Quantcast
Channel: gesondheid | Maroela Media
Viewing all 116 articles
Browse latest View live

[Foto’s] 25 Kosblik idees

$
0
0
Tunabroodjie

Foto: 5dollardinners.com

Dis amper weer tyd vir kinders om terug skool toe te gaan en ʼn lekker kosblik maak die skooldag sommer beter. Hier is 25 kosblik idees om mammas se werk bietjie makliker te maak.

Jy kan ook ʼn lys van proteïne, groente, vrugte en grane hier aflaai wat jou sal help om ʼn gebalanseerde kosblik te pak.

Besoek gerus 5 Dollar Dinners se webtuiste vir nog oulike kosblik idees.

Ham toegedraai in kaas Worsie in ʼn muffin Worsie gevul met kaas Waffels met stroop Volgraanmuffin met kaas Volgraanbrood met grondboontjiebotter en konfytstroop Pizzahorinkie (toegedraaide pizza) Spagetti en slaai Spek en tamatie-broodjie Tunabroodjie Vleisham-broodjie Pitabrootjie met piesang en grondboontjiebotter Pannekoek Macaroni en kaas Kaas, soutkoekies en vrugte Hamburger Gedroogte vrugte, kaas en amandels Groente-en vleis-wrap Grondboontjiebotter-en-konfyt-wiele Ham en kaas-kebabs Eierbroodjie

[Resep] Verfrissende pynappel-en-kruisement-drankie

$
0
0
Pynappel

Foto: Jou beste lewe

Behalwe vir sy stekelrige skil is daar niks pynliks aan die gesondheidsvoordele van pynappel nie. Hierdie soet, sappige vrug bevat bromalien, ʼn ensiem wat artritispyn verlig deur inflammasie te verminder. Pynappels is ook ʼn goeie bron van vitamien C, wat jou immuunstelsel help versterk en ʼn verkoue of twee keer. Bou jou weerstand met hierdie soldaat in jou gesondheidsweermag!

Bestanddele:

  • 4 vars pynappels
  • 3 takkies kruisement
  • 4 koppies ys

Metode:

  1. Skil en versap die pynappels.
  2. Verwerk die sap, kruisement en ys saam in ʼn smoothie-maker tot glad.
  3. Bedien onmiddellik.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

Hoekom het jy ʼn dokter geword?

$
0
0
dokter

Foto: DarkoStojanovic/Pixabay.com

Ek kan klagtes indien by die betrokke hospitale of Mediese Raad om van my frustrasie ontslae te raak, maar ek weet daar sal net mooi niks van kom nie. Daarom spreek ek maar my misnoeë uit op dié manier. Miskien sal een van ons goeie dokters dit raaklees en, net miskien, sal daar ʼn liggie begin flikker.

My ouma is 85 jaar oud en haar gesondheid (vanselfsprekend) is nie wat dit moet wees nie. Sy is in ʼn bekende hospitaal opgeneem met erge hartversaking. Ná ʼn dag in die waakeenheid het die dokter haar na ʼn gewone saal oorgeplaas met die opmerking, “dit is oumense soos jy wat net heeldag lê wat so siek word” (hoewel sy in daardie stadium nog baie aktief was en haarself versorg het). Hy het vir haar fisio gereël sodat sy ’n bietjie meer kon loop. Sy het so sleg en verneder gevoel.

In die saal het sy op haar eie probeer regkom, al voel sy sleg, en as gevolg hiervan het sy met haar kop teen die muur geval. Sy het harsingskudding opgedoen en vir ʼn week het sy nie geweet waar sy is nie. Sy kon nie slaap nie, want die drogbeelde wat “uit die mure kom”, het haar gejaag. In plaas daarvan om haar miskien iets te gee om haar te laat slaap, het die verpleegpersoneel haar by hul diensstasie laat sit sodat sy nie die ander pasiënte pla nie. Ons het met die dokter in verbinding getree en sy antwoord was: “Sy moet dit maar net afslaap.” Sy is net so ontslaan …

’n Paar maande later is sy weer in dieselfde hospitaal opgeneem met erge blaasontsteking en sy kon nie wakker bly nie. Sy het self na die rolstoel geloop sodat hulle haar in ʼn ambulans kon laai om na die hospitaal te vat. Sy was vir ’n paar dae regtig siek, maar het stelselmatig beter geword. Die een dag het sy nog regop gesit en met die volgende besoektyd het sy ons nie herken nie. Sy was soos ʼn bondeltjie opgerol, en kon nie loop nie.

Ons wou die dokter laat weet, maar sy beantwoord toe nie ons oproepe nie. Ons los briefies vir haar op haar lêer – geen antwoord nie. Ons los vir haar boodskappe op my ouma se selfoon – geen reaksie nie. Ons vra die verpleegpersoneel wat gaan aan en hulle antwoord is: “Vra die dokter.” Ons vra my ouma wat was die dokter se terugvoer – as weens haar ouderdom kan sy nie onthou nie en sy verstaan nie wat sy sê nie.

Nadat die ontsteking genees is, ontslaan die dokter haar. My ouma kon loop, praat, sit, lag toe sy hospitaal toe is. Toe ons haar sewe dae later huis toe vat, kan sy nie loop nie. As sy regop sit, val sy agteroor – sy moet doeke dra, want sy kan nie haar blaas voel nie. Sy kan nie self eet nie, want haar arms wil nie werk nie. Sy kan nie praat nie en trane loop net oor haar wange …

Ek bel die dokter om te hoor wat gaan aan. Daar is glo nie ernstig fout nie, dis dalk net haar natrium wat laag is (nee, dit is nie). Ons moet haar maar net weer terugbring! (O nee, ons sal nie.)

My ouma is hospitaal toe met hartversaking – sy kom huis toe met ʼn breinbesering. My ouma is hospitaal toe met blaasontsteking – sy kom huis toe as ʼn invalide. Ons as familie is in trane elke liewe dag, want ons het my ouma oornag verloor. As dit vir ons as familie so traumaties is, wat van daardie arme 85-jarige vrou.

Daar is regtig goeie dokters en hulle weet wie hulle is, maar vir daardie dokters wat nie tyd het vir die sorg van hulle pasiënte nie, wat ons mensies so behandel – ek weet nie hoekom het julle al daardie jare aan die universiteit deurgebring nie. Kyk ’n bietjie in die spieël vanaand en vra jou af: Gee ek regtig my beste vir daardie siek mensie (en familie) of gaan dit net oor die getalle?

Daar is ʼn gedeelte in die Bybel wat sê: Dit wat jy aan die geringste van My doen, doen jy ook aan My.

Volgende keer, as jy nie tyd het vir daardie oumens nie, weet dit is nie net ʼn mens wat jy in die steek laat nie, maar ook vir Jesus.

Debbie Zaayman

 

‘Dit gaan oor porsiebeheer’, meen dieetkundige

$
0
0
hilda2

Hilda het by Maroela Media kom kuier. Foto: Adéle Changuion

Die resepteboeke wat Hilda Lategan al gepubliseer het kan ʼn boekrak vol staan. Ondanks die magdom resepteboeke wat beskikbaar is – en ʼn mens sou dink dat dié mark al versadig is – bly uitgewers vir Hilda vra vir haar resepte.

Sy werk sedert 1975 as dieetkundige in verskeie vertakkings van die beroep en praktiseer tans as terapeutiese dieetkundige in Pretoria. “Ek het aanvanklik begin om resepte te ontwikkel omdat daar ʼn behoefte daarvoor was by pasiënte wat graag riglyne wou hê,” sê sy.

Hilda neem bestaande resepte en ontwikkel dit só dat ʼn mens nie net lekker eet nie, maar dat die kos ook voedingswaarde het. Sy lees baie wyd en toets self elke resep voordat dit gepubliseer word. ”As ek byvoorbeeld aan ʼn bobotieresep werk, dan sal ek drie of vier boeke om my hê. Ek werk ook met ʼn voedingstof-analiseprogram wat presies sê waar die vet en koolhidrate vandaan kom, en op dié manier kan ek die resep verder ontwikkel.”

As dieetkundige is Hilda gefokus op gesonde kos, maar omdat sy ook ʼn liefde vir kos het, sê sy dat kos ook lekker moet wees. “Al van kindsbeen af was ek baie lief vir kosmaak. Ek het ʼn wonderlike ma gehad wat meer van tuinwerk en naaldwerk gehou het as kosmaak. Sy het altyd vir ons goeie kos gegee, maar as ons snaakse goed wou probeer, het sy gesê ons moet dit self doen. Ons kon die resep uitprobeer – ons moes haar net sê wat ons nodig het, en natuurlik seker maak die kombuis is weer skoon.”

En die geheim vir gesond eet? Hilda sê dis nie nodig om jouself te weerhou van suiker nie want dit is gewoonlik nie volhoubaar nie. ”Vir my is dit belangriker om vir mense van porsiebeheer te leer. Jy moet leer dat jy ʼn koekie uit ʼn koekblik kan haal en die deksel terugsit, in plaas daarvan om die hele blik leeg te eet.”

Haar boeke fokus op maklike resepte wat enigiemand kan maak.

Hilda se jongste resepteboek, Uitpakkos, het die Gourmand-toekenning ontvang in die kategorie “maklike resepte”. Dié toekenning is vir kosboeke wat ’n Oscar vir ’n rolprent sal wees. Die Gourmands word toegeken deur die World Cookbook Fair, wat weer ’n vennoot is van die bekende boekeskou in Frankfurt. Hierdie jaar word die algehele wenners aangewys tydens ’n glansuitstalling van 28 tot 31 Mei in Jantai, China.

Luister na die podsending om Hilda se wenke te hoor oor hoe om kos te maak wanneer jy eenvoudig net nie tyd het nie.

Kom draf saam met die Medihelp ‘Sunrise Monster’

$
0
0
Verlede jaar se Sunrise Monster-wedloop. Foto: Verskaf

Verlede jaar se Sunrise Monster-wedloop. Foto: Verskaf

Medihelp se 39ste “Sunrise Monster”-padwedloop word vanjaar op 5 Maart by die Harlequin-klub in Totiusstraat in Groenkloof, Pretoria, gehou.

Die roete vir die onderskeie wedlope oor 32 km en 10 km en die 5 km-pretdraf kronkel deur die Groenkloof Natuurreservaat en sluit die heuwels van Monument Park in. Dié pretdraf is vir menige professionele atleet ʼn uitdaging wat hulle eenvoudig móét aanpak.

Die wedloop is die grootste 10 km-padwedloop in Gauteng-Noord en staan bekend as een van die beste voorbereidingswedlope vir die Comrades Marathon.

Heyn van Rooyen, Medihelp se hoofbeampte, sê hoewel die wedloop berug is vir sy steil op- en afdraandes, kan dit oorwin word as deelnemers vooraf daarvoor oefen.

“Om fiks en gesond te wees, is deel van die Medihelp MultiSport-klub se kernwaardes en ons is dus baie opgewonde om aan te kondig dat ons klublede gratis aan die Medihelp Sunrise Monster kan deelneem. “Ons verwag om vanjaar selfs nog meer gesinne in groen uitrustings te sien, gereed om die berugte Monster te verslaan,” het Van Rooyen gesê.

Deelnemers kan vanjaar ook uitsien na ʼn fotohokkie by die geleentheid waar drawwers ʼn foto kan uitdruk en huis toe neem. Jy kan ook vooraf foto’s met die hutsmerk #MedihelpMonster gratis by die fotohokkie druk.

Drawwers wat in groen geklee is, staan die kans om een van twee pryse ter waarde van R1 000 elk te wen. Alle geregistreerde atlete wat die wedloop voltooi kry ook ʼn gratis T-hemp.

ER24 sal by die Medihelp Sunrise Monster teenwoordig wees om bystand te verleen met enige mediese noodgeval wat opduik.

Besoek Medihelp se webwerf vir meer inligting.

Slim ma’s kies breinkos vir hul kinders

$
0
0
breinkos

Foto: Dreamstime.com

Goeiedag Susan

Ná baie jare van loopbaan-najaag is ek nou ’n tuisbly-ma met drie skoolgaande kinders, onderskeidelik 14, 10 en 6 jaar oud. Hoewel ek nog altyd probeer sorg het dat my gesin gesond eet, moet ek erken dat dit baie dae maar afskeep gegaan het. Ek was soms so moeg dat ek maar net te dankbaar was vir kitskos; enigiets om net al die magies vol te kry sodat ons kan gaan bad en gaan slaap. Maar dinge is nou anders en ek wil graag my kinders reg voed, veral omdat dit wat ’n mens eet ook ’n invloed op die brein het. Ek voel egter oorweldig deur al die inligting en weet nie waar om te begin nie.

Carolina Meyer

Hallo Carolina

Ja, ek kan nogal simpatiseer: al die inligting oor moets en moenies aangaande voeding kan nogal oorweldigend wees, veral vir mense wat graag die regte ding wil doen.

Dis waar, ja: voeding is beslis belangrik vir die werking van die brein, want sekere voedingstowwe is nodig om oordragstowwe te vervaardig. Die brein bestaan uit biljoene senuweeselle wat boodskappe heen en weer deur ons hele senuweestelsel stuur en gebruik oordragstowwe om daardie sprong tussen senuweeselle moontlik te maak. Ons algemeen bekende oordragstowwe, naamlik serotonien, dopamien en asetielkolien, speel ’n beduidende rol in ons gemoed, ons slaappatrone, ons verstandelike helderheid en ons denke.

Die deurlopende aktiwiteit van die brein vereis ’n hoë vlak van energie. Ons liggame het ’n opdrag om ons beheersentrum, ons brein, voortdurend van voldoende glukose te voorsien. Die regte voedingstowwe gee ons verstand ’n hupstootjie en help ons liggame om senuspanning en die eise van die alledaagse lewe beter te hanteer. Maar, soos jy tereg vra, wat is daardie “regte” voedingstowwe?

Omega-3-vetsure

Omega-3 is noodsaaklike vetsure en lewensbelangrik vir die ontwikkeling van die brein. Dit is “goeie” vette en gemoeid met die regulering van ons serotonienvlakke. Depressie, buierigheid en traagheid kan moontlik verbind word met ’n lae vlak van serotonien in die brein. Omega-3 verhoog ons skerpsinnigheid en ons konsentrasievermoë.

DHA is ’n vorm van omega-3 wat in olierige vis, soos salm, haring, forel, sardientjies en tuna voorkom. Vlassaad, okkerneute, olyfolie, groen blaargroente, aarbeie en avokadopere verskaf ook hoë vlakke van omega-3 aan ons dieet.

Die B-groep vitamiene

Vitamiene in die B-groep help om breinkrag te verhoog en geheue te verbeter, en om die gevolge van verstandelike uitputting en depressie te verlig.

Voedselsoorte ryk aan vitamiene B is onder meer kool, blomkool en broccoli. Vleis, eiergele en grondboontjies voorsien ook in ons behoeftes aan vitamiene B. Volgraanvoedsel is ryk aan vitamien B6, en dit speel ’n belangrike rol in die opbou van sekere senuwee-oordragstowwe. Piesangs staan ook bekend as “breinkos“ omdat dit ’n hoë vlak van vitamien B6 bevat, ’n bron van kalium is, en energie in die vorm van glukose aan die brein verskaf. Bruinrys en hawermout is goeie bronne van vitamien B6, en sommige soorte brood en graankos word aangevul met vitamien B12. Oesters is nie net ’n bron van vitamien B12 nie, maar ook ryk aan sink en yster, wat belangrike breinkos is.

Foliensuur (vitamien B9) is noodsaaklik vir die ontwikkeling van ’n baba se brein en senuweestelsel tydens swangerskap. Groen blaargroente en lewer is ryk aan foliensuur.

Proteïen en koolhidrate

Proteïen verhoog die gesonde werking van ons brein en dra by tot ons skerpsinnigheid en leervermoë. Eiers, amandels, okkerneute, vleis, sojabone, melk en ander suiwelprodukte is goeie bronne van proteïen vir die brein.

Anti-oksidante

Anti-oksidante beskerm ons brein en senuweestelsel teen die aanslag van sogenaamde “vrye radikale”. Vrye radikale is molekules wat selle beskadig en veroudering versnel. Anti-oksidante dra ook by tot verbeterde geheue en verhoogde kognitiewe vermoë.

Voedselsoorte ryk aan anti-oksidante sluit spinasie, tamaties, broccoli, aarbeie, rosyntjies, pruime, pekanneute, sonneblomsade, dadels, rooi stambone en kakaobone in.

Carolina, ongeag watter voedselsoorte ’n mens nuttig om energie aan jou liggaam en jou brein te verskaf, is ’n gebalanseerde dieet, bestaande uit ’n verskeidenheid voedselsoorte uit die verskillende voedselgroepe, noodsaaklik. Onthou ook daardie belangrike glas water; water is noodsaaklik vir die brein. Net soos dehidrasie van die liggaam ’n negatiewe uitwerking op liggaamsfunksies het, veroorsaak ’n gebrek aan water ook verstandelike uitputting.

Geniet dit om by jou kinders te wees, en lekker kos maak!

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan skoolkwessies@edublox.com. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en erkende skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Daar is nou reeds 25 Edublox-klinieke in Suider-Afrika. Besoek die Edublox-webwerf met meer as 470 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

Só skud ander lande die vetrolletjies af

$
0
0
Kos

Foto: Pixabay.com

Volgens Lize Snyman Dieetkundiges het Suid-Afrika se algehele bevolking ʼn vetsugkoers van 31,3 persent – in vergelyking met lande soos Frankryk, Italië en Swede wat onder 10 persent lê en Japan, Sjina en Indië met minder as 5 persent.

Hierdie lande moet iets reg doen om dié lae persentasies te bereik. Hier is ʼn paar wenke van hoe ander lande die rolletjies afskud:

  • Die Japannese begin elke ete, ontbyt ingesluit, met ʼn soort aftrekselsop. Dié sop hou jou langer versadig en beperk ook kalorie-inname vir die dag. Die Japannese eet nie tot hulle versadig is nie, al is daar nog kos oor op die bord.
  • In Thailand is baie van die geregte vol brandrissies – dié bestanddeel dien as ʼn eetlusdemper en laat jou metabolisme ook vinniger werk.
  • Die Pole bestee slegs 5 persent van hul begroting aan uiteet – uiteet en wegneemetes hou nou verband met die styging van die vetsugkoers.
  • Die Franse staan gemiddeld 42 minute af aan ʼn ete. Altesaam 92 persent van dié gesinne eet saam aan tafel.
  • Die geselskap help hulle om stadiger te eet wat ’n mens ook help om te weet wanneer jy versadig is.
  • In Rusland word mense aangemoedig om hul eie vars produkte te kweek en te oes. Hulle bewaar ook dié produkte deur dit in te lê. Dit lei tot ʼn baie meer voedsame dieet.
  • Altesaam 75 persent van die Duitse bevolking eet daagliks ontbyt wat uit vrugte en volgraan bestaan.
  • In Brasilië eet mense gereeld rys en bone. Bone is baie laag in vet asook ʼn goeie bron van vesel wat bloedsuikervlakke stabiliseer en cholesterol verlaag.
  • In Nederland lê die deursneemens 870 km per jaar per fiets af. Dié manier van vervoer word daagliks gebruik om inkopies te doen of selfs werk toe te gaan.

Ons kan soveel leer van ander lande as dit kom by ʼn gesonde leefstyl. Pas gerus dié paar wenke toe!

Skakel Lize Snyman Dieetkundiges by 012 367 4312 vir meer besonderhede.

Gehaltelewe: Grondslag in eerste 1 000 dae van kind gelê

$
0
0
premature-babas

Foto: Myhealthybee.com

ʼn Kind se fisieke, intellektuele en emosionele ontwikkeling vind die vinnigste plaas in die eerste duisend dae van sy of haar lewe. Gedurende hierdie tydperk, wat strek van die begin van swangerskap tot elke kind se tweede verjaardag, vergroot die brein met 80%.

“Met Menseregtedag wat elke jaar op 21 Maart herdenk word, wil ek die fokus plaas op elke kind se reg om in die eerste duisend dae van sy of haar lewe die beste versorging te verkry, aangesien dit van deurslaggewende belang is vir intellektuele ontwikkeling en lewenslange gesondheid,” sê prof. Mariana Kruger, uitvoerende hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Tans is daar 17 miljoen kinders, ongeveer ʼn derde van alle kinders wêreldwyd, wat lengtegewys swak groei, oftewel aan dwerggroei lei. Hierdie onherstelbare toestand, wat toegeskryf kan word aan chroniese wanvoeding in die eerste fase, is aan die toeneem in Afrika suid van die Sahara.

“Die invloed van chroniese wanvoeding op breinontwikkeling lei tot swak skoolprestasie, wat op sy beurt weer lewenslange armoede tot gevolg kan hê,” sê Kruger. Hierdie volwassenes verdien gemiddeld 20% minder as hul eweknieë wat tydens hulle kinderjare goeie voeding ontvang het.

Die direkte koste van wanvoeding op gesondheid word wêreldwyd in die omgewing van 20 tot 30 biljoen dollar per jaar geraam. Swak voeding het ʼn invloed op ʼn land se bruto binnelandse produk, wat tot twee of drie persent swakker kan wees.

Goeie voeding moet reeds tydens swangerskap begin. ʼn Moeder met goeie gesondheid voorsien belangrike voedingstowwe aan die ontwikkelende fetus. Ná die geboorte is eksklusiewe borsvoeding gedurende die eerste ses maande die heel belangrikste stap vir kinderoorlewing. “Babas in ontwikkelende lande wat in die eerste ses maande van hulle lewe uitsluitlik geborsvoed word, het ’n ses keer groter kans op oorlewing teenoor babas wat nie geborsvoed word nie,” sê Kruger.

Ná die eerste ses maande het die baba toegang tot gesonde gebalanseerde voeding nodig. Kruger verduidelik dat dwerggroei met 20% verminder kan word as kinders tot op 12 maande gesonde voeding ontvang.

In baie arm lande soos Brasilië, Senegal en Tunisië is kindervoeding goed ondanks swak nasionale rykdom, terwyl daar swak kindervoeding in lande is met relatiewe verhoogde nasionale rykdom soos gevind in Suid-Afrika, Botswana en Mexiko.

“Dit is daarom interessant dat arm lande soos Malawi, Madagaskar en Peru se kinders in die eerste twee jaar van lewe goeie voeding ontvang,” sê Kruger, “wat bewys dit is moontlik om selfs in armoedige omstandighede goeie voeding aan kinders te bied.”

“Om die probleem van wanvoeding aan te pak, is dit belangrik dat daar ʼn politieke wilsbesluit is om doeltreffende strategieë daar te stel,” sê Kruger.

Gesondheidswerkers speel ʼn sleutelrol in die verbetering van voeding van die moeder en kind tydens die eerste duisend dae van lewe. In arm lande is dit veral die gemeenskapsgesondheidswerker en vroedvroue wat hierdie belangrike rol vervul.

“Dikwels is dokters onbeskikbaar en klinieke of hospitale te ver of te duur vir die gemiddelde bevolking,” sê sy. Gesondheidswerkers doen sifting vir wanvoeding; opleiding in gebalanseerde voeding; bevorder borsvoeding, higiëne en sanitasie; en help met die vroeë opsporing van behandelbare algemene siektes soos diarree.

“Veral Malawi en Nepal behaal sukses deur gesondheidswerkers strategies te plaas,” sê Kruger. “Dit is nodig om te belê in gesondheidswerkers, veral diegene wat betrokke is tydens swangerskap en in klinieke vir primêre gesondheidsorg.”

Regeringsaksies om wanvoeding te voorkom, moet ook versterk word. Vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor kan baie help om te verseker dat die nodige voedingsplanne en hulp aan alle moeders en kinders verleen kan word.

“Landswette, beleide, regulasies en ander aksies, wat selfs vir arm lande bekostigbaar is, moet verander en verbeter word om die eerste duisend dae van ʼn kind se lewe te bevorder,” sê Kruger.

Dit sluit in belegging in laekoste-oplossings soos borsvoeding, toepaslike aanvullende voeding, aanvullings soos yster (verbeter weerstand teen infeksies), vitamien A (voorkom blindheid en verlaag risiko om te sterf aan algemene kinderinfeksies) en sink, asook goeie higiëne (voorkom sterftes as gevolg van diarree).

Borsvoeding is een van die belangrikste aksies, maar word nie oral in openbare plekke toegelaat nie. “Moeders moet kan borsvoed in die werkplek,” sê Kruger. “Openbare vervoer moet ook toegerus wees met spesiale sitplekke, uitgehou vir moeders wat borsvoed.”

Volgens Kruger is dit nie net arm lande wat moet fokus op die eerste duisend dae nie. “Dit is jammer dat die VSA, ʼn land met ʼn sterk ekonomie, die land is met die onvriendelikste ingesteldheid teenoor moeders wat wil borsvoed,” sê sy.

Toekomstige moeders moet opgelei word sodat hulle wanvoeding met die nodige kennis kan beveg. “Alle meisies moet volledig geskoold wees, wat beteken hulle moet twaalf jaar skoolopleiding voltooi,” sê Kruger.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid stuur vanjaar ʼn veldtog, getiteld “Regte Begin, Blink Toekoms” met die fokus op die eerste duisend dae van lewe van stapel.

Die drie pilare van die program is die versekering van gesondheid van die moeder en baba; ondersteuning van moeders en babas deur die vaders, families en gemeenskappe; asook die regte stimulering vir die baba se leerbehoeftes, naamlik ʼn gemeenskap wat vry is van middelmisbruik en waar gesondheid bevorder word.

Een sodanige aksie wat gemik is daarop om veral kinderbreinontwikkeling te stimuleer is die leesprojek wat verlede jaar by die Tygerberg-kinderhospitaal begin is. Moeders word geleer om van geboorte af vir hul kinders uit kinderboeke voor te lees en so intellektuele ontwikkeling te stimuleer.

Lees meer oor die Leesprojek.


Navorsers pak uitdagings van kinder-TB

$
0
0
pille

Argieffoto.

Deur Wilma Stassen, verskaf deur Universiteit Stellenbosch

Ter herdenking van Wêreld-TB-dag op 24 April bespreek van die wêreld se voorste navorsers oor kinder-TB die bykomende uitdagings waaraan kinders blootgestel word as hulle aan dié siekte ly.

Lang behandelings, bitter volwassene-grootte tablette en pynvolle inspuitings met ernstige newe-effekte is van die uitdagings wat navorsers van die Universiteit Stellenbosch aanpak om die behandeling vir kinders met TB te verbeter.

Ten spyte van hierdie uitdagings reageer die meeste kinders goed op behandeling, sê prof. Anneke Hesseling, direkteur van die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

“Ons kan kinders met TB genees, maar die uitdaging is om die behandeling meer kinder- en familievriendelik te maak deur dit te verkort en om kinders medisyne te gee wat maklik is om te sluk,” sê Hesseling, wie se sentrum baanbrekersnavorsing doen oor kinder-TB.

Tans is die behandeling vir ’n kind met middelsensitiewe TB ses maande, terwyl behandeling vir veelvoudige-middelweerstandige TB tussen 12 en 18 maande kan duur – wat ses maande se daaglikse inspuitings insluit waarvoor die meeste kinders in die hospitaal opgeneem word.

“Daar is minder TB-organismes in ’n kind met long-TB en daarom ook minder organismes om dood te maak. Dus is daar ’n werklike geleentheid om behandeling vir kinders met middelsensitiewe TB te verkort,” sê Hesseling, ’n uitgelese professor in pediatrie by die FGGW.

Haar navorsingsgroep toets nuwe strategieë om die behandelingstrategie vir middelsensitiewe TB van ses tot vier maande te verkort vir kinders wat nie ernstige vorms van die siekte het nie. Hierdie studie sal ’n nuwe kindervriendelike formulering gebruik wat al die TB-medisyne kombineer (vaste dosis) in ’n klein tablet wat in water opgelos kan word en aangenaam smaak.

Tans moet volwassene-grootte tablette in helftes of kwarte gebreek word of fyngemaak word om die regte dosis vir babas en kinders te kry. “Hierdie tablette is gemaak om heel ingesluk te word en proe verskriklik as jy dit fyn maak,” sê dr. Tony Garcia-Prats, die mediese direkteur van Brooklyn-borshospitaal en hoof van die Eenheid vir Pediatriese Farmakokinetika van die DTTS.

Deur hulle navorsing oor die veiligheid en dosering van nuwe middels in kinders hoop hulle ook om behandeling vir veelvoudige-middelweerstandige TB (’n stam van TB wat weerstandig is teen die meeste eerstelinie-medisyne) van die huidige 12 tot 18 maande te verkort na ses tot nege maande, en om ook weg te doen met ouer toksiese middels, insluitend die daaglikse inspuiting wat kinders vir ses maande moet kry en wat tot permanente gehoorverlies kan lei.

Die DTTS neem deel aan die eerste proefneming ooit van ’n nuwe TB-middel (delamanied) onder kinders en dra ook by tot die studie oor die veiligheid en dosering van ’n ander middel (Bedaquiline) wat onlangs op die mark geplaas is. “Bedaquiline is reeds in Oktober 2014 in Suid-Afrika gelisensieer, maar kinders het steeds geen toegang daartoe nie omdat nog geen pediatriese navorsing daaroor gedoen is nie,” sê Garcia-Prats.

Hulle navorsing oor delamanied het reeds gehelp om dosering vir kinders te bepaal en is veilig bevind vir kinders ses jaar en ouer wat daartoe gelei het dat dit om menslikheidsredes beskikbaar gestel is in hierdie groep.

“Natuurlik is die mees doeltreffende manier om TB onder kinders te behandel, om dit te voorkom,” sê Hesseling en verduidelik dat kinders gereeld TB van ander lede van hulle huishouding kry wat TB het.

“Daar is duidelike bewyse dat deur een middel, genaamd isoniasied as voorbehoedende behandeling, daagliks vir ses maande te neem, jy TB onder kinders kan voorkom – maar die inwerkingstelling daarvan is steeds baie swak. Sestig persent van kinders wat hier by die Brooklyn-borshospitaal lê, het huishoudelike kontak met TB gehad, maar baie min van hulle het voorkomende behandeling ontvang.”

Hesseling sê dat ses maande se daaglikse behandeling moeilik is, veral vir ’n gesonde kind. Die DTTS tesame met ander navorsingsvennote doen toetse om te bevestig of ’n nuwe middelkombinasie (wat nuwe en ou middels insluit) wat een maal per week vir 12 weke toegedien moet word, net so veilig en doeltreffend as isoniasied kan wees. Dit sal die behandeling verkort van ses tot drie maande en sal weeklikse, in plaas van daaglikse, medikasie behels.

“Voorkoming is nie net beter vir die kind nie, dit is ook baie kostedoeltreffend en ’n ligter las op die gesondheidstelsel,” sê Hesseling.

AGHS ʼn ‘chroniese siekte’ onder volwassenes

$
0
0
dr-renata-schoeman-AGHS-volwassenes

Dr. Renata Schoeman. Foto: Catalogue.belpark.sun.ac.za

Meer as ’n miljoen Suid-Afrikaners tussen 20 en 50 jaar oud word geraak deur volwasse aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS), sê dr. Renata Schoeman, ’n psigiater en die top-MBA-student vir 2015 aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB).

Vir haar MBA-verhandeling het sy die situasie in Suid-Afrika tans ontleed deur spesifiek te fokus op die psigiatriese bestuur en finansiering van behandeling vir volwassenes met AGHS in die privaat sektor.

Haar studie het die gebrek aan kennis van en finansiële ondersteuning vir AGHS uitgelig as die vernaamste struikelblokke om behandeling vir en diagnose van die siekte te verkry, en sy stel ’n nuwe finansieringsmodel vir privaat gesondheidsorg voor as ’n moontlike oplossing.

“Die erkenning van volwasse AGHS as ’n chroniese siekte wat behandeling benodig, is kritiek noodsaaklik. Tog het volwassenes met AGHS beperkte toegang tot behandeling, selfs diegene in die privaat gesondheidsorgstelsel. Dis omdat mediese skemas wat AGHS by kinders dek dikwels nie voordele of behandeling vir volwassenes voorsien nie. Pasiënte sukkel om privaat behandeling benewens die koste van hul maandelikse mediese bydraes by te bring en te dikwels bly die siekte onbehandeld,” sê Schoeman.

Haar studie het ’n ontleding van die mediese, farmaseutiese en eise-inligting vir die behandeling van AGHS oor ’n tydperk van twee jaar van een van die grootste mediese skemas ingesluit. Dit het ook ’n opname ingesluit van psigiaters in privaat praktyk wat volwasse AGHS bestuur. Kwalitatiewe ontleding van indiepte-onderhoude met belangrike meningsvormers oor hul ervarings met volwasse pasiënte met AGHS is ook gebruik.

“Volwassenes met AGHS ervaar steeds skeptisisme van mense wat aangevuur word deur volgehoue en oningeligte mediagedrewe persepsies dat AGHS nie ’n regte siekte met regte gevolge en koste is nie,” sê Schoeman.

As dit verkeerd gediagnoseer of nie behandel word nie, kan die gevolge van volwasse AGHS baie nadelig wees vir die langtermyn-gesondheid van diegene wat dit het.

“Baie volwassenes met AGHS kry vir die grootste deel van hul lewe geen behandeling nie. Dit kan lei tot ’n aansienlike toename in die risiko vir ander psigiatriese toestande soos angs en gemoedsversteuring, asook dwelmmisbruik. In die werkplek kan hul swak tydsbestuur, doelwitstelling, stresbestuur en organisatoriese vaardighede ’n aansienlike uitwerking op ander werknemers hê.

“Dis ’n duur, chroniese siekte met ’n aansienlike uitwerking op die gehalte van die lewe van pasiënte en hul families. Die koste (direk, indirek en ontasbaar) is aansienlik, met die aangepaste lewensjare vir gestremdheid (DALY) bereken op 424/100 000, wat ’n aansienlike afname in werkverrigting inhou.”

AGHS word gekenmerk deur kwaai en beperkende vlakke van onoplettendheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit. As ’n sogenaamde ontwikkelingsiekte word simptome reeds in die kinderjare duidelik. Hoewel sommige kinders hul AGHS skynbaar ontgroei, is dit eerder ’n geval dat sommige meer bedrewe word met die bestuur van die simptome en dan eendag as volwassenes vergoed vir hul AGHS-verwante gebreke deur leefstyl- en loopbaankeuses.

Volgens Schoeman word volwassenes wat aan AGHS ly dikwels deur hul tydgenote en familielede beskou as goeie beginners maar swak voltooiers, swak luisteraars, swak organiseerders, aandagafleibaar, vergeetagtig en ongeduldig, en as mense wat nie konsekwent is nie.

“Mense met AGHS is dikwels hoogs intelligent en baie kreatief met ’n laterale en analitiese denkwyse, maar dikwels leef hulle tog ’n lewe van onderprestasie en volgehoue mislukking op akademiese gebied en in die werkplek, met interpersoonlike konflik, huweliksprobleme en finansiële moeilikheid,” sê sy.

“Hierdie negatiewe ervarings kan lei tot die ontwikkeling van vernietigende, negatiewe gedagtes en sienings wat motivering en verrigting verder kniehalter en vermydingsgedrag en emosionele probleme vermeerder.”

Stimulant-medikasie word as die eerstelinie-behandeling beskou, maar baie volwassenes verkies om nie medikasie te neem nie weens die stigma wat aan die diagnose en behandeling gekoppel is. Medikasie is egter nie die enigste opsie nie. Kognitiewe gedragsterapie teiken die vernietigende gedagtepatrone en beskouings en die verwante emosies wat bydra tot die negatiewe gedrag.

Baie studente en beroepsmense misbruik die medikasie om hul konsentrasie te verbeter sonder dat hulle met AGHS gediagnoseer is. “Dit is onverantwoordelik en potensieel baie gevaarlik,” waarsku Schoeman.

Waarom verloor jy jou eetlus wanneer jy siek is?

$
0
0
siek1

Foto: Pixabay.com

Onderdruk ons een van Moeder Natuur se oudste en effektiefste bakterie-bevegtende meganismes deur pasiënte te forseer om te eet nadat hulle hul eetlus verloor het tydens ʼn infeksie?

ʼn PhD-student in fisiologiese wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), Gustav van Niekerk, argumenteer dit mag wel die geval wees en hy pleit ook dat hierdie standaard mediese praktyk herondersoek word.

In ʼn artikel wat die afgelope week in die vaktydskrif Autophagy gepubliseer is, argumenteer Van Niekerk en medenavorsers van die departement fisiologiese wetenskappe aan die US, verlies aan eetlus tydens infeksie of siekte verrig ʼn baie belangrike funksie.

Hierdie funksie sluit die vermoë van selle in om hulself bloot te stel aan autofagie, wat letterlik beteken dat die sel “homself kan eet”.

Onder normale omstandighede gebruik selle autofagie (ʼn soort herwinningsprosesserings-fabriek) om afvalprodukte te herwin nádat seldele afsterf of beskadig word. Deur autofagie is die sel dan in staat om hierdie afgeweerde seldele te herwin, wat andersins die sel skade kon berokken.

Die gedegradeerde materiaal word dan as energie gebruik om nuwe seldele te vervaardig.  Met ander woorde, alle selle in die liggaam word gedurig geregenereer om sodoende optimaal te funksioneer.

Van Niekerk en sy mede-outeurs argumenteer dat ʼn tydelike vastende periode tydens infeksie die sel van noodsaaklike voedingstowwe ontneem en daardeur die sel stimuleer om te herwin (autofagie). Daarbenewens kan bakterieë en viruse, wat die sel binnedring, ook afgebreek word deur dieselfde herwinningsproses (sien Figuur 1).

Van Niekerk verduidelik: “Die immuunstelsel word soms as die ‘weermag’ gesien, terwyl ʼnormale’ selle soos lewerselle en neurone as ‘burgerlikes’ beskou word. Volgens hierdie manier van dink, beskadig die indringer-bakterieë en -virusse die ‘onbeskermde burger’, terwyl die weermag (die immuunstelsel) toegewyd is om die infeksie te beveg.

Maar ‘normale’ selle is nie noodwendig so hulpeloos nie.

“Ons dink die stimulering van autofagie is die sel se selfbeskermingsmeganisme en vervul daardeur ʼn kritiese rol in die liggaam se immuunstelsel.

“Op hierdie wyse kan die ‘burgerlike’ selle optree soos ‘guerrilla-stryders’ wat die verspreiding van infeksie teenstaan totdat die “professionele magte” (immuunselle) gemobiliseer kan word.”

Prof. Anna-Mart Engelbrecht, hoof van die departement fisiologiese wetenskappe, sê hierdie nuwe denkwyse oor die rol van autofagie het belangrike implikasies in die mediese dogma: “Dit is reeds bewys dat kankerpasiënte, wat voor chemoterapie vas, minder van die skadelike newe-effekte soos moegheid, swakheid, hoofpyne, naarheid en diarree ervaar.”

Verdere navorsing nodig

Die navorsers beveel nou ʼn dringende revaluering van voedingsondersteuning in die konteks van beheerde ondervoeding aan, waardeur opregulering van autofagie meer ondersteuning kan bied.

Die opregulering van autofagie kan bykomende voordele inhou, soos om dele van bakterieë en virusse wat deur die sel se herwinningsfabriek opgelewer word, aan immuunselle bloot te stel. Sodoende kan die immuunselle ‘opgelei’ word om die bakterieë en virusse te herken sodat hulle teenliggame kan produseer. Hierdie opregulering van die herwinningsfabriek (autofagie) kan dus ook verder aanleiding gee tot effektiewer maniere om entstowwe te verbeter.

Die navorsers beklemtoon egter korttermyn-voedingsonttrekking moet nie verwar word met die welbekende en effektiewe immuun-inhiberingseffek van langtermyn-uithonger nie.

Hulle benadruk ook daar is wel omstandighede wanneer voedingsaanvullings ʼn terapeutiese voordeel kan inhou. Sommige patogene kan byvoorbeeld sekere stappe van die autofagie-proses kaap. Deur pasiënte dus op grond van die tipe patogeen te evalueer, kan vasgestel word watter tipe infeksies deur permissiewe ondervoeding behandel moet word, teenoor ander infeksies waar aggressiewe aanvulling voordeliger sal wees.

Die mede-outeurs van hierdie artikel sluit in: Prof. Anna-Mart Engelbrecht, dr. Ben Loos en dr. Theo Nell. Hierdie werk word deur die Kankervereniging van Suider Afrika (KANSA), die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ondersteun.

[Resep] Bloubessiemuffins

$
0
0
Muffin

Bloubessiemuffins. Foto: Glutenvrye gebak

Gluten is ʼn proteïen wat voorkom in koring, rog, gars en hawermout. Om verskeie redes, onder meer geneties van aard, asook weens ʼn immuunreaksie en leefstylfaktore, word heelwat mense geraak deur glutenverwante siektes.

Aantal porsies: 12 x 80 g

Aanbevole porsiegrootte: 80 g

Bestanddele:

  • 125 ml onversoete appelsous
  • 3 eiers
  • 15 ml vanieljegeursel
  • 15 ml heuning
  • 125 ml kanolaolie
  • 125 ml bruin suiker
  • 125 ml amandelmeel
  • 250 ml kekerertjiemeel
  • 125 ml onverfynde sorghummeel
  • 125 ml tapiokameel
  • 5 ml koeksoda
  • 7,5 ml glutenvrye bakpoeier
  • 5 ml fyn kaneel
  • 1,25 ml xantangom
  • 5 ml sout
  • 375 ml vars bloubessies

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 12-holte muffinpan met kleefwerende kossproei.
  2. Klits die appelsous, eiers, vanieljegeursel, heuning, olie en bruinsuiker goed saam.
  3. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die bessies, by die eiermengsel en meng goed.
  4. Vou die bessies by die mengsel in en skep in die muffinpan.
  5. Bak 30-35 minute. Laat effens afkoel en keer uit.

Bron: Glutenvrye gebak
Uitgewer: Lapa

Boek: Eet reg

$
0
0
Boek

Eet reg deur Zelda Ackerman Foto: Verskaf

Zelda Ackerman

Vetsug neem skrikwekkend toe. Die oorsaak is deels emosionele eetgewoontes wat in die kinderjare aangeleer word wanneer kos gebruik word as beloning of straf, of om liefde te wys. Dié gebruik programmeer ʼn kind se brein só dat hy of sy later, in moeilike tye, na kos gryp om beter te voel. Eet reg is propvol raad wat jou en jou kinders vir altyd van emosionele eet kan bevry. Gee jou gesin die regte kos, leer jou kinders om lekker én gesond te eet en eet self reg, lewenslank.

Oor die outeur:

Zelda Ackerman is ʼn geregistreede dieetkundige met ʼn passie vir kindervoeding. Sy skryf gereeld vir die tydskirf Baba & Kleuter en is die stigter van Family First Nutrition Pty (Ltd), ʼn aanlynmaatskappy wat gesinne bemagtig om kinders gesond groot te maak. Zelda is getroud en het drie kinders.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R230*
*Prys onderhewig aan verandering

ʼn Kookboek vir allergieë

$
0
0
Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Hilda Lategan, ʼn dieetkundige van Pretoria, het by Maroela Media kom kuier om oor haar nuwe kookboek, Suid-Afrikaanse Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit, te gesels.

Hoewel mens nie noodwendig allergies is vir ʼn spesifieke kossoort nie, kan jou liggaam steeds sensitief wees vir sekere voedselgroepe, wat baie ooreenstem met ʼn allergiese reaksie. Hilda verduidelik dit as volg in haar boek:

ʼn Voedselonverdraagsaamheid is ʼn reaksie op die inname van voedsel of voedselbymiddels wat nie ʼn uitwerking op die immuunstelsel het nie. Die simptome kan wel ooreenstem met dié van ʼn allergiese reaksie. Die bloedresultate wat normaalweg vir allergiese toestande uitgevoer word, sal in so ʼn geval nie ʼn positiewe uitslag toon nie, maar die persoon ervaar nogtans siektesimptome.

Wat Hilda se resepte so suksesvol maak, is die feit dat sy almal self toets en enigiemand met ʼn stoof en yskas kan haar resepte gebruik. “Ek analiseer elke resep eers voordat ek kombuis toe gaan en dit toets. As dit nie uitwerk nie, skaaf ons weer aan die resep en gaan toets dit weer.”

Hilda sê die bestanddele wat sy gebruik is ook maklik bekombaar en die boek is juis geskryf vir Suid-Afrikaners en die produkte wat hier beskikbaar is. “Toe my eerste allergieë-boek in 1998 uitgegee is, was dit nogal moeilik om soja-melk in die hande te kry. Iets soos klappermelk was regtig ook skaars. Vandag is daar ʼn groot verskeidenheid melk op die rak beskikbaar. Mens kan regtig vandag baie meer van die bestanddele op die rakke kry.”

Vir Hilda is haar boek nie ʼn mediese handleiding nie, maar sy meen ʼn verskeidenheid simptome word veroorsaak word deur voedselsensitiwiteit en haar boek sal help om te kyk of die kos wat jy eet, nie dalk die oorsaak is nie.

Hierdie boek, sê Hilda, is nie vir “siek mense” nie, maar vir enigiemand wat gebalanseerd en lekker wil eet. Daar is ʼn verskeidenheid resepte – van voorgeregte tot nageregte, elk ook met verskillende variasies.

Besoek gerus Tafeberg se webtuiste vir meer besonderhede oor Hilda se resepteboek.

Só beskerm jy jouself teen die son – ook in die winter

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Vergeet van ontwerpersandale en modieuse strandsakke. Enige vakansieganger wat al gebrand het in die Afrika-son, weet sonbeskermingsroom is ‘n verpligtebykomstigheid vir somer is. Maar die meeste mense besef egter nie jy moet jouself ook in die winter beskerm nie, veral as jy baie buite is.

Shari Lipner, dermatoloog by Weill Cornell Medicine en die NewYork-Presbyterian-hospitaal, sê jy moet eintlik daagliks sonskerm gebruik. “Dis nie slegs vir vakansies, die strand, sonnige dae of somer nie,” benadruk Lipner. Sonbeskermingsroom moet inderdaad ʼn elke-dag-bykomstigheid wees.

Maar watter sonbeskermingsroom? Lipner sê jou sonbeskermingsroom se sonbeskermingsfaktor (SBF) dui aan hoeveel beskerming dit teen die son bied. Sy sê SBF is egter nie die enigste ding om oor bekommerd te wees nie: “SBF meet slegs ʼn sonbeskermingsroom se vermoë om UVB-strale te blok.”

Wetenskaplikes was altyd onder die indruk UVB-strale is die enigste sonstrale wat bydra tot velkanker, maar dit het aan die lig gekom UVA-strale – die strale wat geassosieer word met sonbrand – ook gevaarlik is. Hierdie strale is minder intens, maar baie meer algemeen en dring dieper in die vel in. Wees dus op die uitkyk vir ʼn sonbeskermingsroom wat ʼn “breë spektrum”-beskerming bied sodat jy nie kwesbaar is vir UVA-strale nie.

En hoe gemaak met al die half-leë bottels wat in jou huis rondlê? Lipner sê jy moenie dit meng nie. “Mense dink jy kan SBF 15 en SBF 30 meng en dan SBF 45 kry, wat min of meer sin maak, maar nie as jy na die wetenskap daaragter kyk nie,” verduidelik sy. Om die SBF van ʼn sonbeskermingsroom-mengsel te bepaal, moet jy die aktiewe bestanddeel meet en ʼn hele paar berekeninge doen.

Indien jy sonbeskermingsroom meng, is die maksimum SBF wat jy sal kry, die hoogste uit die twee waarmee jy begin het. “En jy sal dit waarskynlik verdun,” voeg Lipner by. Indien die twee sonbeskermingsrome verskillende aktiewe bestanddele bevat om jou teen die son te beskerm, kan dit teen mekaar werk.

Die meeste mense gebruik ook net nie genoeg nie en daarom bied dit meer beskerming as jy sonbeskermingroom gebruik met ʼn hoër SBF.

Lees meer hier.


Laekoste-leefstylprogram om diabetes hok te slaan

$
0
0
Foto: Pixabay, stevepb

Foto: Pixabay, stevepb

deur Alec Basson

Volgens die Internasionale Diabetes-federasie was daar in 2015 ongeveer twee miljoen Suid-Afrikaners met diabetes, en bykans 57 318 mense het gesterf weens komplikasies wat met die siekte verband hou. Dié getalle dwing wetenskaplikes wêreldwyd om ʼn oplossing te vind en die siekte te beveg.

Een van die maniere om die siekte in veral arm of benadeelde gemeenskappe te bekamp, is deur professionele en gemeenskapsgebaseerde leefstylingryping, sê dr. Bradley Fryer, ʼn biokinetikus van Stellenbosch.

Fryer het in sy onlangse doktorsgraad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) gekyk na hoe ʼn laekoste-leefstylprogram kan help om diabetes in die Cloetesville-gemeenskap in Stellenbosch hok te slaan.

Hy sê hulle het op Cloetesville besluit omdat vorige navorsing getoon het voorvalle van diabetes is hoog in bruin gemeenskappe. Fryer wys ook daarop dat vorige studies die verband tussen ʼn laer sosio-ekonomiese status en ʼn hoër voorkoms van diabetes uitgelig het.

Fryer sê sy studie – die eerste omvattende program vir leefstylingryping in Stellenbosch en Suid-Afrika om op fisieke aktiwiteit, dieetbeplanning en psigososiale ondersteuning te fokus – het gewys dat ʼn 10 weke lange omvattende leefstylprogram die fisiologiese, sielkundige en gesondheidsverwante uitkomste in volwassenes met tipe 2-diabetes in arm of voorheen benadeelde gemeenskappe kan verbeter.

Foto: Pixabay, Tesa Photography

Foto: Pixabay, Tesa Photography

“Die studie het getoon dat ʼn holistiese en laekoste-program wat elke faset van die siekte teiken ʼn beter kans op sukses het. Dit wys ook hoe gemeenskapsgebaseerde ingryping die primêre gesondheidsorgsektor kan steun in die bestuur en voorkoming van diabetes.”

Altesaam 43 mans en vroue tussen 33 en 80 jaar het die program voltooi. Die program het bestaan uit 30 oefensessies met ʼn geregistreerde biokinetikus, 10 motiveringsonderhoud-sessies (een keer per week) met ʼn opgeleide gemeenskapsielkundige en 10 dieetberadingsessies met ʼn geregistreerde dieetkundige.

Deelnemers het drie keer per week vir ʼn uur geoefen en een keer per week ʼn dieetkundige geraadpleeg om hulle te help om gesond te eet. In bykans al die oefeninge (trapklim, muur-opstote, touspring) het hulle hul eie liggaamsgewig gebruik en ook op funksionele bewegings gefokus om hul aërobiese fiksheid, krag en soepelheid te verbeter. Die motiveringsonderhoude wou deelnemers help om diabetes die hoof te bied en strategieë in werking te stel om dit doeltreffend te bestuur.

“Deur middel van ons ingreep het deelnemers se eetgewoontes en leefstyl verander en is dit selfs gedurende die opvolgperiode gehandhaaf. Waar hulle voorheen baie suiker en verfynde koolhidrate ingeneem het, het hulle nou begin om volgraanbrood in plaas van witbrood te eet,” sê Fryer.

“Hul kardiovaskulêre vermoë het verbeter en hul liggaamsvet, bloedsuikervlakke en bloeddruk het afgeneem.

“Ons het dit alles aan die begin en einde van die 10 weke lange program gemeet, asook by nog ʼn sessie 10 weke ná die program.

“Deelnemers kon ook hul algehele loopafstand tydens ʼn ses-minute-staptoets verbeter. Hierdie toets word allerweë beskou as ʼn akkurate maatstaf om diabete se funksionele kapasiteit en algehele oefenvermoë te bepaal.”

Fryer sê die toets is voor en ná die program, en vir ʼn derde keer by die sessie wat 10 weke ná die program gehou is, gedoen.

Foto: Pixabay, Tesa Photography

Foto: Pixabay, Tesa Photography

“Een van die mees inspirerende verhale was dié van ‘n bejaarde vrou wat vroeër ʼn beroerte gehad het, en probleme met een arm ondervind het, maar deur middel van die oefeninge in staat was om dit weer te kon gebruik. ʼn Ander vrou was weer gelukkig met haar gewigsverlies.”

Fryer voeg by dat data van vraelyste en motiveringsonderhoude getoon het dat deelnemers se persepsies oor gesondheid en lewensgehalte, asook hul eiewaarde en selfdoeltreffendheid aansienlik verbeter het.

Hy sê die program het so ʼn positiewe impak gehad dat mense wat nie diabete was nie dit begin volg het.

“Die kerkgemeenskap het inligting oor die program versprei en familielede en vriende wat deelgeneem het, het ook daaroor begin praat.

“Gegewe die sukses van die program, wil ons graag die gemeenskap in beheer plaas en net help toesig hou en dit fasiliteer. Ons wil ook graag maatskappye betrokke kry.

“Maatskappye kan gerus nie net die program finansier nie, maar ook leerders uit die gemeenskap wat dalk sportwetenskap wil studeer en later by die program betrokke wil raak. Só sal hulle in staat wees om in die gemeenskap terug te ploeg en ook waardevolle werksondervinding op te doen.”

Fryer sê hulle sal graag in ʼn later stadium die leefstylprogram in samewerking met ander universiteite en maatskappye na ander Stellenbosse gebiede, soos Kayamandi, die Boland en selfs die res van die land wil uitbrei.

Hy voeg by dat sy betrokkenheid by die program vir eers beperk is as gevolg van sy verpligtinge in ʼn privaat praktyk, maar dat Kasha Dickie van die US se Departement Sportwetenskap die hooffasiliteerder is. Sy was ook betrokke by die program en ken die gemeenskap goed.

Gebrek aan kennis ’n ernstige bedreiging ten opsigte van kinderkanker

$
0
0
kinderkanker-kennis

Prof. David Stones en dr. Jan du Plessis van die
Universiteit van die Vrystaat se pediatriese
onkologiesaal help jong pasiënte, een
op ’n slag. Foto: Nonsindiso Qwabe

Volgens die Vrystaat se enigste twee pediatriese onkologiespesialiste is die gebrek aan insig en bewustheid van kinderkanker ’n groot probleem in die bestryding van dié siekte.

“Dit is frustrerend. Ouers en familielede weet niks daarvan nie. Verpleegsters en dokters is nie altyd klinies opgelei om die vroeë waarskuwingstekens raak te sien nie. Teen die tyd dat ’n diagnose gemaak word, is die kanse op lewe of dood 50%,” sê prof. David Stones, een van dié spesialiste.

Van die 23 pediatriese onkologiespesialiste in die land is Stones en dr. Jan du Plessis van die Universiteit van die Vrystaat die enigste twee in die provinsie.

Dié twee dokters, wat verbind is tot holistiese versorging van hul pasiënte, spesialiseer in alle soorte kinderkanker, waarvan leukemie, breinkanker en nefroblastoom die algemeenste is.

Hulle beskryf kinderkanker as ’n dodelike siekte met onvoorspelbaarheid as sy wreedste eienskap. “Met kanker weet jy nooit regtig nie. Dit presipiteer en vermeerder en lei tot die versaking van ander organe. ’n Mens kan maar net hoop en aanhou probeer,” sê Du Plessis.

Hulle eenheid, die pediatriese onkologie-eenheid van die Universitas- kkademiese hospitaal, is die besigste vloer in die hele gebou. Dit is ook die derde besigste eenheid in Suid-Afrika en bedien ’n bevolking wat strek oor die Vrystaat en Noord-Kaap, asook dele van Noordwes, Oos-Kaap en Lesotho.

Die eenheid kry elke jaar meer as 100 nuwe kinderkanker-pasiënte by. Die eenheid het in 2015 113 nuutgediagnoseerde pasiënte gehad, ’n toename van 93 in 2014.

Armoede, ’n gebrek aan hulpbronne, oorbevolking en ’n verskeidenheid gesondheidskwessies is ander faktore wat ’n diepgaande uitwerking op die diagnose en behandeling van die siekte het.

Om ’n bydrae te maak wat sal hou
Met die begeerte om ’n verbetering in die lewensresultaat van die gesondheidsektor te sien fokus die span daarop om die land se toekomstige dokters op te lei. Hulle eenheid is die enigste in die land wat mediese studente aktief by ’n onkologie-eenheid betrek en aan hulle praktiese ervaring en blootstelling gee in die individuele gevalle wat elke pasiënt bied. Hulle het ook ’n noemenswaardige hoeveelheid navorsingsliteratuur oor kinderkanker in Suid-Afrika as ’n ontwikkelende land geproduseer.

Gedryf deur passie vir ’n beter Suid-Afrika
Die dokters is passievol oor hulle werk en bly steeds hoopvol dat daar ’n verandering in die voorkoms van kinderkanker sal wees – nie net in verminderde vlakke van die siekte nie, maar ook in die algemene welstand van jong Suid-Afrikaners.

‘MIV-piesangs’ het mense op hol

$
0
0

Die foto wat by die berig versprei word.

Die foto wat by die berig versprei word.

Die departement van gesondheid het bewerings ontken dat MIV-besmette piesangs in Suid-Afrikaanse winkels verkoop het nadat berigte daaroor sommige mense op hol het.

ʼn Berig getiteld “BREAKING: Cheap HIV Infected Bananas Flood South African Supermarkets” word tans wyd op sosialemedia-platforms, soos Facebook en Twitter, sowel as die boodskapdiens, WhatsApp, gedeel.

In die berig op die webtuiste imzansi.co.za word beweer dit is nie veilig om piesangs wat in Durban, Johannesburg en Pretoria verkoop word, te eet nie, aangesien dit met MIV besmet is. Die berig beweer verder die inligting is deur die departement van gesondheid bekend gemaak.

Joe Maila, woordvoerder van die departement, het egter in ʼn verklaring gesê die bewering is “onwaar, kwaadwillig en boos”. Volgens Maila wil mense met die bewering onnodige paniek onder die publiek saai.

“Ons wil dit duidelik stel daar was nooit so ʼn waarskuwing op ons webtuiste nie. Prosedures is in plek om te verseker inligting wat op ons webtuiste gelaai word, is akkuraat en geverifieer deur beamptes van die departement. Sake van sulke openbare gesondheidsomvang word ook nie hanteer deur net ʼn mediaverklaring uit te reik nie. Die departement sal in so geval ʼn mediakonferensie reël om die publiek deeglik in te lig oor ʼn risiko.”

Die berig het ook beweer die ‘bose komplot’ is deur die Valke aan die lig gebring is en dit is die werk van “dr. Robert Galo, die Amerikaanse dokter wat oorspronklik die dodelike virus geskep het” en dat agt Suid-Afrikaanse dokters ook hierby betrokke was en reeds in hegtenis geneem is. Volgens die berig is die piesangs met bloed, wat MIV-positief getoets het, ingespuit.

Die webtuiste IMZANZI het al verskeie bogstories versprei, soos dat Oscar Pistorius presidensiële kwytskelding ontvang het en dat regter Thokozile Masipa se motor met ʼn petrolbom bestook is.

“Net die beste vir my kinders”

$
0
0
ouerskap-vaderskap

Foto: Dagon/Pixabay.com

Deur Lindie Strydom

Elke slim verkoopsman en geleentheidsontginner wat sy sout werd is, weet dit ook.  Daardie frase van “net die beste” is jou kaartjie in in die hart en beursie van brose ouers wat nagte wakker lê van bekommernis oor hoe help ek my kind uitstyg bo die massas. Niemand sal die skande van “nee dankie vir net die beste vir my bloedjie” oorleef nie.

Maar wat as my malle gejaag na “net die beste vir my kinders” op ʼn manier vir hulle kommunikeer en leer dit gaan oor “net die beste”, maar net vir hulle? En dis die verwronge verwagting en vereiste waarmee ek hulle uiteindelik die grootmenswêreld instuur:  “alles gaan oor jou – jy is geregtig op net die beste, net vir jou”.

En wat as ek in die proses van die naarstigtelike soeke na “net die beste vir my kinders” myself as die eintlike beste geskenk vir my kinders so saam met die vreugde en voorreg van ouerskap verloor?

Die werklike heel beste vir my kinders is om heel eerste te verstaan hierdie lewe gaan nie oor hulle nie en die wêreld kan onmoontlik nie om hul gerief en gemak draai nie. Ons pas almal in ʼn baie groter prentjie in. Ons gesin is ʼn oefenplek waar ons vyf leer om mekaar in ag te neem om uiteindelik buite die mure van ons huis ʼn positiewe bydrae te maak tot ʼn groter gemeenskap en ʼn groter doel!

Jannie Putter skryf in sy boek, Wenplan vir jou kind se lewe dat ouers motiveer nie hulle kinders nie – hulle inspireer deur hulle voorbeeld. Ek onthou ook hoe bemoedigend die woorde van ʼn Baba en Kleuter tydskrif artikel was toe my kinders nog klein was:  “As jy ʼn sonstraaltjie wil groot maak, wees ʼn sonstraaltjie!” of die aanhaling uit ʼn preek waarna my man luister:  “If you want to raise Godly children, be a Godly parent.”

Uit my ervaring in die gemeenskap, waar ek met soveel hopeloosheid te doen kry, weet ek ʼn hopelose ouer sukkel om hoopvolle kinders groot te maak en roepinglose ouers kan nie regtig kinders van ʼn God wat roep oortuig nie.

In al hierdie rolle en verantwoordelikhede as ouer, voel dit vir my eintlik makliker om eerste vir myself verantwoordelikheid te aanvaar deur self positief en hoopvol, doelgerig en gedissiplineerd te wees, as om te voel soos ʼn rasieleier wat nie regtig weet wat in iemand anders se kop en hart aangaan nie, maar hulle sover moet kry om wawiele van opgewondenheid te doen.

As jy die berge “beste” buitemuurse aktiwiteite vir jou kinders opsaal vir redes soos “ʼn geleentheid om hul talente te ontdek, karakter te bou, sosiale- en ander belangrike lewensvaardighede te ontwikkel, vir gesondheid, vir pret en sommer vir aandagafleibaarheid ook”, hoe lyk jou eie buitemuurse belangstellings om hierdie lang lys voordele ook in jou eie lewe te laat realiseer?

Wat doen jy vir jou brein en hart, gesondheid en geluk, vir jou vriendskappe en geestelike groei en sommer net vir die pret? Watter boeke lees jy, hoe lyk jou oefenprogram en wanneer raak jy stil? Het jy nog doelwitte wat jy najaag, hoe simpel dit ook al mag klink?

Ons verwaarlosing van onsself kan eintlik ons kinders met ʼn onregverdige skuldgevoel en verantwoordelikheid belaai, waar hulle nie kan bekostig om te “flop” nie, want dan flop my ma en pa, wat alles (op)gegee het sodat ek die beste kan hê en wees en doen, óók.

Ek moet mysef gereeld (hardop) herinner dat God selfs meer besorg is oor Paul en Hugo en Nina as wat ek is en eerder, ten spyte van my werk, as weens my. En al sal ek weer nie “Ma-van-die-jaar” in 2016 wees nie, is ek steeds God se eerste en beste plan vir ons kinders.  My beste bydrae is om die beste Lindie te wees wat ek kan wees as inspirasie vir hulle om ook die beste Paul, Hugo en Nina te wees tot verheerliking van God en tot voordeel van almal om hulle.

Geestesgesondheid: Die sleutelrol van oefening

$
0
0
geestesgesondheid-en-oefening

Foto: Verskaf.

Wêreld-geestesgesondheidsdag val in Oktober, en dié dag word gevier om bewusmaking te kweek dat daar wêreldwyd ’n geestesgesondheidsprobleem bestaan.

Luidens ’n verslag wat in 2014 in die Sunday Times geplaas is, sukkel ongeveer 17 miljoen Suid-Afrikaners met geestesgesondheid – waaronder dwelmmisbruik en depressie.

En, soos TimesLive berig, sal 75% van dié mense nooit gehelp word nie.

“Geestesgesondheid geniet nie die voorkeur wat dit verdien in Suid-Afrika nie. Daar is nog baie min navorsing daaroor gedoen, asook oor hoe dié probleem aangepak kan word,” sê Zane Wilson, direkteur van die Suid-Afrikaanse depressie-en-angs-stoornisgroep (Sadag).

Die navorsing wat wel bestaan, is weens farmaseutiese maatskappye wat ’n kitsoplossing in pilvorm belowe. Maar terwyl die hedendaagse samelewing die voordele van antidepressante besing, word ’n alternatiewe oplossing misgekyk: eenvoudige oefening.

Oefening stel endorfiene vry – natuurlike chemikalieë wat die “voel-goed”-gevoel in mense laat ontstaan. Die gevoel is vanselfsprekend nie permanent nie – so, as jy ’n dag se oefening misloop, sal jy heel waarskynlik weer in depressie verval.

Die kliniese sielkundige, James Blumenthal, beweer dat daar bewyse bestaan dat gereelde oefening depressie verlig.

Wat is die beste gedeelte van oefening? “Dit is natuurlik,” sê Ivana Buchanan, nasionale groepfiksheidsbestuurder van Zone Fitness.

“Of dit nou tydelike angs- en stresaanvalle is, of chemiese wanbalanse wat tot depressie en AGHS ly, mense vergeet dat oefening ’n wonderlike stresverligter is wat met herhaling langtermyn-geluk bevorder.”

Die wetenskap stem saam. ’n Verslag wat in 2006 deur die nasionale sentrum vir biotegnologie-inligting in Amerika uitgereik is, bevind dat “aërobiese oefening – waaronder draf, swem, fietsry, stap, tuinmaak en dans – angs en depressie verminder”.

’n Soortgelyke verslag in dieselfde publikasie stel die hipotese dat oefening ’n “afgeskeepte” oplossing in geestesgesondheidsorg is. Hoekom? Omdat die hoofstroom van die mediese bedryf dit nie erken as ’n doeltreffende kuur nie.

Die farmaseutiese bedryf in Amerika sorg vir groot besigheid en die verkoop van antidepressante het vanaf 1988 tot 2008 met 400% vermeerder.

Dit wil nie sê dat Amerikaners geheel en al die tou ingooi wanneer dit by oefening kom nie. Die Amerikaanse publikasie, The Atlantic, het die werk van Madhukar Trivedi, ’n professor in psigiatrie in Dallas, sorgvuldig aangeteken.

Wat is Trivedi se oplossing? Drie tot vyf oefensessies per week, 45-60 minute elk, en die pasiënt moet 50-85% van sy maksimum hartklop bereik.

“Mense sal nie die siekte en behandeling ligtelik opneem as hulle weet ’n antidepressant is nie op pad nie,” sê Trivedi.

Baie navorsers sê ook dat antidepressante glad nie werk nie – veral nie in ligte gevalle nie. ’n Studie wat in 2010 in The Journal of the American Medical Association geplaas is, stel voor dat antidepressante net so ondoeltreffend is soos plasebo’s wat gebruik word om ligte tot matige depressie in mense te behandel.

Die Suid-Afrikaanse farmaseutiese bedryf is wel baie kleiner as dié in Amerika, maar daar is ’n tendens wat ontstaan om oor-voorskriftelik met geestesgesondheidskwessies om te gaan. Soms kan ’n deeglike oefenprogram die oplossing wees!

Buchanan stem saam. “In Suid-Afrika is dit van sleutelbelang dat ons oefening moet bevorder as ’n gesonde byvoeging tot ’n gebalanseerde leefstyl.” En met meer as 100 000 lede, het sy eersterangs die voordele van ’n gereelde gimprogram in kliënte se lewe gesien.

“Oefening is ’n veilige, gesonde manier om jou algehele welstand te bevorder.”

  • Die artikel is nie ’n plaasvervanger vir ingeligte mediese raad nie. Raadpleeg altyd jou dokter voordat jy jou dieet verander of met ’n nuwe oefenprogram begin.
Viewing all 116 articles
Browse latest View live