Deur Lindie Strydom
Elke slim verkoopsman en geleentheidsontginner wat sy sout werd is, weet dit ook. Daardie frase van “net die beste” is jou kaartjie in in die hart en beursie van brose ouers wat nagte wakker lê van bekommernis oor hoe help ek my kind uitstyg bo die massas. Niemand sal die skande van “nee dankie vir net die beste vir my bloedjie” oorleef nie.
Maar wat as my malle gejaag na “net die beste vir my kinders” op ʼn manier vir hulle kommunikeer en leer dit gaan oor “net die beste”, maar net vir hulle? En dis die verwronge verwagting en vereiste waarmee ek hulle uiteindelik die grootmenswêreld instuur: “alles gaan oor jou – jy is geregtig op net die beste, net vir jou”.
En wat as ek in die proses van die naarstigtelike soeke na “net die beste vir my kinders” myself as die eintlike beste geskenk vir my kinders so saam met die vreugde en voorreg van ouerskap verloor?
Die werklike heel beste vir my kinders is om heel eerste te verstaan hierdie lewe gaan nie oor hulle nie en die wêreld kan onmoontlik nie om hul gerief en gemak draai nie. Ons pas almal in ʼn baie groter prentjie in. Ons gesin is ʼn oefenplek waar ons vyf leer om mekaar in ag te neem om uiteindelik buite die mure van ons huis ʼn positiewe bydrae te maak tot ʼn groter gemeenskap en ʼn groter doel!
Jannie Putter skryf in sy boek, Wenplan vir jou kind se lewe dat ouers motiveer nie hulle kinders nie – hulle inspireer deur hulle voorbeeld. Ek onthou ook hoe bemoedigend die woorde van ʼn Baba en Kleuter tydskrif artikel was toe my kinders nog klein was: “As jy ʼn sonstraaltjie wil groot maak, wees ʼn sonstraaltjie!” of die aanhaling uit ʼn preek waarna my man luister: “If you want to raise Godly children, be a Godly parent.”
Uit my ervaring in die gemeenskap, waar ek met soveel hopeloosheid te doen kry, weet ek ʼn hopelose ouer sukkel om hoopvolle kinders groot te maak en roepinglose ouers kan nie regtig kinders van ʼn God wat roep oortuig nie.
In al hierdie rolle en verantwoordelikhede as ouer, voel dit vir my eintlik makliker om eerste vir myself verantwoordelikheid te aanvaar deur self positief en hoopvol, doelgerig en gedissiplineerd te wees, as om te voel soos ʼn rasieleier wat nie regtig weet wat in iemand anders se kop en hart aangaan nie, maar hulle sover moet kry om wawiele van opgewondenheid te doen.
As jy die berge “beste” buitemuurse aktiwiteite vir jou kinders opsaal vir redes soos “ʼn geleentheid om hul talente te ontdek, karakter te bou, sosiale- en ander belangrike lewensvaardighede te ontwikkel, vir gesondheid, vir pret en sommer vir aandagafleibaarheid ook”, hoe lyk jou eie buitemuurse belangstellings om hierdie lang lys voordele ook in jou eie lewe te laat realiseer?
Wat doen jy vir jou brein en hart, gesondheid en geluk, vir jou vriendskappe en geestelike groei en sommer net vir die pret? Watter boeke lees jy, hoe lyk jou oefenprogram en wanneer raak jy stil? Het jy nog doelwitte wat jy najaag, hoe simpel dit ook al mag klink?
Ons verwaarlosing van onsself kan eintlik ons kinders met ʼn onregverdige skuldgevoel en verantwoordelikheid belaai, waar hulle nie kan bekostig om te “flop” nie, want dan flop my ma en pa, wat alles (op)gegee het sodat ek die beste kan hê en wees en doen, óók.
Ek moet mysef gereeld (hardop) herinner dat God selfs meer besorg is oor Paul en Hugo en Nina as wat ek is en eerder, ten spyte van my werk, as weens my. En al sal ek weer nie “Ma-van-die-jaar” in 2016 wees nie, is ek steeds God se eerste en beste plan vir ons kinders. My beste bydrae is om die beste Lindie te wees wat ek kan wees as inspirasie vir hulle om ook die beste Paul, Hugo en Nina te wees tot verheerliking van God en tot voordeel van almal om hulle.