ʼn Berig getiteld “BREAKING: Cheap HIV Infected Bananas Flood South African Supermarkets” word tans wyd op sosialemedia-platforms, soos Facebook en Twitter, sowel as die boodskapdiens, WhatsApp, gedeel.
In die berig op die webtuiste imzansi.co.za word beweer dit is nie veilig om piesangs wat in Durban, Johannesburg en Pretoria verkoop word, te eet nie, aangesien dit met MIV besmet is. Die berig beweer verder die inligting is deur die departement van gesondheid bekend gemaak.
Joe Maila, woordvoerder van die departement, het egter in ʼn verklaring gesê die bewering is “onwaar, kwaadwillig en boos”. Volgens Maila wil mense met die bewering onnodige paniek onder die publiek saai.
“Ons wil dit duidelik stel daar was nooit so ʼn waarskuwing op ons webtuiste nie. Prosedures is in plek om te verseker inligting wat op ons webtuiste gelaai word, is akkuraat en geverifieer deur beamptes van die departement. Sake van sulke openbare gesondheidsomvang word ook nie hanteer deur net ʼn mediaverklaring uit te reik nie. Die departement sal in so geval ʼn mediakonferensie reël om die publiek deeglik in te lig oor ʼn risiko.”
Die berig het ook beweer die ‘bose komplot’ is deur die Valke aan die lig gebring is en dit is die werk van “dr. Robert Galo, die Amerikaanse dokter wat oorspronklik die dodelike virus geskep het” en dat agt Suid-Afrikaanse dokters ook hierby betrokke was en reeds in hegtenis geneem is. Volgens die berig is die piesangs met bloed, wat MIV-positief getoets het, ingespuit.
Die webtuiste IMZANZI het al verskeie bogstories versprei, soos dat Oscar Pistorius presidensiële kwytskelding ontvang het en dat regter Thokozile Masipa se motor met ʼn petrolbom bestook is.