pasiënt reeds vir depressie behandel word en die simptome nie verbeter nie, bestaan daar ’n moontlikheid dat hy of sy eerder aan bipolêre gemoedsversteuring ly. So ’n pasiënt kan vir ’n paar maande antidepressante met welslae gebruik, maar dan agterkom dat die depressie erger raak. Indien hy of sy dan met bipolêr gediagnoseer word, moet die medikasie aangepas word aangesien die behandeling van bipolêre gemoedsversteuring aansienlik verskil van dié van depressie.

Klik hier om meer te lees oor diagnose en behandeling.

Belang van medikasie

Volgens dr. Venter is dit belangrik dat die lyer die regte medikasie en behandeling ontvang.

Hy verduidelik dat medikasie die lyer se gemoed stabiliseer en dat langtermynbehandeling, soos met enige ander chroniese siekte, nodig is. Skielike staking van medikasie kan tot onttrekkingsimptome en episodes van terugval lei. Hy beklemtoon ook dat die medikasie en dosisse gereeld hersien moet word – veral wanneer die lyer ’n depressiewe of maniese fase beleef.

Bipolêre gemoedsversteuring kan moontlik met die volgende tipes medikasie behandel word: gemoedstabiliseerders, antipsigotiese middels en antidepressante in sekere gevalle.

Volgens Suzette Heath, kliniese sielkundige van Tokai, Kaapstad, het navorsing bevind dat psigoterapie tesame met medikasie die beste resultate bied. Sielkundiges speel dus ook ’n beduidende rol in die behandeling van bipolêre gemoedsversteuring.

Die gevaar van manie of hipomanie

Liza, wat aan bipolêr, tipe 2 ly, is ’n suksesvolle kunstenaar. Sy beskryf hipomaniese episodes: “Hipomanie is wonderlik. Ek sien kans vir net mooi álles wat oor my pad kom. Ek het genoeg energie om bomenslik hard en vinnig te werk: My verstand is helder en gefokus. Op skool het dit my gehelp om goed te presteer op akademiese, kulturele en sportvlak. Nou kan ek tydens hipomanie kreatief aan kunsprojekte werk en ongelooflik baie kunswerk produseer. Ek raak ook baie vrolik en spandabelrig en het ’n groot behoefte om sosiaal te verkeer.”

“Pasiënte met bipolêre gemoedsversteuring, tipe 1, loop erger deur onder die probleme wat manie meebring. Hipomanie is minder destruktief en lyers se sosiale funksionering en werk word nie belemmer nie,” verduidelik dr. Venter. “Dit is egter belangrik dat lyers ook tydens hierdie fase hulp soek aangesien hulle dikwels impulsief optree en, byvoorbeeld, groot bedrae geld uitgee. Dit plaas finansiële druk op die lyer en sy of haar gesin.”

Volgens Sadag kan ’n lyer wat erge manie belewe selfs psigoties raak en kan opname in ’n psigiatriese hospitaal nodig wees. Gevoelens van euforie, slaaploosheid, oordrewe selfvertroue, grootheidswaan en hallusinasies is ook simptome van erge manie. Die feit dat die simptome maklik en dikwels met dié van skisofrenie verwar word, is problematies.

Dr. Venter bevestig ook dat die feit dat ’n depressiewe fase byna áltyd op ’n maniese of hipomaniese fase volg, gevaarlik kan wees. Dit is dus belangrik dat die pasiënt proaktief optree. Indien die nodige aanpassings in medikasie betyds gemaak word, kan die depressiewe fase vermy word. Geliefdes moet die lyer aanmoedig om betyds hulp te vra.

Bipolêr en selfmoord

Heath bevestig dat selfdoodgedagtes en -pogings dikwels deel vorm van die depressiewe fase. Sy verduidelik: “Die moedelose lyer sien géén ander uitkoms nie. Dit is ’n uiters stresvolle tyd vir die lyer sowel as geliefdes.”

Dr. Venter beklemtoon dat dit lewensnoodsaaklik is om elke keer onmiddellik hulp te kry. “’n Aanpassing in die medikasie en opname in ’n kliniek is dikwels nodig om ’n veilige omgewing te skep waarbinne die lyer kan herstel. Dit verlig ook die druk op ondersteuningsisteme.”

My geliefde ly aan bipolêr. Wat nou?

In die depressiewe fase ervaar die lyer gevoelens van verwerping, isolasie, selfbejammering en ’n lae selfbeeld. Die lyer verbreek ook dikwels kontak met geliefdes en dit kan stremming op verhoudings plaas. “In die depressiewe fase ontstaan daar ’n sterk gevoel van mislukking en wanhoop by die lyer. Hartseer en angstigheid is ook kenmerkend. Die lyer se selfvertroue bereik ’n laagtepunt en dit het tot gevolg dat kontak met vriende en geliefdes verbreek word. Eintlik is die ondersteuning van geliefdes dan broodnodig,” verduidelik Heath.

Dr. Venter gee verder raad: “Ondersteuning en empatie sowel as struktuur is noodsaaklik. Moedig die lyer aan om konstruktief besig te bly.”

Dit is problematies as die lyer en die geliefdes ver van mekaar woon aangesien ondersteuning dan baie moeilik is. Volgens dr. Venter is ’n ondersteuningstelsel in die lyer se onmiddellike omgewing noodsaaklik. Aangesien familie dikwels ver is, is dit gewoonlik huweliksmaats, vriende en medewerkers. Daar is ook talle ondersteuningsgroepe vir lyers én geliefdes – al is hulle ver – wat waardevolle ondersteuning bied.

Geliefdes voel ook dikwels dat hul hande afgekap is – hulle kan niks vir die lyer doen nie. Volgens dr. Venter is familieterapie nuttig om geliefdes te bemagtig. Heath stem saam en bevestig dat geliefdes groot baat vind by ondersteuningsgroepe. Dan kan hulle sien dat dit normaal is om hulpeloos en skuldig te voel en ook raad kry oor hoe om dit te hanteer.

Dit is nie net die depressiewe fase wat stremming op verhoudings plaas nie. Heath bevestig dat ander mense dikwels nie in die maniese of hipomaniese fase kan byhou nie. “Daar is geen keer aan die lyer nie en dit kan moontlik misverstand en konflik veroorsaak.”

Sadag gee raad aan geliefdes wat ’n bipolêre lyer ondersteun:

  1. Help die lyer om reg gediagnoseer te word en behandeling te ontvang.
  2. Stel vas of daar ondersteuningsgroepe in die omtrek is. Dit help om vrese, bekommernisse en gevoelens rondom die siekte met ander in dieselfde situasie te deel. Sadag het ’n lys van meer as 250 ondersteuningsgroepe landwyd.
  3. Stel alles wat jy moontlik kan rondom die siekte vas. Kennis is werklik mag.
  4. Ondersteuning is belangrik en die lyer moet bewus wees van die feit dat jy omgee.
  5. Moedig die lyer aan om saam met die familie op uitstappies te gaan en deel te neem aan aktiwiteite.
  6. Moenie die lyer probeer dwing om vrolik te wees nie. Depressie is een van die endogene simptome.
  7. Dit is belangrik om te luister. Probeer vasstel wat die lyer se drome, gevoelens en behoeftes is.
  8. Behandel die lyer so normaal moontlik en nie soos ’n kind nie.
  9. Dreigemente om selfdood te pleeg moet ernstig opgeneem word. Soek dadelik hulp.

Wat van die stigma?

“Die stigma wat aan psigiatriese siektes kleef, getuig van oningeligtheid,” sê dr. Venter. “Kennis is mag en ’n oningeligte mening doen meer skade as goed. Elkeen wat met die siekte te doen kry moet help om dit te destigmatiseer.” Hy beklemtoon ook dat bipolêre gemoedsversteuring ’n siekte met ’n biologiese oorsprong is – net soos diabetes of hoë bloeddruk. Heath voeg by dat die lyer beskou moet word as ’n “persoon met ’n siekte genaamd bipolêr” en nie as “’n bipolêr” nie.

Klik hier om Sadag se bipolêr-vraelys af te laai indien jy vermoed dat jy moontlik aan bipolêre gemoedsversteuring ly. Sadag beveel sterk aan dat die uitkoms van die vraelys met ’n mediese praktisyn bespreek word.

En onthou dan die liriek van Amanda Strydom se bekende lied:

“Strydom Amandla
Manies depressief
so staan dit opgeteken in my dokter se argief
sy praat te veel
sy lag te hard
Daar’s stemme in haar kop
die wanbalans is bipolêr
ons sluit haar liewers op …”

(Lees ook hier wat sy in 2008 aan Deon Knobel op LitNet vertel het oor haar bipolêre gemoedsversteuring. Amanda ly aan bipolêr, tipe 1.)

* ’n Skuilnaam is gebruik om die bipolêr-lyer se identiteit te beskerm.

Resep: Beesfilet met geroosterde knoffelroom en beet-en-lemoen-slaai

$
0
0
Foto: Jou beste lewe

Foto: Jou beste lewe

Beet kan nie “beet-er” vir jou wees nie. Jou smaakknoppies kan dit dalk haat, maar jou are sal mal wees daaroor omdat dit so hoog is in nitrate (wat in nitriete omgeskakel word deur die bakterieë in jou mond). Nitriete help jou are vergroot, wat bloedvloei en suurstofopname verbeter. Om hierdie rede word beet beskou as een van die antwoorde op medikasievrye behandeling van bloeddruk. Boonop is dit propvol kalium, anti-oksidante en oplosbare vesel, wat alles saamwerk om hartkwale te bestry.

Bestanddele:

  • 500 g vryloop-beesfilet, al die senings afgesny
  • 1 t varsgemaalde sout
  • 1 t varsgemaalde peper
  • 3 of 4 knoffelhuisies
  • 50 ml olyfolie
  • 250 ml room
  • 2 e gekapte grasuie

Vir die slaai

  • 30  wilderoket
  • 2 lemoene, geskil en gesny
  • 100 g klaar voorbereide beet, geskil en in kwarte gesny
  • 50 g feta
  • 20 g uiespruite
  • 2 e gekapte vars kruisement

Vir die slaaisous

  • 2 lemoene se sap
  • 25 ml rysasyn
  • 50 ml olyfolie
  • varsgemaalde sout en peper

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Verhit ʼn groot pan, gooi olyfolie oor die filet en geur met sout en peper.
  3. Braai die filet bruin aan al die kante en plaas in die oond vir nog 20 minute of tot dit so gaar is soos jy daarvan hou.
  4. Terwyl die filet in die oond is, braai die knoffelhuisies in ʼn klein pannetjie met 50 ml olyfolie tot dit goudbruin is.
  5. Kook die room in ʼn ander klein kastrolletjie af tot dit met die helfte verminder het. As dit wil oorkook, klits dit net effens. Voeg die knoffelhuisies by die room terwyl dit afkook. Voeg die grasuie by die room.

Vir die slaaisous:

  1. Meng die lemoensap, asyn en olyfolie in ʼn klein bakkie en geur met sout en peper.

Vir die slaai:

  1. Pak die roket uit op ʼn mooi opdienbord, gevolg deur die lemoene, beet, gekrummelde feta, slaaisous, uiespruite en kruisement.
  2. Haal die filet uit die oond en wag ʼn paar minute voordat jy dit opsny. Bedien die knoffelroomsous oor die gesnyde beesfilet.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

Volg dié wenke om gehidreer te bly in die somerhitte

$
0
0
Dit is baie belangrik om gehidreer te bly in die warm somerhitte. Foto: Argieffoto.

Dit is baie belangrik om gehidreer te bly in die warm somerhitte. Foto: Argieffoto.

Wanneer dit uitermatig warm is in die somer, is dit nie net belangrik om gesonde leefstylkeuses te maak nie, maar ook om daagliks gehidreer te bly. Lynette Erasmus, ʼn kliniese dieetkundige, het aan Maroela Media verduidelik hoe om gehidreer te bly.

Dit hoef nie ʼn straf te wees om gehidreer te bly hoef nie, sê Lynette. Daar is baie maklike maniere om water by jou alledaagse lewe en dieet te voeg.

Hoe kan ek slim keuses maak oor kosse wat my ook gehidreer sal hou?

Lynette raai mense aan om druiwe in die vrieskas te sit. Dié vrugte vries nie kliphard nie en is lekker om te eet wanneer dit yskoud is. Vrugte hidreer jou ook baie goed. Eet ook baie vrugte en kosse met ʼn lae GI omdat dit jou langer gehidreer kan hou. “Jy kan ook jogurt, kersietamaties en slaaie byderhand hou vir peuselhappies.”

Wat van koffie?

Probeer om nie meer as drie tot vier koppies koffie per dag te drink nie. Lynette beklemtoon daar is nie ʼn verskil tussen moerkoffie of poeierkoffie nie. “Ek raai mense ook altyd aan om altyd ʼn glas water te probeer drink voordat hulle ʼn koppie koffie drink. Dan voel jy nie so geïntimideer deur ʼn groot bottel water nie.”

Mag ek oefen?

Omdat mens baie vloeistof verloor wanneer jy oefen, raai Lynette aktiewe mense aan om eerder te gaan draf wanneer dit nie meer so warm is nie. Jy moet ook altyd verseker dat jy ʼn bottel water byderhand het.

Lynette se top-vyf wenke om gehidreer te bly in die hitte:

  1. Bly weg van alkohol en te veel koffie.
  2. Eet baie groente, vrugte en slaaie.
  3. Eet meer laevetprodukte.
  4. Drink ten minste ses tot agt glase water per dag.
  5. Oefen in die aande wanneer die ergste hitte verby is.

Geluk in ‘n eenvoudige maaltyd

$
0
0
Kersfees-kos

Foto: Theorganicprepper.ca

Althea Nel

Dit is wonderlik om te weet ons hoef nie voor God perfek te wees nie. Kersfees bring egter besige skedules, afgematte geliefdes, propvol inkopie-sentrums, haastige kopers en seisoenale take wat eintlik niks met Jesus se geboorte te doen het nie. In al hierdie gejaagdheid, waar vind jy stilte en rustigheid? Waar is jou plek van rus?

Met dankbaarheid kan ons weet ʼn brood-nodige seën verskyn regdeur die Kersfeesverhaal. Dié woord word meer as vierhonderd keer in die Bybel gebruik en is ʼn woord vervleg in al die profesieë van Jesus se koms as ʼn spesiale geskenk aan ons van God. Daardie woord is vrede.

Jesaja het die volgende gesê van Jesus: “5Vir ons is ʼn Seun gebore, aan ons is ʼn Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. 6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.” (Jesaja 9:5-6.

Verder lees ons op die nag van Jesus se geboorte, 13Skielik was daar saam met die engel ʼn groot menigte ander engele, ʼn leërskare uit die hemel, wat God prys: 14“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ʼn welbehae het.” Lukas 2:13-14.

Hierdie belofte van vrede is beslis baie welkom, veral tydens Kersfees waanneer daar soveel is wat ons innerlike vrede kan steel. Die Engelse vertaling van Vredevors is baie treffend:  His name will be called Prince of Peace. — Isaiah 9:5.

Maar wat het die Prins van Vrede met kos te doen? Baie mense verbind Kersfees met ʼn groot maaltyd en baie feesvieringe, wat weer baie konflik en spanning veroorsaak. Jy is beslis nie alleen indien jy so voel nie. Ons is geneig om te dink dat indien ek genoeg geld het, kan ek die beste maaltyd voorsit, waaroor my gaste nog vir maande sal praat.

Veral tydens die Kersseisoen, of soos wat die kommersiële wêreld dit herdoop het na “silly season”, dink mense wêreldse skatte en besittings is die weg na innerlike vrede. Mense dink hulle sal gelukkig wees indien hulle die nuutste katoeter het. Ongelukkig werk planne soos hierdie gewoonlik nie. Wêreldse dinge kan nooit die leegheid in ons harte vul nie en kan nooit verbrokkelde verhoudings herstel nie. Net so kan kos ook nie hierdie rol speel nie. Indien ons harte seer is, kan ons nie ons mae vul met kos en dink dit gaan ons harte en verhoudings herstel nie.

Soos Kersfees naderkom, wat kan ons doen om regtig rus te beleef ten spyte van al die aktiwiteite? Jesus wys vir ons die weg in Johannes 14:27: 27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Jesus se rus is nie gebaseer op omstandighede nie, maar is eerder ʼn buitengewone geskenk waarmee ons geseën word wanneer ons die pad stap saam met Jesus as ons Here. Die goeie nuus is dat Jesus hierdie diep innerlike  rus beskikbaar stel vir almal wat in Hom glo. Daarom kan jy vashou aan Filipense 4:7 “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus”.

My wens vir elke leser is dat jy in hierdie tyd jou verhouding met die Prins van Vrede sal herstel, want daaruit sal ʼn hemelse vrede kom wat ook sal oorspoel na ander verhoudings. Mag ʼn eenvoudige maaltyd berei met liefde en sorg, jou gelukkig maak. Indien jy kos gebruik om jou emosionele seer te herstel, bely dit voor die liewe Vader en vra Hom om jou te help deur hierdie proses om jou verhouding met kos te herstel, want Jesus vul jou hart en jou lewe en kos hoef nie hierdie rol te speel nie. Mag elke maaltyd wat jy berei, uit dankbaarheid wees vir al die seëninge en dat jou fokus op die Prins sal bly! Mag jy ʼn geseënde Prins van Vrede fees ervaar hierdie Desember van 2015.

 

Suikervrye meringue

$
0
0
suikervrye-meringue

Foto: Verskaf.

‘n Heerlik skuldvrye nagereg vir Kersfees.

Bestanddele:

  • 3 groot eierwitte
  • 250 g xylitol
  • 20 g mielieblom
  • 5 ml suurlemoensap

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 150 °C.
  2. Klop die eierwitte totdat dit sagte punte vorm.
  3. Voeg driekwart van die xylitol geleidelik by en klop die beslag ná elke byvoeging.
  4. Vou die mielieblom, die res van die xylitol en suurlemoensap bymekaar en meng goed.
  5. Voer ʼn skinkbord met waspapier uit en maak drie sirkels van die meringue-beslag.
  6. Bak vir 20 minute.
  7. Verwyder uit die oond en laat dit afkoel en verhard vir 24-uur.

Bron:

Die resep is verskaf deur Althea Nel, ‘n voedselwetenskaplike verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Lees ook haar rubriek oor Kersetes.

 

[Luister] Kansa verduidelik waarom verwerkte vleis ongesond is

$
0
0
verwerkte-vleis

Foto: Ddwcolor.com

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het onlangs amptelik verwerkte vleis as karsinogenies vir mense geklassifiseer. Verwerkte vleis word nou net so gevaarlik as tabakrook, asbes en lugbesoedeling beskou.

Elnette du Toit van die Kansa-kantoor in Onrusrivier in die Overberg-omgewing gesels met Heidi Scrooby van Whale Coast FM oor die gesondheidsgevaar wat die inname van dié soort vleis inhou en wat jou inname van verwerkte vleis en rooivleis behoort te wees. Elnette verduidelik ook Kansa se standpunt oor banting.

Spar in Plet laat sosiale media gons

$
0
0
Spar (1)

Foto: Facebook/ Anton Muller

ʼn Foto wat by die Beacon Isle Kwikspar in Plettenbergbaai geneem is, het omtrent sosiale media aan die gons. In die foto is daar ʼn krat vol vrugte met ʼn boodskap wat lui: “Hallo ouers, vat gerus ʼn gratis vrug vir jou kinders terwyl jy inkopies doen. Ons moedig gesonde eetgewoontes aan en wil jou inkopie-ervaring so ’n klein bietjie makliker maak.”

Die eienaar, Duncan Brown, sê hy het dié oulike idee oorsee by Tesco gesien en besluit om dit ook in sy winkel in te stel.

Duncan sê hy bestee baie geld en moeite daaraan om dié winkel ʼn bietjie meer spesiaal te maak omdat ʼn groot deel van die gemeenskap by sy winkel koop. “Ons is ʼn klein gemeenskap en almal ken mekaar – ons moet vir mekaar omgee.”

Vir dié eienaar is gehaltekos baie belangrik en hy meen daar is baie opsies vir mense wat gesondheidsbewus is, maar hulle is nie uitsluitlik ʼn gesondheidswinkel nie. “Ek dink nie ons gaan mense se lewe verander deur vrugte gratis te gee nie, maar ons probeer om die manier hoe ons ons winkel bestuur, net ’n bietjie anders te hanteer.”

Verskeie mense het dié foto gedeel en kommentaar gelewer oor die manier waarop Duncan sy winkel bestuur en ouers in ag neem.

Veiligheid- en gesondheidswenke vir die nuwe skooljaar

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Met die nuwe skooljaar wat aangebreek het, is dit belangrik dat ouers, veral dié van jonger kinders, die veiligheid en gesondheid van hul kinders in ag neem. Chitra Bodasing, ER24 woordvoerder, het ʼn paar gesondheid- en veiligheidswenke met Maroela Media gedeel wat ouers in gedagte kan hou dié nuwe jaar.

Onthou die volgende veiligheidswenke:

  • Daar is veiligheid in groepe. As jou kind van die skool af huis toe loop of op uitstappies gaan, maak seker dat hulle dit in groepe doen en nie alleen nie.
  • Verseker dat waardevolle items soos selfone en tablette nie sigbaar is nie.
  • Leer jou kinders basiese padreëls. Hulle moet byvoorbeeld net ʼn pad oorsteek waar aangedui word dat dit veilig is.
  • Moet nooit ʼn saamrygeleentheid van ʼn vreemdeling aanvaar nie. As jou kinders vroeg by die skool is, is die kanse hiervoor kleiner.
  • As jou kind deel is van ʼn saamryklub, maak seker dat jy weet presies wie deel van die klub is. Verseker ook dat die korrekte veiligheidsmaatreëls soos veiligheidsgordels in die motor in plek is.
  • Hou altyd ʼn lys van noodnommers by jou.
  • Maak seker jy weet altyd waar jou kinders kuier in geval van nood.

Volg ook hierdie gesonheidswenke:

  • ʼn Gebalanseerde dieet, genoeg slaap en oefening verlaag kinders se stresvlakke.
  • Moenie jou kinders blootstel aan sigaretrook of alkohol nie.
  • Stel ʼn rooster vir jou kinders op tydens eksamentye om te verseker hulle doen nie alles op die laaste nippertjie nie.
  • Probeer om jou kinders by sportaktiwiteite betrokke te kry. Die oefening verbeter nie net hul algemene gesondheid nie, maar verminder ook stres.
  • Maak seker jou kinders het sonskerm by hulle wanneer hulle buite gaan wees.
  • Moedig jou kinders aan en bou ʼn vertrouensverhouding om te verseker hulle praat met jou oor wat by die skool gebeur, sodat jy weet wanneer jou kind geboelie word.

 ER24 kan vir mediese noodgevalle gebel word by 084 124.

Viewing all 116 articles
Browse latest View live